Ekonomiese Ellende En Politieke Reaksie Swart Stemreg Ingeperk

Nadat verskillende wetsontwerpe byna tien jaar lank bespreek is, het Hertzog in 1936 ’n wetsontwerp by die Parlement ingedien, vol vertroue dat dit ’n tweederdemeerderheid sou verkry (sien Poging om die ontneming van swart stemreg te regverdig). Volgens die wetsontwerp sou swart Kaapse kiesers op ’n afson derlike kieserslys moes stem om drie wittes te verkies wat hulle in die Volksraad sou verteenwoordig. Vier wit senatore, wat deur kieskolleges aangewys is, sou ander swart mense in Suid-Afrika verteenwoordig. Daar sou ’n Naturelle- Verteenwoordigende Raad wees om kwessies te bespreek wat op swart inwoners in reservate sowel as in die algemene gebied van Suid-Afrika betrekking het. ’n Verdere 7,25 miljoen morg grond sou vir reservate op gekoop word – dit sou 13% van die land se grond uitmaak in plaas van die 7% wat vroeër aangebied is.

Die wetsontwerp is aanvaar met slegs elf lede wat daarteen gestem het. Die wetgewing het die leiers van die All-African Convention verdeel. Party het ’n swart boikot van die verkiesing van twaalf lede van ’n Naturelle-Verteenwoordigende Raad voorgestel, ’n instelling van 21 lede wat ’n mening kon uitspreek oor wetsontwerpe wat swartes raak. Jabavu het ’n boikot verwerp en dit ‘‘wraak in ’n bottel’’ genoem. Dit kon slegs slaag indien niemand die oproep om die boikot verontagsaam nie.

Een van die Kaapse verteenwoordigers wat tot die Parlement verkies is, was Margaret Ballinger wat een van die mees bekwame parlementariërs van die 20ste eeu geword het. Haar dilemma was dat terwyl sy as ’n ‘‘naturelleverteenwoordiger’’ die hardvogtigheid van rasseverdrukking aan die kaak probeer stel het, sy terselfdertyd deel was van ’n stelsel wat swart leiers toenemend as onhoudbaar beskou het.

Comments are closed.