Die ANC Wend Hom Tot Die Gewapende Stryd

In Mei 1961 is ’n driedaagse staking uit verset teen die uitroep van ’n republiek onderdruk. Nelson Mandela en ander jonger ANC-leiers het in reaksie hierop, en om druk vir wysigings van die Grondwet te skep, saam met die SAKP ’n insurgensievleuel gestig. Dit is Umkhonto weSizwe (MK) genoem. In Desember 1961 het MK sy eerste tuisgemaakte bomme laat ontplof – die begin van ’n sabotasieveldtog wat twee jaar lank sou duur. Die bomme was veronderstel om ’n laaste uitweg te wees om ‘‘die regering tot sy sinne te bring’’, en eiendom eerder as mense was die teikens. Intussen het die ANC se buitelandse sending onder leiding van Oliver Tambo militêre opleiding vir guerrilla-rekrute probeer reël en internasionale steun vir ’n handelsboikot teen Suid-Afrika begin werf.

Die gebruik van geweld was ’n keerpunt vir die ANC. Die organisasie wou sy eie geheime organisasie apart van MK behou, en was steeds van plan om massabetogings te organiseer, maar plaaslike sleutel-aktiviste, veral dié met vakbond-ervaring, het eerder by MK aangesluit. Verskeie senior ANC-ampsdraers, onder andere Mandela en Sisulu, het reeds van 1953 af ’n gewapende stryd oorweeg.

Tog het hulle gehoop dat verset politieke hervorming sou meebring, en dié hoop is aangewakker deur die internasionale simpatie en steun wat hulle in die 1950’s gekry het. Sou hulle met groter burgerlike ongehoorsaamheid in die 1950’s meer bereik het? Waarskynlik nie, want die ANC se georganiseerde volgelinge was versplinter, en die organisasie het baie min hulpbronne gehad.

Buiten in Port Elizabeth en aan die Oos-Rand het ANC-lede aan die buiterand van die nywerheidsekonomie geleef en gewerk. Hul invloed was dus beperk. In die 1950’s het die ANC danksy welsprekende en knap leiers baie goed daarin geslaag om populêre steun te mobiliseer. Hulle het internasionale steun vir die stryd teen apartheid gekry, en verskeie heldhaftige optredes kon (in die gedaante van mites) as motivering vir latere bewegings en veldtogte ingespan word.

Mandela en Umkhonto weSizwe

Mayibuye en inhegtenisnemings

Comments are closed.