
Vee in ’n droë rivierbedding tydens die uit - mergelende droogte wat in Suid-Afrika met die wêreldwye ekonomiese depressie gepaard gegaan het. Inkomste uit landbou het met die helfte verminder, en wolboere moes vier keer soveel wol as vyf jaar tevore uitvoer om die - selfde inkomste te verdien. Die prys van mie lies, die grootste landbouproduk, het van 1929 tot 1933 met die helfte gedaal. Stygende kostes en laer pryse het menige boer na skuld gedryf en sommige het gedreig om hul skulde te repudieer.
Volgens die ekonoom S.P. Viljoen besef min mense vandag hoe swak Suid-Afrika se mynbou en landbou in die 1920’s en 1930’s was, vóór die goudprys in 1933 skerp gestyg het. Teen 1925 het die land ’n bruto binnelandse produk (BBP) van slegs R537 miljoen gehad, waartoe die landbou 21%, die mynbedryf 16,2% en die sekondêre nywerhede net 7,8% bygedra het. Viljoen voeg by: ‘‘In ’n nuwe ontwikkelende land is die nywerhede sonder uitsondering die groeisektor, en gevolglik was Suid-Afrika se ekonomiese struktuur destyds [in die 1920’s] net so onontwikkel as dié van die meeste Afrikalande vandag [in die vroeë 1980’s.]’’ Teen die laat 1920’s het nywerheid steeds ’n ernstige tekort aan kapitaal ondervind; meer as die helfte van die mynwinste is as dividende na die buiteland gestuur. Die regering het ’n belasting van slegs 5% gehef op die waarde wat deur die goudmyne toegevoeg is. Onder die volgende bewind, gebaseer op die saamgesmelte partye van Hertzog en Smuts, het die belasting op die mynbedryf skerp gestyg sodat dit teen 1936 op 15% gestaan het.
In 1929 het ’n swaar slag die ekonomie getref. Die Depressie, wat met die ineenstorting van die New Yorkse Aandelebeurs begin het, het vinnig deur die ontwikkelde wêreld versprei. Dit het die kloof tussen fasciste en kommuniste, tussen sosialiste en nasionaliste vinnig verbreed. Dit het Adolf Hitler die hupstoot gegee wat hy nodig gehad het om aan bewind te kom. Suid-Afrika se uitvoermark het in duie gestort, en daar het ’n ekonomiese
vertrouenskrisis ontstaan op ’n skaal soos nooit vantevore ervaar is nie. In Suid-Afrika is die ellende deur ’n uitgerekte droogte vererger. Teen 1933 het die vervaardigingsuitset met ’n vyfde gedaal (vergeleke met 1929), en was 22% van alle bruin en wit mans as werkloos geregistreer. Werkers het hulle teen loonverlaging verset en werkgewers het vakbonde probeer vernietig. Landbou-inkomste het met die helfte verminder; wolboere moes nou vier maal soveel wol uitvoer om dieselfde hoeveelheid buitelandse valuta te verdien as vyf jaar vantevore. Teen die middel van die 1930’s het die Depressie en die droogte skape met 15 miljoen stuks verminder. Tussen 1929 en 1933 het die prys van mielies, die vernaamste landbouproduk, met die helfte gedaal. Stygende bedryfskoste as gevolg van die land se oorgewaardeerde betaalmiddel en laer pryse het talle boere in die skuld gedompel. Party het gedreig om hul skuld te repudieer. Daar was rede om te vrees dat van die handelsbanke gedwing sou word om te sluit.
Smelting: ‘‘Die groot eksperiment’’




