In die 1920’s en 1930’s het grondhonger en arbeidsvereistes swart mense aangespoor om hulle in groot getalle tot die Sionisme en Ethiopianisme te wend. Uit ’n totaal van 1,3 miljoen swart Christenbekeerlinge was daar in 1921 ongeveer 50 000 wat Sionistiese en Ethiopiese organisasies aangehang het. Teen 1936 het hul getalle tot meer as ’n miljoen toegeneem, van wie die oorgrote meerderheid op die platteland was.
Een van die aanstigters van die aggressiewe uitleef van apartheid was die sendingleier J.G. (Valie) Strydom. Hy was ’n vurige nasionalis wat geglo het dat slegs die mees aggressiewe evangelisasie van swart mense die Afrikaner se ‘‘volk en vaderland’’ sou kon red van die gelykmakende propaganda van kommuniste en Engelssprekende sendelinge onder die swartes. In 1935 het die NGK landwyd ’n meer gematigde weergawe van apartheid aanvaar as sy amptelike sendingbeleid. Daar is gehoop dat die beleid, wat ’n beroep op wittes gedoen het om beduidende opofferings ter wille van die opheffing van swartes te maak, swart en internasionale steun sou wen. Sowel die Afrikaans- as Engelssprekende sendelinge het voortgegaan om die regering se rassebeleid te beïnvloed en dit ná 1948 teen te staan (sien Die invloed van sendelinge na 1948).
Ontoereikunde swart onderwys




