
Die skool op die Morawiese sendingstasie Elim in die Suidwes-Kaap. Duitse sendelinge wat aan die Morawiese Broederkerk en die Rynse en die Berlynse Sendinggenootskap behoort het, het in die 19de eeu sendingstasies soos Elim, Genadendal, Wupperthal en Amalienstein in die Wes-Kaap en Shiloh, Goshen en Engotini in die Oos-Kaap gestig vir gemeenskappe wie se tradisionele kultuur ontwrig of vernietig was. Dié sendelinge het “geslote nedersettings” onder hul paternalistiese beheer in die lewe geroep en groot klem geplaas op dissipline, geletterdheid en die aanleer van ambagte. Teen die 1930’s het dié orde begin verbrokkel vanweë kragte van buite soos industrialisering en sekularisering. Baie van die mense het hul woonplekke op die sendingstasies behou, maar dikwels vir lang rukke werk as ambagslui in die omgewing of in die stede gaan soek.
In die loop van die 19de eeu het sendingwerk gestadig voortgeduur en nie slegs ’n groot toename in bekeerlinge tot gevolg gehad nie, maar ook ’n grootskaalse uitbreiding van geletterdheid. Die koloniale state het die opvoeding van swart en bruin mense aan kerke en sendinggenootskappe oorgelaat. Tot diep in die 20ste eeu het Protestantse sendelinge sleutelfigure in die rassepolitiek van Suid-Afrika gebly.
Teen die middel van die 1930’s het die Engelstalige kerke en sendinggenootskappe alle hoop laat vaar dat daar vir swart mense enige voordeel uit segregasie sou voortkom. Hulle het hulle by die algemene opvatting van die sendelinge uit die 19de eeu geskaar, naamlik dat vaardigheid in Engels en kennis van die Westerse kultuur en gewoontes die sleutel tot sukses is in ’n samelewing wat toenemend ekonomies en kultureel geïntegreerd raak. Ondertussen het die Afrikaner-gefinansierde sending die pad van segregasie bly loop, met die klem daarop dat swart kinders in hul moedertaal en eie kultuur opgevoed moet word. Dit was egter eers in die 1950’s dat die weë van die Engelstalige kerke en die Afrikaner kerke sou skei.







