Ná die onstuimige jare 1960 en 1961 is Suid-Afrika gekenmerk deur ’n politieke werklikheid wat grootliks verskil het van die voorafgaande tydperk. Aan die een kant het die land geen sterk bondgenote in die wêreld gehad nie, en dit het gelyk of hy al hoe meer afgesonder sou word; aan die ander kant het die staat swart verset en arbeid so meedoënloos onderdruk dat die politieke orde waarskynlik nie weer uitgedaag sou word nie. Aanvanklik was daar hoop dat die swart ‘‘tuislande’’ wat geskep is, groeipunte vir swart politieke deelname sou word.
In die 1950’s het die NP-regering se konserwatiewe makro-ekonomiese beleid en die verdrukking van swart arbeid die grondslag vir bestendige groei gelê. Begrotingsoorskotte is gebruik om skuld te delg. Die NP het afgesien van vroeëre planne om die myne te nasionaliseer. Daar was weerstand teen buitensporige looneise deur wit werkers. Beleggers was nogtans versigtig. Die vraag was of die staat ’n groot swart uitdaging sou kon baasraak.
Dié twyfel is teen 1961 uit die weg geruim. Die regering het swart weerstand meedoënloos onderdruk. Ná die politieke woelinge in die eerste maande van 1960 is die groot kapitaaluitvloei gestuit deur streng beheer op die repatriasie van winste in te stel. Dit het tot die opbou van groot hoeveelhede private kapitaal in die land gelei. Buitelandse firmas kon dus nie anders as om hul winste in Suid-Afrika te herbelê nie, en plaaslike maatskappye het hul voorbeeld gevolg. Die ekonomie het as gevolg hiervan skielik sterk groei getoon. Buite Suid-Afrika was dit nie dié ekonomiese opbloei wat die aandag van die internasionale gemeenskap getrek het nie, maar eerder die beleid en praktyk van apartheid.
Weerstand, verdrukking en sensuur







