In die eerste vier dekades van die eeu het Engelse maatskappye die mynbou-, vervaardiging, handel- en finansiële sektor volledig oorheers. Na raming was die aandeel van Afrikanermaatskappye in 1938, drie dekades ná Uniewording, soos volg: 1% in die mynwese, 3% in vervaardiging en konstruksie, 8% in die handel en 5% in die finansiële sektor.
Ná die Suid-Afrikaanse Oorlog het die Afrikaners se spaargeld na trustmaatskappye, eksekuteursrade en landboukoöperasies begin vloei. In 1914 is die Nasionale Pers op Stellenbosch gestig en in 1915 het dit begin om Die Burger en in 1916 Die Huisgenoot te publiseer. Heel onverwags het laasgenoemde spoedig baie winsgewend geword. Dit is die Afrikaners se ‘‘volksuniversiteit’’ genoem, en in een stadium is dit deur ’n vyfde van alle
Afrikanergesinne gelees. In 1918 is die Suid-Afrikaanse Nasionale Trust en Assuransie Maatskappy (Santam) gestig, en dié het die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewens Assuransie Maatskappy (Sanlam) in die lewe geroep. Dié twee assuransiemaatskappye het hulself as ‘‘egte Afrikaanse volksinstellings’’ bemark. Sanlam se leuse was: ‘‘Uit die volk gebore om die volk te dien.’’ Ná groot terugslae in die vroeë jare het Sanlam en Santam gestadig uitgebrei. In 1925 het ’n tydskrif wat die versekeringswese gedek het, Sanlam se opgang as ‘‘buitengewoon vinnig’’ beskryf. In die landbou was die eerste groot voorwaartse stap die stigting van die Ko-operatieve Wijnbouwers Vereniging (KWV) in 1924 in die Paarl.
In die noorde het dit die Afrikaners lank gekos om van die verwoesting van die Suid- Afrikaanse Oorlog te herstel. Hier het die staatskorporasies Yskor en Evkom (nou Eskom), onderskeidelik ’n yster-en-staalfabriek en ’n verskaffer van elektrisiteit wat in die 1920’s tot stand gekom het, geleenthede vir Afrikanerbestuurders gebied.
Die paar Afrikanerondernemings wat daar was, was baie beskeie. Die Afrikaner-Broederbond het ’n sleutelrol gespeel in die stigting in 1934 van die spaarbank Volkskas, wat 60 jaar later tot Absa getransformeer sou word. Dit was nie slegs die winsmotief wat Afrikanersakelui aangedryf het nie, maar ook hul verbetenheid om te bewys dat Afrikaners in die sakewêreld, die domein van Engelse of Joodse Suid-Afrikaners, kon presteer.

Twee van die maatskappye wat met Afrikaners se spaargeld en kapitaal gestig is, was Sanlam, wat in 1918 in Kaapstad opgerig is, en Volkskas, wat in 1934 in Pretoria deur 60 lede van die Afrikaner- Broederbond tot stand gebring is. Teen die einde van die 1930’s het Engelse maatskappye egter steeds heelwat meer as 90% van die ondernemings in die mynbedryf, die handel, die vervaardigingsbedryf en die fi nansiële sektor beheer.
Albert Wessels, ’n suksesvolle toekomstige entrepreneur, het geskryf dat toe hy in 1936 in Johannesburg aanland, hy net drie Afrikanerondernemings van enige betekenis daar gekry het: die uitgewersmaatskappy Afrikaanse Pers, met sy sukkelende pro-VP-koerant Die Vaderland, die bank Volkskas . . . ‘‘ en ’n klerewinkel vir mans wat spoedig bankrot sou raak’’. Hy het bygevoeg: ‘‘Ons was steeds bewus van die feit dat ons ouers verslaan was, en diep in ons bewussyn was daar ’n begeerte vir rehabilitasie en die drang om te bewys dat ons ten minste die gelykes van die veroweraars en hul nageslagte was.’’
Teen die laat 1930’s, ná die Depressie en die droogte, het die Afrikanerboere weer tot verhaal gekom. Hulle is deur boerderykoöperasies bygestaan wat sedert die 1920’s vinnig gegroei en dienste sonder winsbejag, sowel as voorskotte op komende oeste teen lae rente gebied het. Deur middel van nuwe beheerrade het die regering die pryse van die vernaamste landbouprodukte gestabiliseer. ’n Aansienlike deel van die risiko wat aan boerdery verbonde was, is deur die waarborg van ’n minimum prys uit die weg geruim. Teen die laat 1930’s en vroeë 1940’s het boere steeds luidkeels oor die arbeidstekort gekla, maar die meer ondernemendes onder hulle was gereed vir die groot oplewing wat aan die kom was. Baie van hulle het spaargeld bymekaargemaak en was gretig om dit te belê.
Die eeufeesvierings van die Groot Trek in 1938 het as aansporing gedien om kapitaal te werf, met D.F. Malan en die Vrystaatse kerkleier J.D. (Vader) Kestell wat voorgestel het dat die beste huldeblyk aan die Voortrekkers sou wees om arm Afrikaners deur ’n reddingsdaad te help.
Die Afrikaner-Broederbond het dit aan die FAK opgedra om ’n kongres te reël vir die skep van ’n groot volksfonds vir die opheffing van die arm Afrikaners. Die bond se uitvoerende raad het vroeg in 1939 teen ’n ‘‘liefdadigheidsplan’’ besluit. Hulle wou eerder die Afrikaners se spaargeld belê in ondernemings wat die arm Afrikaners kon ‘‘red’’ deur hulle in diens te neem. Só kon die Afrikaners ook ’’ekonomies outonoom’’ word.

Die opening van die eerste tak van die OK Bazaars. Dié handelsonderneming het ’n instelling in Suid-Afrika geword en was dekades lank, op Coca Cola na, die bekendste handelsmerk in die land. Soos verstedeliking in die 1920’s en 1930’s versnel het, het ’n massamark vir bekostigbare voedsel en drank van redelike gehalte ontstaan. Die Suid- Afrikaanse Brouerye, in 1895 gestig deur Jacob Letterstedt, en die OK Bazaars het aan hierdie behoeftes voldoen. Laasgenoemde maatskappy is in 1927 deur twee winkeliers, Michael Miller en Sam Cohen, tot stand gebring. Albei maatskappye het die waarde van gereelde advertensies in koerante besef.
Senior uitvoerende amptenare van Sanlam, met sy hoofkantoor in Kaapstad, het tot dieselfde slotsom gekom. Die maatskappy was gretig om weg te breek uit die eng beperkings van assuransie en landboukrediet waaraan dit onderworpe was, en om ’n eie finansieringsinstelling te skep wat pogings kon sentraliseer om Afrikanerspaargeld vir belegging in belowende ondernemings te lok.
Die dryfkrag van die Suid-Afrikaanse ekonomie was die mynhuise wat fondse vir belegging deur hul finansiële korporasies verkry het. Dié het, as genoteerde maatskappye op die Johannesburgse Effektebeurs, geld van beleggers wêreldwyd gelok. Die Afrika ner nasionaliste het dit as hul model geneem, maar wou dat hul finansieringsinstelling drie uiteenlopende doelwitte saamsnoer: om wins vir hul aandeelhouers te maak, om die gemeenskaplike vooruitgang van Afrikaners te bevorder en om Afrikaners te help om aan armoede te ontkom deurdat Afrikanerwerkgewers
vir hulle ordentlike werk bied.
Tienie Louw se voorstel aan die Sanlam-direksie dat ’n finansieringsinstelling gestig word, weerspieël die gees van Afrikanerentrepreneurskap uit dié tyd. Dit was vanselfsprekend dat ’n Afrikaner finansieringsinstelling gesonde sakebeginsels sou nakom en dat die winsmotief nie uitgesluit sou word nie. ‘‘Maar terwyl bestuur sou poog om die grootste moontlike winste vir die aandeelhouers te maak, sal die hoofdoel altyd wees om die Afrikaner se posisie in die handel en nywerhede te versterk.’’ As afsonderlike ondernemings sou die inisiatiewe van Sanlam en die Broederbond nie veel verskil maak nie. Die leiers van die bond het weinig sakeondervinding gehad, en indien Sanlam op sy eie sou handel, sou wat hy doen, as eiebelang gesien kon word. Die bondgenootskap wat tussen die bond en Sanlam ontstaan het, het die lewensbelangrike geloofwaardigheid gegee aan ’n veldtog om die Afrikaners se spaargeld vir belegging te lok. Dit kan nouliks toeval wees dat senior uitvoerende amptenare van Sanlam genooi is om lid van die bond te word.

Terwyl die Afrikaners met oorgawe die herdenking van die Groot Trek in 1938 gevier het, en die landsekonomie besig was om te herstel ná die dubbele ramp van die Groot Depressie en die langdurige droogte, het oorlogswolke in Europa begin saampak. Duisende swart mense, insluitende Lucas Majozi, het tydens dié oorlog in die Verdedigingsmag diens verrig. Majozi is ná die oorlog vereer vir sy dapper optrede toe hy by El Alamein talle gewondes onder vyandelike vuur na veiligheid gebring het.
Die bondgenootskap se eerste stap was om ’n ekonomiese kongres te hou, wat as die Eerste Ekonomiese Volkskongres bekend gestaan het. Dit het in Oktober 1939 in Bloemfontein plaasgevind en is deur politici, sakelui en akademici bygewoon. Die armblanke probleem het min aandag geniet. Predikante en populistiese politici het geskitter deur hul afwesigheid. Die lys van sprekers het soos ’n ‘‘Wie’s wie’’ van toekomstige Afrikanerentrepreneurs gelees.
Aansienlike pogings is aangewend om die heersende teenstand onder Afrikaners af te breek teen ’n vorm van kapitalisme waar individue verryk word sonder dat dit die gemeenskap baat. In sy openingsrede het L.T. du Plessis die doel gedefinieer as ’n mobilisering van die volk ‘‘om die kapitalistiese stelsel baas te raak en te transformeer sodat dit by ons volksaard pas’’. Hierdie aangepaste kapitalistiese teorie is later ‘‘volkskapitalisme” genoem. Dit het beteken dat vrye onderneming nie primêr bedoel was om vir ’n individu of vir ’n handjie vol individue om hul eie ontwil rykdom te skep nie. Dit moes die Afrikaners help om uit hul ekonomiese knegskap te ontsnap, en vir die mense om hul regmatige aandeel aan die ekonomie te bekom.
Die Volkskongres het drie instellings geskep: ’n finansieringsinstelling, ’n sakekamer en ’n organisasie om met ’n ‘‘reddingsdaad” te help. Die belangrikste was die finansieringsinstelling, Federale Volksbeleggings (FVB), wat deur Sanlam beheer is. Afrikaners is gevra om by konvensionele belegging in aandele in gesonde Afrikaanse ondernemings betrokke te raak. Teen 1943 het meer as £2 miljoen se nuwe beleggings gegaan om aandele in Afrikaanse maatskappye te koop, die meeste hiervan deur FVB. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het FVB groot beleggings in visserye, wol, staal, chemikalieë en landbou-implemente gehad. Bonuskor, ’n beleggingsmaatskappy in die Sanlam-groep, was die eerste maatskappy wat op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is, en toevallig het dit op 26 Mei 1948 gebeur, die dag toe die NP die bewind oorgeneem het.
Een van FVB se eerste lenings aan ’n klein Afrikaanse onderneming was aan die maatskappy wat aan ’n jong entrepreneur, Anton Rupert, behoort het. Binne twee dekades sou Rupert die Rembrandt-groep van maatskappye uitbou tot ’n wêreldwye konglomeraat met belange in tabakvervaardiging, wynproduksie en luukse goedere. Daar word geraam dat die Afrikaner se aandeel in sekere dele van die private sektor tussen 1938 en 1975 soos volg gegroei het: mynwese 1% tot 18%, vervaardiging 3% tot 15%, en handel 8% tot 16%.








