In die gebeurtenisvolle jaar 1960 het Harold Macmillan sy ‘‘wind van verandering’’-toespraak in Suid-Afrika se Parlement gelewer. Die Sharpeville-slagting het plaasgevind, die optog van Langa af na die Parlement het opslae gemaak, daar was ’n poging tot sluipmoord op die eerste minister, en ’n wit referendum is gehou om te besluit of Suid-Afrika ’n republiek moet word of nie. Daar was ook die traumatiese dekolonisering van die Kongo, en die koerante was ná die onafhanklikwording van daardie land vol dramatiese verhale van wittes wat uit die Belgiese Kongo vlug en van soldate wat amok maak.
Op 3 Februarie 1960 het Macmillan, die Britse premier, aan die einde van ’n besoek aan verskeie Afrikastate die Parlement in Kaapstad toegespreek. Hy het onder meer gesê: ‘‘Die wind van verandering waai deur die vasteland. Dié groter nasionale bewustheid is ’n politieke feit, of ons daarvan hou of nie. Ons moet dit as ’n feit aanvaar. Ons nasionale beleid moet daarvan kennis neem.’’ Sterk wedywering tussen die Weste en die kommunistiese blok om Afrikastate en ander dele van die Derde Wêreld aan hul kant te kry, was die agtergrond vir dié toespraak. Dit het beteken dat Brittanje nou aan die kant van Afrika-nasionalisme gestaan en teen wittes se oorheersing in enige Afrikastaat gedraai het.
Verwoerd se reaksie was om sy regering se beleid só aan te bied dat dit geklink het of die kru apartheidsideologie van die vorige dekades iets van die verlede was. Die wittes was Europeërs, maar ook deel van Afrika. Hulle het nywerheidsontwikkeling én die Evangelie na Afrika gebring, en boonop die ideale wat as inspirasie vir die Westerse beskawing gedien het. Swartes is op dieselfde regte as mense van alle ander kleure geregtig. Die wittes in Afrika wil met swartes saamwerk en hulle help om hul regmatige plek in Suid-Afrika in te neem. In Verwoerd se visie het die swartes egter net in die reservate hul eie plek gehad.







