Bruines: tussen swart en wit

A rural coloured woman

’n Plattelandse bruin vrou bak brood in ’n tradisionele klei-oond. Die meeste bruin mense was ongeskoolde werkers op plase. Vakunies het in die reël nie bruin lede aanvaar nie, en geskoolde bruin werkers het minder as die helfte van hul wit eweknieë verdien. Daar was feitlik geen senior bruin bestuurders in die staatsdiens nie, en baie min in die professies. Bruin onderwysers, verpleegsters en polisiemanne het diskriminasie met salarisse en pensioene ondervind. Bruin vroue, wat meesal huiswerk gedoen het, se lone was besonder laag.

Die bruin mense was ’n uiteenlopende gemeenskap. Aan die een kant was daar die plaasarbeiders, huiswerkers en ongeskoolde arbeiders in die dorpe, wat oor die algemeen swak betaal is, en aan die ander kant ’n dun lagie geskoolde arbeiders en ’n handjie vol beroepslui, meestal onderwysers. Dié wat ná die vrystelling van die slawe daarin kon slaag om te verstedelik, het onderwys as die vernaamste roete gesien om aan armoede te ontkom.

Kerk- en sendingskole het byna die volle verantwoordelikheid vir die bruin onderwys gedra. Alhoewel die Kaapkolonie ’n nierassige grondwet gehad het, is daar op ’n klassegrondslag omvattend teen mense gediskrimineer. In 1865 het die regering nie-kerkskole gestig, wat op ’n pond-vir-pond-grondslag gefinansier is. Gevolglik was die skole geldelik veel beter daaraan toe, maar vanweë die armoede van die bruin bevolking kon baie min van hulle dit bekostig om hierdie skole by te woon. Die nie-kerkskole het oorwegend wit geword, terwyl byna alle bruin en swart kinders na sendingskole gegaan het wat gratis was of baie min skoolgeld gevra het.

Teen 1885 was slegs 2% van die kinders in sendingskole in klasse hoër as standerd vier. Aangesien die skole gratis was of slegs min skoolgeld gevra en min staatshulp ontvang het, het die gehalte van die onderwys daaronder gely. Gesegregeerde onderwys het voortgeduur, en teen die tyd dat die Unie tot stand gekom het, was daar net drie nie-kerkskole vir bruin leerders in Kaapstad se omgewing.

A yard in Vrededorp, Johannesburg

’n Agterplaas in Vrededorp, Johannesburg, waar baie Afrikanerwerkers in die 1930’s gewoon het. Talle Afrikanermeisies moes help om hul gesinne te onderhou en kon dikwels net ’n agterplaaswoonplek bekostig. E.S. (Solly) Sachs, ’n kommunis en die sekretaris van die Klerewerkersunie, was van mening dat die lewensomstandighede van sommige van dié jong Afrikanervroue van die swakste ter wêreld was.

By die bruin mense was die aandrang nie soseer op geïntegreerde skole nie as op gelyke staatsbesteding aan wit en bruin skole en verpligte onderwys vir almal. In albei opsigte is hulle teengestaan. In 1905 het die Progressiewe onder Leander Starr Jameson verpligte en gratis onderwys in die Kaap slegs vir wit kinders ingevoer. In 1922 het ’n groep bruin onderwysers wat moed opgegee het dat daar ooit gelykheid sou wees, vir ’n staatsubsidie gevra van minstens die helfte van die bedrag wat wit kinders ontvang het. Die SAP-regering het die versoek geweier en gesê dat hy eers na die wittes moes omsien en dat die bruines hul beurt moes afwag.

Daar was ander swaar slae in die eerste tien jaar ná Uniewording. Die ekonomiese status van die bruin gemeenskap is deur ’n aantal wette ondermyn wat daarop gemik was om wit bo swart in die wedloop om werk te bevoordeel. Een van die mees openlik diskriminerende wette was die Mijnen en Bedrijven Wet van 1911 ingevolge waarvan ’n groot verskeidenheid geskoolde en halfgeskoolde arbeidskategorieë in die myne en nywerhede vir wittes gereserveer is. In 1921 is die Jeugsakewet ingestel om wit jeugdiges in gepaste werk te plaas, terwyl die Vakleerlingskapwet van 1922

Workers in the multiracial textile industry

Vrouewerkers in die veelrassige klerebedryf. ’n Meisie van 18 jaar wat ’n gesin van agt met ’n loon van £1 2s.6d. ondersteun het, het aan ’n navorser gesê: “Ons sukkel baie om die huis aan die gang te hou . . . Baie keer as ek by die huis kom, voel ek te moeg om enigiets op te tel.” Die voorwaardes vir siekteverlof en swangerskap was baie straf. Die vakunieleier Solly Sachs, wat daarin geslaag het om wit en bruin vroue in een nierassige unie te verenig, het aansienlike voordele vir sy lede beding. Van die leiers van die Afrikaner-Broederbond in Johannesburg wou die Afrikanervroue op rassegrondslag organiseer, maar ’n vakunielid het hul lomp benadering veroordeel: Hulle sê hulle “het eerbied” vir die vroue, maar jong meisies in die agterbuurte van die groot stede soek hulp om werk te kry en beskerming teen uitbuiting, nie “eerbied” nie. Kommunistiese aktiviste het doelgerig Afrikanerwerkers by hul bedrywighede probeer betrek. Soos een van hulle dit gestel het: “Ons moet die Afrikanerdom aan ons kant kry . . . hulle moet leer om te kies tussen kommunisme en armblankedom.”

vakleerlingskappe buite die bereik van die meeste bruin jeugdiges geplaas het deur te bepaal dat standerd ses in 41 ambagte as ’n minimum kwalifikasie vir toelating sou geld. Dit was ’n opvoedkundige intreevlak wat deur slegs ’n hand vol bruin skole bereik is, maar wat binne die minimum onderwysstandaard vir wit skole geval het. Die Loonwet van 1925, ’n hoeksteen van die beleid van ‘‘beskaafde arbeid’’, het die moontlikheid dat bruin arbeid laer lone as die wittes kon eis, uitgeskakel deur hoë minimum loonvlakke in sleutelbedrywe te bepaal.

Teen die vroeë jare dertig is die bruin gemeenskap deur al hoe groter armoede en ’n toenemende politieke moedeloosheid gekenmerk. Aangesien verreweg die grootste deel van hierdie maatskaplike groep uit plaaswerkers en ’n vertrapte stedelike proletariaat bestaan het, het die Groot Depressie ’n ongelykmatige tol aan ekonomiese swaarkry geëis. Daarbenewens is die bruin mense, met inbegrip van die opgevoede lae, ernstig deur die Pakt-regering se beleid van “beskaafde arbeid” benadeel – ondanks beloftes dat hulle daarby sou baat vind deur by die definisie van ‘‘beskaafd’’ ingesluit en saam met die wittes teen swart mededinging beskerm sou word.

’n Wit vel het ’n beter aanbeveling vir ’n werk geword as bekwaamheid. Armblankes het begin om beduidende getalle geskoolde en halfgeskoolde werkers wat nie wit was nie, te vervang, veral in die openbare sektor. Beter gekwalifiseerde bruin skoolverlaters het dit gaandeweg moeiliker gevind om geskikte werk te kry. Die gepolitiseerde bruin elite wat hul hoop op aanvaarding in die dominante gemeenskap geplaas het, is in 1930 ’n lae hou toegedien toe slegs wit vroue die stemreg gekry het.

Die onmiddellike gevolg van hierdie wetgewing was om die bruin stem van 12,3% van die kiesers tot 6,7% te verminder. Die Vrouestemregwet van 1930 het op ’n regsomkeer deur die eerste minister, J.B.M. Hertzog, neergekom. Gedurende die hele tweede helfte van die 1920’s het hy bruin kiesers probeer oorreed om die NP te steun, en met die oog hierop het hy die vooruitsig van ’n ‘‘Nuwe Bedeling’’ gebruik wat aan hulle ekonomiese en politieke, maar nie sosiale gelykheid nie, sou gee. Hierdie wet was slegs die jongste ontwikkeling in ’n dekades lange tendens om bruin burgerregte weg te kalwe.

Bruin politieke organisasie

Comments are closed.