
Lord Alfred Milner, die humorlose verpersoonliking van Britse imperialisme. Hy het hom nie gesteur aan die raad wat een van sy hoofde, Hicks Beach, hom gegee het nie: “Geduld is die heel belangrikste. Ons probleme in Suid Afrika is die gevolg van ongeduld.”
Die Suid-Afrikaanse Oorlog het die Engels-Afrikaans-verdeling onder wittes verskerp. Die Afrikaners in die republieke was verskeurd tussen die bittereinders en die joiners, en in die Britse kolonies tussen die rebelle en die lojaliste, wat tot groot bitterheid binne gemeenskappe en selfs binne gesinne gelei het. Onder die Engelssprekendes in die Kaap het imperialistiese en anti-imperialistiese gesindhede spanning veroorsaak. Gedurende die oorlog is verskille tussen die werkersklas en kapitaliste deur die botsing tussen Boere- en Britse belange oorskadu, maar klassespanning het spoedig weer na vore gekom. Daar was ook godsdiens-, kultuur-, ras-, stand- en taalverwantskappe wat oor staatsgrense heen gestrek het. Uit al hierdie elemente moes daar nou ’n stabiele samelewing en ekonomie opgebou word.
Die yslike taak om die twee kolonies weer op die been te kry, is deur uitvoerende rade bestaande uit die hoofde van departemente onderneem, onder beheer van die hoë kommissaris, lord Alfred Milner, en die luitenant-goewerneurs. Milner se gesag was ondergeskik aan dié van die staatsekretaris vir die kolonies, Joseph Chamberlain (tot September 1903, en sy opvolger, Alfred Lyttelton), asook aan die kabinet in Londen.
Milner het besef dat die oorwinning oor die Boererepublieke en die vestiging van Britse heerskappy in Transvaal en die Oranjerivierkolonie nie noodwendig beteken het dat die burokratiese, landboukundige, ekonomiese en maatskaplike komponente van die Britse opvatting van heerskappy sou triomfeer en van Suid-Afrika ’n doeltreffende skakel in die imperiale ketting sou maak nie. Ná die oorlog was die prioriteite van die Britse heersers om die verwoesting van die oorlog ongedaan te maak, ekonomiese herstel te bewerkstellig en die voordele van die oorwinning te konsolideer. Milner se bewind wou die onderbou verskaf waarop ’n stabiele, doeltreffende kapitalistiese samelewing en ekonomie gebou kon word wat ’n bate eerder as ’n las vir die ryk sou wees. Daarvoor was die lojaliteit of die gedienstigheid van die eertydse vyande noodsaaklik.
Milner het swaar gesteun op ’n groep begaafde, maar onervare en dikwels arrogante jong Oxford-geleerdes wat as die Kindergarten bekend gestaan het en deur sy siening van imperialisme begeester is. Lede van die Kindergarten het groot erkenning gekry vir hul werk in Suid-Afrika, maar hul invloed word bes moontlik oordryf of geromantiseer. Baie Boere het hulle in ’n ander lig gesien. Die Cambridge-geleerde Smuts, wat aan die einde van die oorlog self pas 32 was, het snedig opgesom wat die Kindergarten vir Milner beteken het: ‘‘dis tog so gerusstellend om jou eie klein kindertuin poppespel te hê – alles, net vir jou, beweeg rond hoe jy ook al wil, vra geen ongemaklike vrae nie, maak geen oproerige geluide nie . . . Dit is hoedat ons hier geregeer word deur die ‘allerfynste keur van universiteitsgeleerdheid’.’’
Die eerste taak van Milner se administrasie was om die volgende groepe mense na hul tuiste terug te bring: 31 000 Boerekrygsgevangenes (van wie die meeste in oorsese kampe was), 116 000 wit en 115 000 swart konsentrasiekampbewoners, 50 000 Uitlanders, 21 000 bittereinders wat die wapen binne drie weke ná die ondertekening van die vredesverdrag neergelê het en 5 400 joiners, sowel as onbepaalde duisende swart en bruin mense wat in diens van die Britse leër was. Die brute logistiek van hierdie hervestigingsoefening het geweldige probleme opgelewer, en die totale koste van die repatriasie en hervestiging het £16 500 000 beloop.

Die triomf van imperialisme? ’n Juigende skare in Londen ná die beëindiging van vyandelikhede in die Suid-Afrikaanse Oorlog.
Die £3 miljoen sogenaamde kompensasiegeld om geruïneerde boere te help, het meer wrewel veroorsaak as wat verwag is. Om geld op grond van oorlogsverliese toe te ken, was ’n komplekse saak wat vererger is deur die feit dat hensoppers en joiners ook op hulp uit ’n bykomende reserwefonds aanspraak kon maak. ’n Verergde Milner het later uitgeroep: ‘‘Oor die algemeen was kompensasie ’n vloek eerder as ’n seën. Jy gee ’n man ’n pond, en dan haat hy jou daarvoor, want hy het vir vier gevra en vir twee gehoop, en al sy bure wat niks gekry het nie, haat jou net soveel.’’ Die algemene ontevredenheid oor kompensasie het die verdeeldhede onder die Boere laat vervaag, want nou het hulle weer ’n gemeenskaplike vyand in die Engelse gehad.
Teruggekeerde Boere het ernstige probleme gehad wat te bowe gekom moes word. Die Britse kolonnes het byna alle opstalle, damme en heinings vernietig en die vee uitgeroei. Baie swart plaaswerkers in albei die nuwe kolonies het geweier om die plase te verlaat wat hulle gedurende die oorlog bewoon en bewerk het – iets wat die Britte oogluikend toegelaat het. Louis Botha het berig dat toe hy na sy plaas in die Vryheid-distrik terugkeer, swart bewoners vir hom gesê het om te loop omdat hy niks daar te make het nie. Vanaf die einde van die oorlog het die owerhede die South African Constabulary, wat as ’n polisiemag opgetree het, gebruik om swart mense te ontwapen. Die wit grondbesittersklas het sy oorhand oor die platteland gaandeweg herwin, veral omdat die Milnerregime eiendomsregte gewaarborg en die feit beklemtoon het dat die oorlog nie die heer-en-meester-verhouding verander het nie.
In die naoorlogse periode het daar egter in sowel Transvaal as die Oranjerivierkolonie beduidende veranderings in die landelike ekonomie ingetree. Sommige swart kleinboere was aanvanklik in staat om die omstandighede tot hul voordeel te benut. Die historikus Tim Keegan het getoon dat baie Sotho onmiddellik ná 1902 in ‘‘’n tipe koloniseringsbeweging oor die Caledon’’ betrokke geraak het, aangesien ‘‘die wit boere enige swart gesin met vee en toerusting waarmee daar geploeg en gesaai kon word, met ope arms verwelkom het’’. Dit was veral in hierdie bewerkbare oostelike dele van die Oranjerivierkoloni dat swart deelboerdery tydelik die standaardstelsel geword het. Dit het wit boere in staat gestel om weer te begin produseer, en swart kleinboere om te gedy.
Milner het gehoop dat aansienlike getalle Engelssprekende setlaars sou intrek en in die voormalige republieke sou kom boer. Mynmaatskappye wat groot lappe aarde besit het, het hierdie gedagte gesteun. Daar was egter nie ’n beduidende binnekoms van Engelssprekende immigrante wat teen die Afrikaners se getalsoorwig in die nuwe kolonies kon opweeg nie (nie veel meer as 1 000 gesinne het gekom nie). Die Burgher Land Settlement Scheme, wat daarop ingestel was om wit bywoners ‘‘deelboere van die staat’’ te maak, het ook nie veel bereik nie. Armblankes het na die stede bly stroom deurdat hul landelike heenkome deur die oorlog vernietig is, veral weens die verskroeide-aardebeleid van die Britse magte.
Milner se onderwysbeleid kon ook nie daarin slaag om pro-Britse sienswyses te laat posvat nie. Hy en sy direkteur van onderwys, E.B. Sargant, het bepaal dat Engels die onderrigmedium in staatskole in Transvaal en die Oranjerivierkolonie sou wees, terwyl Neder lands as ’n vak onderrig sou word. Voornemende onderwysers is gevra om ‘‘hul beste pogings aan te wend om alle Boere met hul nuwe posisie as burgers van die Britse Ryk te versoen’’. Die kurrikulum het ’n sterk imperialistiese partydigheid getoon.
Hierdie onderwysbeleid was nie besonder doeltreffend nie en is teengewerk deur die Christelik-Nasionale onderwysbeleid en praktyk van die private skole wat deur die Boereleiers gestig is. Nog belangriker was die feit dat onderwys nie verpligtend was nie: in 1905 was daar in Transvaal 28 500 wit kinders in staatskole, terwyl die aantal in private skole 9 000 was; meer as 25 000 wit kinders was glad nie in ’n skool ingeskryf nie.
Die Boere se politieke herlewing
Die eerste Suid-Afrikaanse sensus







