Genl. Hertzog se breuk met die VP het die Afrikanernasionaliste nie dadelik verenig nie; daar was eerder ’n bitter verdieping van die skeur in die nasionalistegeledere. In Januarie 1940 het dr. D.F. Malan se NP en Hertzog se ondersteuners in die Herenigde Nasionale of Volksparty saamgesmelt, onder die leierskap van Hertzog. Maar terwyl Malan Hertzog geesdriftig ondersteun het, het die meer radikale nasionaliste in die noorde hom gedurig ondergrawe. Hertzog was nie werklik besiel met die idee van ’n republiek nie en het geen ooghare gehad vir die plan van ’n groepie noordelike nasionaliste om Engels as taal, en miskien selfs Engelssprekendes, in ’n onderhorige posisie in te dwing nie. Ná ’n botsing op ’n partykongres het Hertzog hom aan die party onttrek, en het Malan die leier geword.
Dertien van Hertzog se volgelinge in die Parlement het onder sy lojaalste bondgenoot, N.C. Havenga, afgeskei en die Afrikanerparty gestig. Hertzog self was nou ’n ontnugterde man. Hy was gekant teen ’n vorm van demokrasie wat dit moontlik gemaak het om oorlog téén die wil van die mense te verklaar. Die vorm van demokrasie waarin hy geglo het, was nie dié van die Westminster-stelsel nie, maar dié van die ou Boererepublieke. Hy het ook militante ak sie teen die oorlogs poging ontmoedig en die toekomstige entrepreneur Anton Rupert, wat hom in vertroue oor militante weerstand geraadpleeg het, aangeraai om na sy boeke terug te keer. Afrikaners sou ná die oorlog die mag deur middel van die stembus oorneem.

n Erewag van Ossewa- Brandwag-lede verwelkom hul leier, J.F.J. (Hans) van Rensburg. Hy was ’n bewonderaar van Nazi-Duitsland wat parlementêre politiek verwerp het. Hy wou met Duitse hulp ’n outoritêre republiek onder Afrikanerbeheer tot stand bring. Die OB, wat in ’n stadium na bewering met ’n ledetal van meer as 100 000 kon spog, het sy eie “stormtroepe”, die Stormjaers, gehad wat verskeie sabotasiedade gepleeg het. Die OB se gewildheid het vinnig afgeneem nadat D.F. Malan sy volgelinge beveel het om tussen die Nasionale Party en die OB te kies.
Hertzog se sienswyse toon die krisis waarin die demokrasie hom bevind het, maar ook die aanvanklike trekkrag van die Nazi-model. In 1933 het Louis Weichardt die Suid-Afrikaanse Christelik-Nasionale Sosialistiese Beweging gestig, algemeen as die Gryshemde bekend. Dit is deur die gewelddadige antisemitisme en boewery van die Bruinhemde in Duitsland onder Adolf Hitler geïnspireer. Alhoewel die lidmaatskap blykbaar nooit bo 2 000 gestyg het nie, het dit druk op die regterflank van Malan se party uitgeoefen. Tog is die party nie beduidend deur die ver-regses beïnvloed nie.
Gedurende die vroeë oorlogsjare was daar nog twee organisasies wat openlik pro-Duits en ten gunste van ’n diktatuur was. Een was die Nuwe Orde (NO), wat in Septem ber 1940 gestig is, met as leier Oswald Pirow wat voor die skeuring van 1939 ’n lid van Hertzog se kabinet was. In 1942 het dit sewentien parlementêre verteenwoordigers gehad wat in 1938 as VP-lede verkies is en ’n Afrikanervariant van Nasionaal-sosialisme voorgestaan het.
Maar die belangrikste beweging teen die oorlog was die paramilitêre Ossewa-Brandwag (OB), wat gestig is om die ‘‘ossewa-gees’’ van die 1938-vierings in stand te hou. In Januarie 1941 het J.F.J. (Hans) van Rensburg, administrateur van die Vrystaat, die leier van die OB geword. Hy het ’n sterk bewondering vir Nazi-Duitsland gehad en homself as ’n man van aksie beskou, eerder as ’n ‘‘kulturele vuurvreter’’ (’n verwysing na die NP). Hy het ’n veldtog gevoer vir ‘‘’n vrye Afrikanerrepubliek op Nasionaal-sosialistiese grondslag’’. Die OB het parlementêre politiek uitdruklik verwerp. Hulle het gehoop op ’n Duitse oorwinning en hulp vir die skep van ’n Afrikanerrepubliek. Die OB het sy eie afdeling van Stormjaers gehad wat die oorlogspoging met sabotasie en sluip moorde teengewerk het.
Die OB het die golf van Afrikanerontgogeling met ‘‘Brits-Joodse demokrasie’’ so ver gery dat dit ’n massalidmaatskap verwerf het, op 100 000 geskat. Pogings om geesdrif te wek met uniforms, militêre oefeninge en militêre rangkentekens het dit spoedig belaglik gemaak. In Transvaal was etlike prominente Nasionaliste nie slegs OB-lede nie, maar selfs pro minente Nazi-ondersteuners. Albert Geyer, die redakteur van Die Burger, het Nico Die derichs, voorsitter van die Broederbond se uitvoerende raad van 1938 tot 1944, vir ’n ‘‘deurtrapte Nazi” afgemaak. L.J. du Plessis, moontlik die mees invloedryke van alle Broeders, H.G. Stoker, die toonaangewende Calvinistiese denker, en Piet Meyer, adjunksekretaris van die Broederbond, het boeke en artikels gepubliseer waarin denke ná aan Nazi-ideologie weerspieël word.
Malan se NP het voortgegaan om parlementêre politiek te steun en alle gewelddadige weerstand teen die oorlogspoging te verwerp. Maar by feitlik elke geleentheid het Malan verklaar dat Suid-Afrika hom aan die oorlog moet onttrek.
Die regering het van die veronderstelling uitgegaan dat die meeste Afrikaners teen die oorlog gekant is en het die nodige voorsorg getref, met inbegrip van internering. Een oorlogsmaatreël wat veral die boere woedend gemaak het, was dat burgerlikes hul wapens en ammunisie moes inlewer. Malan het geprotesteer: ‘‘Die Afrikaner word in sy eie land as ’n vreemdeling behandel en ontwapen.’’ Die regering het staatsamptenare en onderwysers opdrag gegee om uit die OB te bedank, en aan die einde van 1944 ook uit die Broederbond. Maar die mees gehate maatreël was grootskaalse internering sonder verhoor. John Vorster, ’n jong regsgeleerde wat eerste minister sou word, was onder die geïnter neerdes. In 1944 het J.G. Strijdom, ook ’n toekomstige eerste minister, gevra: ‘‘Watter reg het hulle om ’n oproep tot rassevrede en -samewerking te maak as Afrikaanssprekendes, telkens wanneer Engeland oorlog maak, verneder en onderdruk word?’’

Sophiatown in Johannesburg in die 1940’s. Die aktivistiese Anglikaanse geestelike Trevor Huddleston, wat daar gewoon het, het dit so beskryf: “Sophiatown is nie, en was ook nooit, ’n krotbuurt nie . . . in die aandlig, oor die blougrys waas van die rook van konkas en skoorstene teen ’n saffraangeel hemel, sien jy klein huisies, dig op mekaar en met rooi dakke. Jy sien mense wat in groepe op en af deur die heuwelagtige strate beweeg: mense met bont klere, mense wat, as jy naby hulle kom, kinders is wat speel of dans of rondom die konkas staan.”
Afrikaners het meestal aan die kortste ent getrek, ongeag of hulle die oorlog geopponeer het of nie, deur die manier waarop die regering ’n groot verskeidenheid spesiale permitte uitgereik het, veral vir gerantsoeneerde brandstof en rubber. Die Smuts-regering het in werklikheid die onpartydige staatsdiens opgeskort; dit het die veiligheidsdienste en staatsdiens in uitvoerders van die oorlogsbeleid verander en alle grense tussen die regerende party en die staatsdiens laat vervaag. Dit het die versekering gegee dat niemand opgeroep sou word om oorsee of noord van die ewenaar te veg nie, maar diegene wat vrywillig onderneem het om dit wel te doen, het ’n baie opsigtelike oranje lussie op hul skouers gedra. Dit was ’n politieke onderskeid; een deel van die wit bevolking het die soldaat met die lussie as lojaal gesien, die ander deel as dislojaal. Binne die gewapende magte is die lewe van dié wat geweier het om te veg, versuur en talle was verplig om te bedank. Een praktyk wat die verhoudinge tussen die politieke partye verder vertroebel het, was die departement van militêre intelligensie se gebruik om ge reeld intelligensieverslae aan Louis Esselen, sekretaris van die VP, deur te gee, wat dit dan nie net vír die oorlogspoging nie, maar ook téén die NP gebruik het.
Ander omstrede oorlogsmaatreëls het ook die staatsdiens gepolitiseer. Aangesien ’n groot aantal staatsamptenare by die leër aangesluit het, moes die regering die tweetalig heidsvereistes vir nuwelinge verslap; dit het meegebring dat ’n aantal mense wat net Engels kon praat, na gegradeerde poste bevorder is. ‘‘Veiligheidsvereistes’’ het ook daartoe gelei dat ’n groot aantal Afrikaners wat van anti-oorlog-oortuigings verdink is, bevordering ontsê is, dikwels op die woord van ’n informant. Klagtes van Afrikaners op die spoorweë het so wyd geloop dat die NP-regering in 1948 ’n griewekommissie aangestel het om ondersoek in te stel. Daar was 2 875 spoorwegwerkers wat getuig het dat alhoewel hulle onskuldig aan anti-oorlog-aktiwiteite was, hulle van bevordering weerhou is – vir ’n reeks poste wat vanaf klerk tot hoofbestuurder gestrek het.
’n Sleutelvraag in die vroeë oorlogsjare was of die NP deur die OB en die NO uitoorlê sou word – of sou dit ’n pro-Nazi-party word? ’n Onlangse studie deur Patrick Furlong redeneer dat Malan se NP, die OB en die NO ’n ‘‘onderlinge web’’ gevorm het en dat veral die Nasionaliste in Transvaal ’n ‘‘bastervariant’’ was van ‘‘bestanddele wat aan Euro pese fascisme herinner het sonder om ooit ’n presiese reproduksie daarvan te wees’’. Daar was
inderdaad sekere NP-leiers wie se toesprake in die vroeë oorlogsjare slegs lig vermomde aanvalle op die demokrasie en die regte van Engelssprekendes was. Malan self het in ’nstadium ’n konsepgrondwet vir Suid-Afrika, wat deur Hendrik Verwoerd opgestel is, as ’n besprekingsdokument vir die party aanvaar. Hierin is ’n Christelik-nasionale republiek voorgestel waarin Afrikaans die eerste amptelike taal en Engels slegs ’n tweede taal sou wees.
Maar pogings om Nasionalisteleiers as pro-fascisties uit te beeld, oortuig nie. Dit getuig van ’n swak begrip van sowel die Nazibeweging as Afrikanernasionalisme. Die fascistiese en ander regse bewegings is aangedryf deur ’n sonderlinge verbintenis en willose ge hoorsaamheid aan ’n leier wie se gesag slegs met lewensgevaar teengestaan kon word, deur ’n duidelike politieke geloofsbelydenis en deur ’n operasionele ideologie waarvan aksie ’n vereiste was. Dit sou vergesog wees om die NP in hierdie sin as fascisties of proto-fascisties te beskryf. Malan, en J.G. Strijdom in Transvaal, was verkose leiers en kon uitgestem word. Hul party was oor ’n sleutelkwessie soos die republiek verdeel, en apartheid het nog nie een van die pilare van party-eenheid geword nie. Dit het volgelinge vrygestaan om hul mening te laat hoor, en sonder vrees vir vergelding teen die party uit te vaar. Die NP-leiers het pogings om die paramilitêre styl van die fascistiese bewegings na te aap, onsmaaklik gevind. Furlong kan geen oortuigende bewyse bied dat radikale regse bewegings soos die Ossewa-Brandwag en die Gryshemde enigiets anders as ’n verbygaande impak op die Afrikanernasionalistiese beweging of op apartheid as ’n ideologie gehad het nie.
Sedert vroeg in 1942 het Malan en ander NP-leiers, met inbegrip van Verwoerd en Strijdom, nasionaal-sosialisme onomwonde as ’n vreemde, van buite ingevoerde stroming in Suid-Afrika verwerp en parlementêre demokrasie onderskryf. Hulle het sabotasie deur die Stormjaers, die OB se paramilitêre vleuel, veroordeel. Die groot Afrikaanse kerke het ’n soortgelyke standpunt ingeneem. Die invloedryke Kerkbode, die amptelike mondstuk van die NGK, het in Maart 1941 soos volg verklaar: ‘‘Die Kerk sou hom nooit met enige vorm van oor heersing of inmenging deur die staat kon vereenselwig, soos wat in die Euro pese totalitêre stelsels aangetref word, en wat die kerk in sy vryheid kan ondergrawe nie.’’ In 1945, ’n dag nadat Duitsland oorgegee het, het die pro-oorlog- en pro-regeringsdagblad The Star verklaar: ‘‘Ons veronderstel nie dat dr. Malan en sy dissipels ooit in hul harte Nazi’s was, of dat hulle enige werklike toegeneentheid jeens die Hitler-regime gehad het nie.’’ Die Herenigde Nasionale Party (HNP) was pro-Duits en anti-Brits. Wat hulle wou hê, was nie soseer dat Duitsland moes wen nie as dat Brittanje ’n beslissende oorwinning ontsê moes word.
Tussen 1941 en 1948 het Malan vernuftige strategiese vermoëns aan die dag gelê deur die NP se regse opponente eers te omseil en hulle uiteindelik te verpletter. Die stembus was die enigste behoorlike politieke roete. NP-lede het in 1941 opdrag gekry om uit die Ossewa- Brandwag te bedank. Steun daarvoor, en vir die Nuwe Orde, het gestadig afgeneem, en in die 1943-verkiesing het die NP genoeg selfvertroue gehad om ’n verkiesingsooreenkoms met hierdie organisasies te verwerp.
In 1943 is die verkiesingstryd oor die oorlogkwessie gevoer. Smuts het sy volgelinge om ’n mandaat gevra om enduit met die oorlog deur te gaan en om die wêreld vir die demokrasie te beveilig. Op sy beurt het die NP gevra dat die kiesers die VP se ‘‘imperialisme’’ verwerp en hulle ten gunste van demokrasie vir Suid-Afrikaanse wittes uitspreek.
Die VP het 89 setels gewen en die NP 43. Baie Afrikanerkiesers het buite stemming gebly, maar dit was vir Malan moontlik om daarop aanspraak te maak dat die opposisie weer eens as een geheel gekonsolideer is. Die Burger, die party se mees invloedryke ondersteuner, het die betekenis van die verkiesing in een sin opgesom: ‘‘Vir ons strewes is daar geen ander model as die stembus nie.’’
So is een van die belangrikste politieke strydpunte binne die Afri kanernasionalistiese bewe ging deur diegene gewen wat ten gunste van ’n demokratiese stel sel was – ’n oorwinning oor dié wat ’n diktatuur verkies het. Ná die 1943-verkiesing was die NP nie meer ’n klein party nie, maar het dit die status van ’n alternatiewe regering ver werf. In die 1938- verkiesing het na raming 40% van die Afrikaners vir die VP gestem; in 1943 was die syfer ongeveer 30%. ’n Daling van nog tien persent sou ’n oorwinning binne die bereik van die NP bring. Malan het nou die vrese van die Engelssprekendes begin sus deur te beklemtoon dat die twee wit seksies gelyke taal- en kultuurregte sou hê. ‘‘Ons moet in hierdie land saam woon, ook ná die oorlog,’’ het hy vroeg in 1942 opgemerk. ’n Republiek sou slegs uitgeroep word ná ’n onderling aanvaarbare meningstoetsing, soos ’n referendum.





