
J.B. Marks (regs) doen verslag aan vakunielede in 1946. Marks het in 1928 ’n kommunis geword ná ’n toespraak van S.P. Bunting by ’n mynwerkersvergadering. Hy het die voorsitter van die African Mineworkers Union (AMWU) geword en in die uitvoerende komitees van sowel die ANC as die Kommunistiese Party gedien. Saam met twee ander kommuniste, Moses Kotane en Dan Thloome, het Marks die ANC beïnvloed om vir die herroeping van die paswette te veg en op algemene volwasse stemreg aan te dring. Toe die Afrikaniste in die ANC die kommuniste uit dié beweging wou skop, is die kommunistiese lede deur die meer konserwatiewe ANC-leierskap gesteun vanweë hul bydrae tot die ANC se bedrywighede. In 1945 het Marks die voorsitter van die Council of Non-European Trade Unions (CNETU) geword. Dit was die magtigste vakuniegroepering ooit in Suid-Afrika, met ’n ledetal van 158 000 wat aan 119 vakunies behoort het en meer as twee vyfdes van die swart werkers in die handel en nywerheid verteenwoordig het. Hy het die AMWU in die epogmakende staking van 1946 gelei. In die 1950’s is Marks aangehou en herhaaldelik ingeperk. In 1962 is hy as die leier van die verbode Kommunistiese Party verkies. Hy het in 1972 in ballingskap in Moskou gesterf.
Swart politieke leiers het die spanning nie toegekryf aan swart en wit wat die stedelike ruimte moes deel of saam moes werk nie, maar aan die stelselmatige diskrimasie teen swart mense. Nadat die African National Congress (ANC) in die 1930’s feitlik op sterwe was, het dit herleef weens die bedreiging van D.D.T. Jabavu se All-African Convention (AAC). Die AAC het in 1936 as ’n oorkoepelende organisasie vir verskeie swart groepe die leiding geneem in ver set teen die VP se segregasiewette. Die AAC het besluit om die nuwe Naturelle- Verteenwoordigende Raad (NVR) te erken, wat voorsiening gemaak het vir sestien verkose swart lede en ses wit amptenare wat die regering oor kwessies moes adviseer wat swart mense raak. Dit het ook wit kandidate vir drie setels vir naturelleverteenwoordigers in die Parlement gesteun, en vir twee in die Kaapse Provinsiale Raad. Die ANC het spoedig hul voorbeeld hierin gevolg.
Die herlewing van die ANC het met die Jubileumkonferensie van 1937 begin, iets wat deur manne soos James Calata (’n Anglikaanse priester), Selope Thema (NVR-lid en redakteur van Bantu World) en die kommuniste J.B. Marks en Moses Kotane voorgestel is. Dit het momentum gekry toe ’n paar buitengewoon bekwame naturelleverteenwoordigers tot die Parlement verkies is, veral Margaret Ballinger en Donald Molteno wat ontdek het dat hulle die ANC-ideale deel en ten nouste met die ANC-leiers begin saamwerk het. Die eintlike deurbraak het gekom toe dr. Alfred Xuma, ’n mediese dokter, in 1940 tot president verkies is.
Terwyl hy dikwels van sy eie fondse gebruik gemaak het, het Xuma begin om die ietwat chaotiese organisasie in ’n meer doeltreffende liggaam te omskep wat in 1952 ’n opbetaalde lidmaatskap van digby 10 000 lede sou hê. Hy het die grondwet gewysig, swart intellektuele leiers na die organisasie gelok en takke vir die massa gestig. Die klaerige nasionalisme van die ANC het plek gemaak vir ’n aggressiewe en oortuigde aanspraak op die regte van alle individue, ongeag hul kleur.
Hoewel die herrese ANC aanvanklik nie afsonderlike verteenwoordiging verwerp het nie, het dit tog op swart verteenwoordiging op alle regeringsvlakke, die skrap van alle beperkings op swart grondbesit en die uitfaseer van trekarbeid aangedring. Daar is ’n reeks sosiaal-ekonomiese eise gestel: ’n bestaansloon, die algehele afskaffing van die kleurslagboom, erkenning van swart vakbonde en die opleiding van swartes vir gegradeerde poste in die staatsdiens. Onderliggend aan al dié eise was ’n omvattende verwerping van die opvatting dat Suid-Afrika ’n witmansland is.
Die vroeë oorlogsjare het, ná die dekades van uitsiglose verdrukking, nuwe hoop gebring. Die oorwinnings wat die Spilmoondhede behaal het, het die regering bewus gemaak van die behoefte aan swart bondgenote. In 1942 het Jan Smuts daarvan gepraat dat segregasie ’n ‘‘kwade dag’’ beleef. Hy het ook die leier van die NP veroordeel omdat dié praat asof die land ’n bevolking van slegs 2 miljoen het ‘‘terwyl die naturel die land op sy rug dra’’ en kennelik ’n integrale deel van die algemene ekonomiese bestel uitmaak. Die sekretaris van naturellesake het gevra dat die ekonomiese kleurslagboom geskrap word.
Die regering se maatskaplike beleid het in die rigting van hervorming begin beweeg. Dit het die gematigde swart leiers ’n mate van versigtige optimisme laat beleef. Halfpad deur die oorlog het die regering voorsiening vir ouderdomspensioene, ongeskiktheidstoelaes en werkloosheidsversekering op ’n vaster grondslag geplaas en die beginsel gevestig dat swartes ingesluit moes word by enige vorm van bestaansorg en wetgewing vir sulke voordele. Swart studente kon aan party van die wit universiteite opgelei word as geneeshere, tandartse, sosiale wetenskaplikes en vir ander professies.
Die regering het ook nie meer besteding aan swart onderwys beperk tot die inkomste wat direk uit swart belasting afkomstig was nie. Gratis onderwys, gratis boeke en gratis skoolvoeding in primêre skole is ingestel en besteding aan sekondêre onderwys vergroot. Teen die einde van die oorlog was besteding aan swart onderwys drie maal soveel as tien jaar vante vore. Ondanks die verhoogde besteding was die meeste swart kinders teen 1948 nie op skool nie.
Nietemin het alle veranderings onder die Smuts-regering op ’n groter sin van regeringsverantwoordelikheid teenoor swart mense gedui, asook op ’n meer tasbare erkenning van hul burgerskap. Gedurende die oorlogsjare het swartes groter vryheid geniet as vantevore. Reële inkomste in die vervaardigingsektor was skerp aan die toeneem.
Die ANC het op verdere hervorming aangedring. Dit het die ‘‘African Claims in South Africa’’ aanvaar, wat op die lees van die Atlantiese Handves geskoei was en ’n Handves van Regte ingesluit het wat alle diskriminasie verwerp het. Dit het aan die Anti-pasveldtog van die SA Kommunistiese Party meegedoen. By die protesoptog teen die paswette in Johannesburg in 1944 was daar 20 000 betogers.
Gedurende die oorlogsjare was daar ook verskeie stakings deur swart werkers, wat teen die 1930’s beter georganiseer geraak het. Swart vakbondleiers het moeg geraak om met hul wit eweknieë saam te werk en in 1938 het hulle die pro-Afrikanistiese Council for Non-European Trade Unions (CNETU) gestig. Max Gordon, ’n wit Marxis met Trotskiïstiese neigings wat etlike vakbonde georganiseer het, het dié groep leiers van rassisme beskuldig. Gana Makabeni, voorsitter van die CNETU wat ’n Marxis was en ’n Afrikanis geword het, het geantwoord dat wittes al wat instelling is oorheers, en toe gevra: ‘‘Moet ons selfs in ons eie instellings blanke leiers hê?’’
In 1941 het twee kommuniste, Edwin Mofutsanyana en Gaur Radebe, ’n konferensie gereël waarop die African Mineworkers Union (AMWU) gestig is, met J.B. Marks as die eerste president. Ondanks teistering deur die Kamer van Mynwese kon hulle teen 1944 met ’n lidmaatskap van 25 000 spog. Hulle het erkenning, gereelde loonverhogings, die afskaffi ng van die kampongstelsel, die beëindiging van die verdeling van die werkerskorps in stamverband, en ’n wetlike minimum loon geëis.
Die Kamer van Mynwese het voor die Lansdowne-kommissie aangevoer dat die basiese loon van net meer as twee sjielings per skof voldoende was omdat die myne die werkers van voedsel en kamponghuisvesting voorsien het en die werkers ’n verdere bron van inkomste gehad het uit hul tuinakkers in die reservate wat hul gesinne kon voed. Maar ná ondersoek het die kommissie bevind dat die produksie in die reservate ’n ‘‘mite’’ en ’n ‘‘rede vir ernstige kommer’’ is. Die kommissie het ’n geringe loonverhoging aanbeveel, maar in die lig van die lae wins – gewendheid van die myne kon hy nie sy weg oopsien om aan te beveel dat swart vakbondeerken of trekarbeid afgeskaf word nie. Arbeidsverhoudinge op die myne het vinnig agteruitgegaan.








