’n Herrysende Afrikanernasionalisme

N P van Wyk Louw

N.P. van Wyk Louw (1906-1970) en Elisabeth Eybers (geb. 1915) word algemeen as die vernaamste Afrikaanse digters beskou van die geslag wat D.J. Opperman in sy doktorale proefskrif die “Digters van Dertig” genoem het.

’n Herrysende Afrikanernasionalistiese beweging het sy dinamiek hoofsaaklik uit drie bronne getrek: die ontwikkeling van Afrikaans as ’n hoë kultuurtaal, die uitdra van ’n nasionalistiese geskiedenis en die poging om Afrikaanse sakeondernemings te bevorder.

Afrikaans is in 1925 as amptelike taal erken, al was daar toe nog net ’n paar gerekende werke, hetsy fiksie of vakliteratuur, in die taal. In 1932 was Afrikaans slegs in ’n kwart van die wit sekondêre skole die enigste onderrigmedium, vergeleke met die helfte waar Engels en nog ’n vyfde waar albei gebruik is. Daar is gevrees dat Afrikaans spoedig deur Engels uit die 20% skole wat albei tale gebruik het, uitgedruk sou word. Engelstalige koerante, en veral The Star, was geneig om alle pogings van Afrikanerkant om op gelykberegtiging vir die twee amptelike tale aan te dring, as ‘‘rassehaat’’ te veroordeel wat die verhoudinge tussen die twee wit ‘‘rasse’’ belemmer. Toe F.W. Beyers in 1931 in die appèlhof die eerste uitspraak in Afrikaans lewer, het The Star hom as ’n oud politikus geïdentifiseer wat ‘‘’n uiterste vorm van nasionalisme, veral wat die taalkwessie betref’’, nastreef. C.J. Langenhoven, die voorste skrywer van Afrikaanse volksliteratuur, het eenmaal ergerlik vir ’n Engelssprekende gevra: ‘‘Hoekom is my politiek altyd rassehaat vir jou, en jou rassehaat altyd politiek?’’ Die Afrikaner-Broederbond, saam met sy openbare arm, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, sou die vernaamste organisasie in die burgerlike samelewing word wat toegewy was aan die bevordering van die Afrikaner se ekonomiese en kulturele belange.

Elisabeth Eybers

Elisabeth Eybers

Van die vroeë 1930’s af het Afrikaans voortgestu as ’n openbare en literêre taal en onderrigmedium. Vir digters en romanskrywers, maar ook vir geskiedkundiges en ander skrywers, was die uitdaging om ’n nasionale literatuur met ’n eie karakter op te bou. Die sintaksis en woordeskat van Afrikaans het reeds in groot mate die huidige beslag gekry.

Die vertaling van die Afrikaanse Bybel het in 1933 verskyn en is allerweë toegejuig – anders as met die eerste konsepweergawe waarvan daar gesê is dat dit in ‘‘stompstert Hollands’’ geskryf is. D.F. Malan het die nuwe vertaling verwelkom as die grootste gebeurtenis op die gebied van kultuur en godsdiens in die lewe van die Afrikanervolk. Tussen 1934 en 1937 het begaafde digters soos W.E.G. Louw, Elisabeth Eybers en Uys Krige hul eerste poësiebundels gepubliseer (sien N.P. van Wyk Louw: ’n man van die lettere).

In die 1930’s het ’n nuwe geslag Afrikaners daarna gestreef om hulself te herontdek deur sowel die heldemoed as die lyding van die Groot Trek en die Suid-Afrikaanse Oorlog te erken en te eerbiedig. Skielik het daar ’n stroom boeke oor die oorlog verskyn, tesame met talle artikels in gewilde tydskrifte en koerante, wat byna almal die Boerevegters verheerlik het, veral die heldhaftige weerstand van die bittereinders, en wat byna almal die    klaaglike toestande in die konsentrasiekampe gelaak het, toestande wat grootliks vir die dood van 26 000 Boerevroue en -kinders verantwoordelik was.

Ook die Groot Trek het baie aandag by volksgeskiedkundiges sowel as akademici ge kry, veral namate die honderdjarige herdenking van dié gebeurtenis in 1938 nader ge kom het. N.P. van Wyk Louw se koorspel Die dieper reg beeld die Voortrekkers uit as helde en heldinne wat die ‘‘roepstem van hul bloed’’ gevolg het. Die vierings het D.F. Malan en sy party ’n unieke geleentheid gebied om die boodskap uit te dra dat die Afrikaners ’n volk is wat self die mas moes opkom om te oorleef en steeds net op hulself kon vertrou.

Teen die tweede helfte van 1938 was die vierings, wat deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging gereël is, besig om enorme geesdrif onder die Afrikaners aan te wakker. Nege ossewaens het ’n trek van Kaapstad af onderneem. Die een roete het na Pretoria gelei, waar die hoeksteen van ’n massiewe nuwe monument ter ere van die Voortrekkers op 16 Desember gelê sou word. Dit was die datum van die Slag van Bloedrivier, waar ’n kommando onder Andries Pretorius in 1838 ’n deurslaggewende oorwinning oor ’n groot leër van die Zulukoning Dingaan behaal het. Die ander roete het na die toneel van die veldslag in die noorde van Natal gelei.

Die feestelike herdenking van die Groot Trek in 1938

Die feestelike herdenking van die Groot Trek in 1938 het tot ’n opwelling van geesdrif vir die “Afrikanersaak” gelei.

Om die trek weer te sien afspeel was ’n sensasionele belewenis wat enorme Afrikanergeesdrif aangewakker het terwyl die waens hul weg deur dorpies en stede oor die land heen gebaan het. Afrikanermans en -vroue wat die waens ingewag het, was dikwels in Voortrekkerdrag geklee, en die mans het Voortrekkerbaarde gehad. By plegtige geleenthede is kranse op die grafte van Afrikanerhelde gelê en is strate na Voortrekkerleiers genoem. ‘‘Die Stem van Suid-Afrika’’ is prakties tot die Afrikaners se volkslied verhef, terwyl die volksliedjies uit die FAK se sangbundel deel van die volkskultuur geword het.

Op 16 Desember het ’n skare van 100 000 die hoogtepunt in Pretoria bygewoon. Die joernalis Schalk Pienaar, wat die waens van Kaapstad af vergesel het, het 30 jaar ná die gebeurtenis daaroor geskryf: ‘‘Dit het op ’n positiewe wyse bewerkstellig wat anders met ’n volk op ’n negatiewe wyse gebeur wanneer daar oorlog kom, wanneer die volk homself in sy wese bedreig voel. Die waentjies het . . . die volk van sy bestaan magtig bewus gemaak.’’

Die viering was bedoel om bo die partypolitiek verhewe te wees, maar dit was die NP wat die groot voordeel daaruit getrek het. Op ’n massavergadering op 16 Desember by    Bloedrivier het Malan hom in sterk historiese beelde uitgespreek terwyl hy die benarde toestand van die arm stedelike Afrikaners as die grootste uitdaging vir Afrikaneroorlewing uitgesonder het. Smuts het die viering in Pretoria bygewoon, maar nie gepraat nie. Hertzog het glad nie deelgeneem nie.

Z.K. Matthews, ’n swart intellektueel en leiersfiguur in die ANC, het probeer om ’n positiewe noot te laat hoor. Hy het geskryf dat met die eeufeesviering ’n ‘‘ruimhartigheid en goedgesinde houding teenoor vroeëre vyande’’ aan die dag gelê kon word. Hy het na ’n stelling verwys wat by ’n beraad van die NGK gemaak is, naamlik dat die Voortrekkers sosiale skeiding voorgestaan het sonder om te impliseer dat swart mense ‘‘verdruk en in hul ontwikkeling gestrem’’ moes word. Vir Matthews sou die beste Voortrekkermonument, afgesien van ’n verbetering in die swart gesondheidsdienste en onderwys, die opleiding van swart mense wees ‘‘vir werk onder hul eie mense in dienste tot hul voordeel’’ [sy klem]. Die argitekte van apartheid sou hierdie uitdaging spoedig aanvaar, op ’n manier wat Matthews waarskynlik nie in die gedagte gehad het nie.

Comments are closed.