Naoorlogse Krisisse

In die nadraai van die Eerste Wêreldoorlog het die jong Suid-Afrikaanse staat sy mees kritieke fase ingegaan. Die land se veiligheidsdienste was nog swak en verdeeld, en die ekonomie het gestagneer. Tussen 1920 en 1923 het die bruto binnelandse produk in geldwaarde afgeneem, met byna geen toename in nywerheidsuitset nie. Die nywerheidsektor en die spoorweë het poste verloor. Terselfdertyd was daar, vergeleke met die eerste twee dekades van die eeu en veral vanweë die geboortegolf wat op die Suid-Afrikaanse Oorlog gevolg het, tussen 1921 en 1926 ’n toename van 50% in die aantal wit jeugdiges wat tot die arbeidsmark toegetree het. Werkloosheid onder wit mense het skerp toegeneem. In Johannesburg was daar na skatting 3 000 gesinne wat op die rand van hongersnood geleef het. Om sake te vererger het weghol-inflasie tussen 1917 en 1920 pryse met tot 50% laat styg.

Die myne was die kruitvat. Groot getalle immigrantemynwerkers het na Europa teruggekeer om in die Eerste Wêreldoorlog te gaan veg, en op dié manier is ’n ouer en meer konserwatiewe element uit die plaaslike arbeidsmag verwyder. Teen 1918 het Afrikaners die meerderheid uitgemaak van die wittes wat die gevaarlike ondergrondse werk gedoen het. Dit het spoedig geblyk dat hulle die mees radikale groep was wat die myne nog in diens geneem
het. In 1920 het die Suid-Afrikaanse Party (SAP) die Unionisteparty geabsorbeer, wat sterk deur die mynmaatskappye gesteun is. Die gevolg was dat die kloof tussen die werkers en die regering verbreed het. Genl. Jan Smuts, wat in 1919 eerste minister geword het toe genl. Louis Botha in die tuig gesterf het, het ná sy lang afwesigheid tydens die Eerste Wêreldoorlog gesukkel om op dreef te kom. Hy het hom spoedig tot sulke strawwe maatreëls gewend dat genl. J.B.M. Hertzog, nadat Smuts in 1922 die staking aan die Witwatersrand onderdruk het, gesê het dat sy voetstappe ‘‘van die bloed drup’’.

Stakings en die opstand van 1922 aan die Rand

Bulhoek en die Bondelswarts

Die SANNC/ANC en ICU

Comments are closed.