Apartheid het op verskeie pilare gestaan. Die belangrikstes was die beperking van alle mag tot wittes, rasseklassifisering en rasse-sekswette, groepsgebiede vir elke rassegemeenskap, aparte skole en universiteite, ’n einde aan geïntegreerde openbare en sportgeriewe, beskerming vir wittes in die arbeidsmark, instromingsbeheer om die beweging van swartes na die stede te stuit, en ‘‘tuislande’’ vir swartes sodat hulle nie op regte in die gemeenskaplike gebiede aandring nie.
In 1948 was daar net 135 000 meer Afrikanerkiesers as Engelssprekendes. Feitlik geen Engelssprekendes het in die eerste vyftien jaar van die NP se bestaan vir dié party gestem nie, maar in die 1943-verkiesing het meer as 20% van die Afrikaners vir die VP gestem. Daar is algemeen aanvaar dat verreweg die meeste van die sowat 46 000 bruin kiesers die VP gesteun het. Met sy skrale meerderheid van net vyf setels wou die NP dié kiesers van die kieserslys verwyder omdat hulle in etlike kiesafdelings die magsbalans gehad het. Apartheid wou alle Afrikaners verenig met ’n beleid wat sowel rassiste as hervormers sou lok en vir alle dele van die Afrikanervolk aantreklik sou wees. Sterk wit oorheersing en beheer oor swart arbeid is dus belowe.
Apartheid in gemeenskaplike gebiede




