Suid-Afrika is onvermydelik ingesleep by die oorlog wat in September 1939 in Europa uitgebreek het. Die land se reg om nie aan Brittanje se oorloë deel te neem nie, was een van die mees brandende kwessies onder Afrikanernasionaliste gedurende die eerste drie dekades ná Uniewording. Nadat die Statuut van Westminster in 1934 aangeneem is, was genl. Hertzog een van dié persone wat geglo het dat Suid-Afrika se outonomie verseker was. In September 1938 het hy dit bevestig deur die kabinet tot ’n posisie van streng neutraliteit te verbind indien Brittanje tot oorlog sou oorgaan. Jan Smuts het blykbaar hiermee akkoord gegaan, maar ná die Duitse inval in Tsjeggo-Slowakye het hy van plan verander. Hy het geglo dat Suid- Afrika, ongeag die politieke prys, verplig was om te help om Duitsland onder Adolf Hitler te bedwing. Vir hom was Suid-Afrika se vryheid en die toekoms van die Westerse beskawing, selfs van die mensdom, op die spel. Tog was dit teen die middel van 1939 ondenkbaar dat hy met ’n baie klein meerderheid in die Parlement, en met die meeste van die kiesers waarskynlik daarteen, die land by ’n oorlog sou insleep.
Toe Hertzog kort voor ’n parlementsitting op 4 September 1939 voorstel dat Suid-Afrika neutraal bly, was Smuts en die helfte van die kabinet ten gunste van deelname. In die parlementêre debat het Hertzog ’n flater begaan deur enige kwaadwillige en aggressiewe bedoelings in die Nazi’s se buitelandse beleid te ignoreer. Wat hom betref, het Brittanje en Frankryk die oorlog oor hulself gebring deur in 1919 die vernederende vredesverdrag van Versailles op die Duitsers af te dwing, baie soos in 1902 met die republikeinse Afrikaners by Vereeniging gebeur het.
Maar die ander deel van sy toespraak het groot oortuigingskrag gehad: Toetrede tot die oorlog met ’n verdeelde stem sou die vertroue tussen die twee wit gemeenskappe ernstig skaad. ‘‘Die Afrikanervolk het twee maal probeer om die Afrikaanssprekendes en die Engelssprekendes in een nasie byeen te bring,’’ het hy gesê met verwysing na die stigting van die Suid-Afrikaanse Party ten tyde van Uniewording, en smelting wat die stigting van die Verenigde Party tot gevolg gehad het. Hy het gewaarsku dat indien die tweede poging ook sou misluk, die skok vir die Afrikanervolk so groot sou wees dat dit jare sou kos om te herstel. ‘‘Maar as dit sou kom as gevolg van ’n oorlog waarmee ons niks te doen het nie, sal dit ons nasionale lewe vir vyftig of selfs ’n honderd jaar beïnvloed.’’

Die Cape Times, die Kaapse Engelse oggendblad, se aankondiging van Suid- Afrika se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog.
D.F. Malan het sy steun vir Hertzog op treffende wyse geformuleer. Indien Suid- Afrika geen bande met Brittanje gehad het nie, sou die land seer sekerlik nie in ’n oorlog betrokke geraak het wat deur ’n konflik in die verre Oos-Europa veroorsaak is nie. Indien Suid-Afrika in elke oorlog ingetrek sou word waarin Brittanje betrokke raak, sou Malan onomwonde verklaar, kan jy “soveel oor vryheid praat as wat jy wil, maar is ons ’n land van slawe.’’ Smuts was ook reguit. Hertzog se toespraak het soos ’n regverdiging vir ‘‘Herr Hitler se optrede’’ geklink. Daar was by hom geen twyfel nie dat wat op die spel was, dieselfde was as toe oorlog in 1914 uitgebreek het: die gehalte van die regeringstelsel, ‘‘die lot van die mensdom en die toekoms van ons beskawing’’.
Hertzog se mosie is met 80 stemme teen 67 verslaan, en die stemming was groten deels volgens die etniese verdeling van die wit gemeenskap. Die goewerneur-generaal het Hertzog se versoek geweier om die Parlement te ontbind en ’n algemene verkiesing uit te roep. Round Table, ’n gesaghebbende tydskrif, was van mening dat die faksie wat teen deelname aan die oorlog gekant was, op daardie tydstip ’n verkiesing sou gewen het. In plaas daarvan het die goewerneur-generaal Smuts versoek om ’n regering te vorm, en hy het Suid-Afrika die oorlog ingeneem. Hierdie gebeurtenis was ’n waterskeiding in die wit politiek en het ook die middelgrond met betrekking tot kwessies van ras en kleur tot niet gemaak lank voordat die NP sy apartheidsprogram aangekondig het. Sonder die politieke polarisering wat die oorlog meegebring het, en wat van die tyd van die oorlogstem in 1939 toenemend langs taallyne geloop het, is dit onwaarskynlik dat Malan se NP in 1948 aan die bewind sou gekom het.









