
Tot ná die Tweede Wêreldoorlog was plase in die besit van wit mense meestal sukkelende, arbeidsintensiewe ondernemings. In 1921 het twee derdes van alle werkende mense op plase gewerk, en teen 1951 was ’n derde van die arbeidsmag steeds op plase in diens. Terwyl die nywerheidswese sy uitset met meer as 7% per jaar verhoog het, het die landbousektor s’n maar met ’n skamele 2% gegroei. Swart deelsaaiers het geleidelik oral in die land loonwerkers geword. Hul karige lone is met betaling in goedere aangevul. In die jare van 1925 tot 1939 het die boere dubbele slae verduur: enersyds die groot depressie, wat dalende produsentepryse veroorsaak het, en andersyds langdurige droogtes. Die situasie in die landbousektor het geleidelik begin verbeter ná grootskeepse regeringshulp in 1937 en 1938, wat die produsent bo die verbruiker bevoordeel het. Die foto toon wingerdboere wat rosyntjies maak.
Armoede was nie slegs ’n krisis vir mense wat nie wit was nie. Dit was onskeibaar deel van ’n strukturele krisis wat elke gemeenskap geraak en almal behalwe ambagslui en die meer welvarende werkgewers wanhopig oor die toekoms laat voel het.
C.W. de Kiewiet, een van Suid-Afrika se mees gerekende historici, het in sy geskrifte uit die 1930’s drie vername elemente van die strukturele krisis geïdentifiseer: die land se ‘‘laegraadse erts, sy laegraadse grond en sy laegraadse mense’’. Baie van Suid-Afrika se laegraadse erts, wat teen ’n lae, vasgestelde prys verkoop is, kon slegs deur baie goedkoop swart arbeid ontgin word. Laegraadse grond was vir baie van die landbouprobleme verantwoordelik, terwyl laegraadse mense die gevolg was van lae besteding aan onderwys en die groot afstande wat baie plattelandse kinders moes aflê om by die skool te kom. Teen 1917 was ’n vyfde van die wit kinders nie in die skool nie.
De Kiewiet het ’n belangrike maatskaplike aspek van ’n trae ekonomie en ’n klein binnelandse mark duidelik na vore gebring:
Dit was nie net die naturelle se vermoë om te verdien wat benadeel is nie. Die land kon nie ’n hoë lewenspeil vir die hele bevolking bekostig nie, met die gevolg dat daar benewens die naturellebevolking ’n baie groot deel van die wit bevolking was wat ook tot ’n lae inkomste en lewenspeil afgedruk is.
Wit ambagslui het nogtans beter lone as hul teenhangers in enige land in Europa verdien. Slegs in die VSA, Kanada en Australië was die werklike lone vir ambagsui hoër. Ralph Bunche, ’n gesiene swart Amerikaner, het op ’n besoek in 1937-1938 opgemerk dat die lewenspeil van wittes ‘‘ver te hoog was vir die armblankegroep om onder te lewe’’.
Die drie wit gemeenskappe – die Engelssprekendes van Britse herkoms, die Jode en die Afrikaners – het hulle struktureel op verskillende plekke in die ekonomie bevind. Die Jode was oorwegend in die professies en die sakewêreld; die Engelssprekendes het die boonste vlakke van die staatsdiens, die geskoolde arbeid en die sakewêreld oorheers; en die Afrikaners was boere, laevlak-staatsamptenare en half- en ongeskoolde arbeiders.
Ekonomiese beleid, en in die besonder die posisie van die mynbedryf, was dikwels die onderwerp van bittere politieke twis tussen die Suid-Afrikaanse Party en die Nasionale Party, maar onder die oppervlak was daar ’n merkwaardige eenstemmigheid tussen die twee gemeenskappe om wit oorheersing te handhaaf. Alhoewel die Afrikanernasionaliste ’n sterk afkeer van die ekonomiese oorheersing van die wit Engelssprekendes gehad het, het hulle nie ontken dat dié groep ’n sleutelrol in die ekonomiese ontwikkeling van Suid- Afrika gespeel het nie (sien Engelssprekende en Suid-Afrika se ekonomiese vooruitgang).
Benewens hul geskille oor ekonomiese kwessies het hierdie gemeenskappe fel geargumenteer oor die land se konstitusionele status, en in die besonder oor Suid-Afrika se plek in die Britse Ryk of Gemenebes. Hertzog het in 1924 as ’n Afrikanernasionalis aan die bewind gekom, vasberade om Suid-Afrika se gelyke status met Brittanje en ander lede van die Gemenebes te vestig, elkeen met sy eie vlag, elkeen in beheer van sy eie internasionale betrekkinge. Op ’n rykskonferensie in Londen het Hertzog, met die samewerking van Mackenzie King, die Kanadese eerste minister, ’n ondubbelsinnige verklaring verkry wat in 1926 as die Balfour-verklaring uitgereik is, naamlik dat Brittanje en die dominiums gelyke status het en op geen wyse ondergeskik aan mekaar is nie.
Maar ’n bittere geskil oor ’n nasionale vlag het gewys hoe ver van opgelos die hele kwessie steeds was. Volgens die Balfour-verklaring was Suid-Afrika daarop geregtig om ’n eie vlag te hê. In 1925 het dr. D.F. Malan ’n ‘‘skoon’’ vlag voorgestel – d.w.s. een met geen Union Jack of republikeinse vlae nie. Die vlag, so het Malan gesê, het te make ‘‘met die volk self . . . met sy eintlike bestaan as ’n afsonderlike entiteit’’. Die meeste Engelssprekendes sou met niks minder tevrede wees as dat die Union Jack prominent op die nuwe vlag vertoon word nie. Ná ’n bittere vlagstryd is ’n kompromie bereik waardeur die land twee vlae gekry het: ’n Suid-Afrikaanse nasionale vlag wat sowel die Union Jack as die vlae van die voormalige republieke sou bevat, en die tradisionele Union Jack wat op sekere plekke vertoon sou word om die land se lidmaatskap van die ryk te simboliseer.
Die Balfour-verklaring is bevestig met die Statuut van Westminster (1931) en met die Statuswet wat in 1934 deur die Suid-Afrikaanse Parlement aangeneem is. Dit bekragtig die posisie van die Unie as ’n soewereine onafhanklike staat tesame met Australië, Kanada en die ander dominiums, saamgesnoer deur gemeenskaplike trou aan die Britse kroon. Vir Hertzog en die meeste ander Afrikanernasionaliste was die gevoelens van onderdanigheid en minderwaardigheid jeens Brittanje grotendeels uit die weg geruim.
Dit wou lyk of die Britse Ryk, veel beter as byna alle ander ryke, daarin kon slaag om van ’n hiërargiese struktuur te ontwikkel na een wat op gelykheid en instemming gegrond is. Solank daar nie ’n oorlog uitgebreek het waarby Brittanje betrokke was nie, was daar geen probleem met die Afrikaners se aanvaarding van lidmaatskap van die ryk nie.







