’n Baie Belangrike Verkiesing

’n Koerantopskrif ná die skokoorwinning van die Nasionale Party in 1948.

’n Koerantopskrif ná die skokoorwinning van die Nasionale Party in 1948.

Toe die verkiesingsveldtog van 1948 wegspring, het die VP nie besef hy is diep in die moeilikheid nie. Die skeuringsbesluit van 1939 dat Suid-Afrika aan die oorlog moet deelneem en die ontwrigting van die oorlog het Afrikaners van die VP vervreem. Teen 1948 was daar al hoe meer irritasie met die oorlogsbeperkings wat steeds van krag was. Die lewensduurte het die hoogte in geskiet. Wit boere in die noordelike provinsies was veral ontevrede omdat swart arbeiders van die plase na die stede verhuis het. Hulle wou hê die paswette moet streng afgedwing word.

In die verkiesing op 26 Mei 1948 het D.F. Malan se NP in samewerking met N.C. Havenga se Afrikanerparty (dié is tydens die oorlog gestig, met Hertzog se steun as die kern) gewen met ’n meerderheid van net vyf setels en met net 40% van al die stemme.

Ná die verkiesing het Malan gesê: ‘‘Vandag behoort Suid-Afrika weer aan ons. Vir die eerste keer ná Unie is Suid-Afrika ons eie, en mag die Here gee dat hy altyd ons eie sal bly.’’ Toe hy gesê het Suid-Afrika ‘‘behoort‘‘ aan die Afrikaners, het Malan nie die stryd tussen swart en wit in gedagte gehad nie, maar die mededinging tussen die Afrikaner- en Engelse gemeenskap (laasgenoemde onder die politieke leiding van Jan Smuts en enkele ander Afrikaners).

Talle Afrikaners het gevoel die oorlogsmaatreëls is op hulle gemik. Daar was wilde gerugte dat Afrikaners bloot ná ’n informant se gefluister nie bevorder is nie. ’n Ontleding van die briewerubrieke in die Afrikaanse koerante Die Burger en Die Transvaler bewys die meeste van die skrywers was oortuig dat die VP-regering in die vorige agt jaar teen Afrikaners gediskrimineer het; daarna was voedseltekorte en rantsoenering en die behandeling van oudstryders aan die beurt. Daarteenoor is rasse-aangeleenthede dikwels in die hoofartikels bespreek.

Die NP wat in 1948 aan die bewind gekom het, was eintlik twee partye in een. Die een was ’n party van wit oorheersing wat apartheid ingestel en die kiesers belowe het dat hy wittes se politieke toekoms sou verseker. Die ander was ’n nasionalistiese party wat die Afrikanergemeenskap wou mobiliseer deur die Afrikaner se kultuur in te span – sy opvattings, vooroordele en morele oortuigings, ’n gevoel vir ’n gemeenskaplike verlede, en dieselfde strewes en vrese vorentoe.

Onmiddellik ná die 1948-verkiesing het die regering die laaste simbole van die Britse oorheersing begin verwyder. Hy het Britse burgerskap en die reg op appèl tot die Britse Geheime Raad afgeskaf (1950), ‘‘God Save the Queen’’ as een van die volksliedere en die Union Jack as een van die landsvlae geskrap (1957), en beheer oor die Simonstadvlootbasis by die Britse vloot oorgeneem (1957). Vir Afrikanernasionaliste was die verwydering van dié simbole van Suid-Afrikaanse onderdanigheid ’n oorwinning.

Die NP se opgang was die verhaal van ’n volk in opmars, vol geesdrif oor die ‘‘Afrikanersaak’’, wat sy stempel op die staat afdruk, sy simbole skep en sorg dat sy skole en universiteite ’n duidelike Afrikaanse karakter kry. Met meer politieke beheer het ook sy sosiale selfvertroue algaande sterker geword. In die sakewêreld het Rembrandt, Sanlam, Volkskas en ander Afrikaner-sakeondernemings gou hul Engelse mededingers se agting verdien.

Toe die NP aan die bewind kom, was hy gemobiliseer en gereed om tot aksie oor te gaan. ’n Engelse redakteur het die party se styl in die 1950’s soos volg beskryf: ‘‘Daar gebeur gedurig iets, en daar is altyd kontak. Feitlik geen naweek gaan verby sonder dat daar êrens in elke provinsie ’n party- of openbare vergadering gehou word nie. Daar gaan skaars ’n week verby, of die een of ander minister spreek die mense toe en neem gemaklik en spontaan aan hul groepbedrywighede deel.’’

Die apartheid-aspek van die beleid het die aspek wat die Afrikaner se kultuur waardeer en trots was op wat hy bereik het, geleidelik eenkant toe gedruk. Vir ander mense het dit gelyk asof die Afrikaners ’n beheptheid met hul eie oorlewing het en niks omgee vir die skade en pyn wat die veel swakkeres weens apartheid gely het nie.

Die skrywer Alan Paton het gesê: ‘‘Dis een van die groot raaisels van die Afrikaners se nasionalistiese psigologie dat ’n Nasionalis teenoor sy eie die hoogste standaarde kan hand haaf, maar ’n heel ander peil handhaaf teenoor ander, veral as hulle nie wit is nie.’’ Vir Afrikaners wat die hardvogtige apartheidsbeleid verwerp het, was dit ’n skok dat swartes en bruines hulle desnieteenstaande as deel van die onversetlike oorheersende groep beskou het.

Oorgangsprobleme

Welgesteld, maar magteloos

Die Weste en die NP-bewind

Die Nasionale Party maak opgang

Ons is nie almal so nie

Swart menings oor die 1948 verkiesing

Comments are closed.