
’n Verkiesingsplakaat van die Suid-Afrikaanse Party in 1924. Dit stel Jan Smuts voor as die leier wat probeer keer dat die Pakt-alliansie die land in die chaos dompel. Ná die Smutsregering se hardhandige onderdrukking van die mynwerkerstaking van 1922 was die heersende klasse bekommerd dat die nuwe Pakt-regering van Afrikanernasionaliste en die georganiseerde wit arbeid, wat in die verkiesing deur elemente in die Kommunistiese Party en die ANC gesteun is, ’n radikale vorm van populisme van stapel sou stuur. Hulle het gevrees dat die nuwe regering die bande met die Britse Ryk sou verbreek, die mynmaatskappye swaar sou belas en op hoë lone vir wit werkers sou aandring. Verder was hulle bang dat die regering onvolhoubare subsidies aan sukkelende wit boere sou toestaan en die beperkte regte van swart en bruin mense verder sou inperk. Afgesien van laasgenoemde, is geeneen van dié vrese bewaarheid nie.
Tussen 1900 en 1930 het Suid-Afrika gaandeweg ’n verstedelikte, geïntegreerde, gekerstende en verwesterste samelewing geword. Aan die voorpunt van kulturele verandering was die Engelstalige sendinggenootskappe wat segregasie laat vaar en voel-voel in die rigting van ’n gemeenskaplike samelewing met Engels as gemene taal beweeg het. Die Afrikaanse kerke, daarenteen, was besig om die ideologiese grondslag vir apartheid te lê. Die Engelse en Joodse bevolking het voortgegaan om die stedelike ekonomie te oorheers, maar namate Suid-Afrika in die rigting van ’n soewereine staat gevorder het, was hulle verplig om hul noue vereenselwiging met die Britse Ryk en die kroon te laat vaar.
Die bruin mense moes toekyk hoe hul hoop op bevoordeling uit ’n beleid van ‘‘beskaafde arbeid’’ tot niet gaan, en dit het die opgevoede elite aangespoor tot radikale politiek. Dié wat die spit van Suid-Afrika se snelle industrialisering moes afbyt, was die armes – swart, bruin en wit – in die stede en op die platteland. Sendelinge het nuwe akkers vir bearbeiding gevind onder die verarmde mense wie se uittog uit die reservate en plase begin het.
Die opvoeding wat hulle aan bruin en swart kinders besorg het, het ’n toenemend belangrike rol gespeel in die ekonomie waarvan die grondslag begin beweeg het na vervaardiging – ’n sektor waarin swart deelname in die eerste helfte van die eeu byna agtvoudig toegeneem het. Die vervaardigingsektor het in toenemende mate ’n stabiele swart en wit arbeidsmag nodig gehad wat saam met hul gesinne gewoon het.
Waar in 1911 slegs ’n tiende van die swart bevolking verstedelik was, het dit teen 1960 tot ’n derde toegeneem. Teen 1947 was die swart bevolking van Johannesburg 400 000 – dubbel die syfer tien jaar tevore. Die Afrikaners het ook snel verstedelik. Teen 1890 was daar net sowat 10 000 wat in dorpe met ’n inwonertal van meer as 2 000 gewoon het. Teen 1936 was sowat 535 000 Afrikaners, die helfte van die etniese groep, verstedelik.
Baie van die eerste geslag verstedelikte Afrikaners het nie geskikte vaardighede of behoorlike skoolopvoeding vir die stadsekonomie gehad nie. Slegs hul velkleur het hulle van die onlangs verstedelikte swart of bruin mense onderskei. Van die sg. armblankes – ’n term wat by die suidelike state van die VSA geleen is – was hulle die sigbaarste. Dié term het nie op ’n meetbare armoedsvlak gedui nie, maar op ’n toestand wat in ’n staat met wit heerskappy as onaanvaarbaar beskou is. Die Parlement sou die armblankevraagstuk as die dwingende kwessie in die vroeë 20ste eeu beskou.
| GESELEKTEERDE BEVOLKINGSYFERS | |||
| 1904 | 1930 | 1950/51 | |
| Wit bevolking | 1 117 234 | 1 801 000 | 2 641 689 |
| Swart bevolking | 3 490 291 | 5 585 000 | 8 556 390 |
| Totaal bevolking | 5 174 827 | 8 540 000 | 12 667 759 |
| WERKERS IN VERVAARDIGINGSEKTOR | |||
| 1916 | 1930 | 1959 | |
| Wit | 39 624 | 91 024 | 191 093 |
| Swart | 35 065 | 90 517 | 267 070 |





