
Die lewe in ’n trekarbeiderhostel. Mynwerkers moes kamers deel met soveel as twaalf van hul makkers en nog plek in die beknopte ruimte vind vir omtrent al hul aardse besittings.
Die vernaamste wit politieke partye het steeds die hersenskim van ’n ‘‘witmansland’’ nagejaag. Swart mense het toenemend ’n stedelike aanwesigheid geword. Teen 1912 was daar reeds 420 000 swart inwoners in die dorpe en stede in die gemeenskaplike of ‘‘wit gebied’’, dus ’n derde van Suid-Afrika se stedelike bevolking en 13% van die totale swart bevolking. Krotbuurte het vinnig in die buitewyke van die stede verrys. Die wit munisipaliteite het die krotonder: buurte op ’n planlose manier bestuur en gewoonlik ’n wins daaruit gemaak terwyl die bewoners self min in ruil vir hul huurgeld en belasting gekry het. Ernstige siektes soos tuberkulose het ’n ideale broeiplek in die ongesonde en stampvol bousels gevind.
Smuts kon dit nie rym met sy idee dat die wittes as trustees vir die swartes behoort op te tree nie. ‘‘Die naturelle het sonder sorg na ons stede gekom,’’ het hy gesê. ‘‘Hulle het ons siektes opgedoen, en gevind dat ons wit beskawing vir hulle ’n vloek is . . . Die Naturellevraagstuk is so groot. Ons weet so min daarvan.’’ Hy het geglo dat behoorlike behuising en behoorlike beheer oor swart mense in die stedelike gebiede ’n verpligting van die staat is. Indien dit hierdie verpligting sou aanvaar, sou Suid-Afrika ‘‘een van die grootste skandvlekke wat op ons beskawing rus’’, verwyder.
Ondertussen was verdere druk vir segregasie aan die opbou. In 1922 het ’n kommissie vir plaaslike regering in Transvaal onder een van die bekendste Engelssprekende voorstanders van segregasie, kol. C.F. Stallard, voorgestel dat swart mense in die stedelike gebiede slegs nodig is om ‘‘in die behoeftes van die wittes’’ te voorsien en dat hulle uit die stede moes padgee sodra hulle ‘‘opgehou het om hierin te voorsien’’.

F.S. Malan, ’n vooraanstaande Kaapse liberaal. In 1936 het hy voorgestel dat die Kaapse gekwalifi seerde swart stemreg uitgebrei word na die ander provinsies. “Hou een standaard vir die kieser, maak die toets so hoog soos jy wil, maar as die man daardie standaard bereik, moenie ’n onderskeid maak nie; behandel hom soos ’n regmatige burger van die land,” het hy geargumenteer.
Smuts het op die oordeel van sy vriend en ’n toonaangewende Kaapse liberaal, F.S. Malan, staatgemaak, wat die minister van mynwese was en waarskynlik die leiding geneem het in die wetsontwerpe oor stedelike swartes wat tussen 1917 en 1923 aanvaar is. Malan het van die veronderstelling uitgegaan dat swartes gesamentlik nie ’n bedreiging is nie. Hy het ’n visie gehad van ‘‘naturelledorpies’’ waar swart mense wat ‘‘beskaafd was, tuis kon voel en kon ontwikkel’’. Vanweë hul aandeel aan die status quo kon hulle ’n bolwerk teen arbeidsonrus en politieke agitasie vorm.
Omdat Smuts self in ‘‘klassewetgewing’’ geglo het, het hy vir Malan toegelaat om in hierdie trant te praat. Sodanige wette het ’n onderskeid gemaak tussen die ‘‘gewone naturel’’ wat nog nie ‘‘uit die barbaredom verrys’’ het nie, en die meer ‘‘gevorderde’’ swart mense wat in hul eie dorpies oor hul eie maatskaplike probleme beheer kon oorneem. Die Wetsontwerp vir Naturelle Stedelike Gebiede wat die Smuts-regering in 1923 aan ’n raadgewende naturellekongres voorgelê het, het in die vooruitsig gestel dat gevestigde swartes vrypageiendom sou kon bekom.

J.B.M. Hertzog, wat die Nasionale Party in 1913 in Bloemfontein gestig het. In sy eerste termyn as eerste minister, van 1924 tot 1929, het sy party die grondslag gelê vir die semistaatsektor in Suid-Afrika met die skep van Yskor (vir die vervaardiging van staal) em Eskom (as elektrisiteitsverskaffer). Saam met Jan Smuts, die leier van die Suid-Afrikaanse Party, het Hertzog die Verenigde Party gestig wat in 1936 die wetsontwerp voorgestel het wat swart kiesers in die Kaapprovinsie van die stemreg ontneem het en die reservate se grondgebied verdubbel het.
Maar die wit politiek het die stadium bereik waar enige sodanige verbetering gesien sou word as ’n ondergrawing van die aanspraak op ’n witmansland. Hertzog het hierdie aanspraak in 1922 uitgestippel: ‘‘Die [naturel] kry sy eie gebied waar alle regte aan hom toegestaan sal word. Hy kan in ons land woon, maar hier kan hy op geen regte aanspraak maak nie. Die teenoorgestelde is ook waar.’’ Indien swart mense vrypageiendom sou verkry, waardeur hulle ‘‘witmansland’’ sou bekom, sou hulle spoedig ‘‘die wit man se stemreg’’ eis. Dit sou ‘‘’n kwessie van lewe en dood vir die blanke beskawing’’ wees. Smuts het ingegee en die bepaling wat eiendomsreg toeken, is uit die wetsontwerp verwyder. Dit is aanvaar en as die Wet op Naturelle Stedelike Gebiede gepromulgeer.
Swart woongebiede het ’n verwaarloosde stiefkind van stedelike administrasie gebly. Om skande by skade te voeg, het die wet die formule aanvaar wat eerste deur die munisipaliteit van Durban ontwikkel is om die woonbuurte te finansier. Die vernaamste bron van inkomste was die opbrengs uit die verkoop van sorghumbier aan mense wat dié produk nêrens anders kon koop nie. Hoe meer die swart mense gedrink het, hoe meer geld sou daar vir behuising en ander noodsaaklikhede wees.
Die Uniegrondwet van 1909, die Naturelle Grond Wet van 1913 en die Wet op Naturelle Stedelike Gebiede van 1923 was vir die res van die eeu die grondslag van die beleid jeens swart mense. Die Naturelle Grond Wet was van die allergrootste belang. Aangesien dit geen nuwe grond beskikbaar gemaak het nie, het die reservate gou oorbevolk geraak, en die beperkte geleenthede vir individuele eiendomsbesit is verder deur die tradisionele Afrika-steun vir gemeenskaplike eiendomsbesit aan bande gelê.
Onder party van die meer liberale wittes het die geloof bly voortbestaan dat indien die swartes meer grond sou kry, hulle dié beleid sou aanvaar. In 1923 het Selby Msimang van die African National Congress gesê dat swart mense met gebiedsegregasie tevrede sou wees indien die Naturelle Grond Wet die helfte van die grond in die land vir swart besit sou afstaan. Maar teen hierdie tyd het elke wit leier geweet dat om die helfte of selfs ’n kwart van die grond aan die swartes te gee, ’n geweldige politieke prys sou verg. Die wittes het gaandeweg selfs begin glo dat sowat 90% van Suid-Afrika ‘‘witmansland’’ was.




