Beheer Verswak

Veertig jaar van NP-bewind was moontlik danksy ’n party met ’n hegte ideologie, sterk steun van die Afrikaner-Broederbond en Afrikaanse kerke, gedissiplineerde veiligheidsmagte (behalwe die gevangenisse, waar nie-noodlottige marteling misgekyk is) en die verbrokkelde stand van die swart opposisie.

Dié steunpilare het vanaf die middel-1970’s begin verkrummel. Selfs in 1974 het die sinode van die Ned. Geref. Kerk nog die muwwe Babel-verhaal as ’n gelykenis van God se skepping van verskillende volke bevestig. Hy het apartheid op sulke gronde geregverdig en nierassige lidmaatskap van die Ned. Geref. Kerk verwerp. Teen 1982 het die kerk egter pynlike slae verduur. Hy het hoë prys op sy lidmaatskap van die Wêreldalliansie van Gereformeerde Kerke gestel, maar in 1982 het dié liggaam hom geskors.

Die ergste terugslag was die stappe wat die Sendingkerk (die bruin Ned. Geref. Kerk) in 1982 gedoen het. Hy het die Belhar-belydenis opgestel, wat geen twyfel gelaat het dat die Ned. Geref. Kerk se teologiese steun vir apartheid met die Christelike boodskap in stryd is nie. ’n Beroep is op die Ned. Geref. Kerk gedoen om sy skuld te beken omdat hy ‘‘die morele en teologiese fondamente vir apartheid voorsien’’. Die Ned. Geref. Kerk het oplaas op sy sinodes van 1986 en 1990 met apartheid gebreek deur te verklaar dat die stelsel in stryd met die Bybel is en ’n sondige en groot fout was.

Die Afrikaner-Broederbond het apartheid oplaas ook die rug toegekeer. In 1986 het hy ’n memorandum met die titel ‘‘Basiese grondwetlike waardes vir die Afrikaners se oorlewing’’ vir kommentaar na sy afdelings gestuur. Daarin is gesê dat swart mense op alle vlakke in die regering opgeneem moet word. Die staatshoof hoef nie noodwendig wit te wees nie. Dié stappe het ‘‘berekende risiko’s’’ behels, maar Piet de Lange, die voorsitter van die dagbestuur, het gesê: ‘‘Die grootste risiko’s wat ons tans loop, is om geen risiko’s te loop nie. Ons wil om as Afrikaners te oorleef, asook ons energie en geloof, is die sterkste waarborg.’’

Teen die middel-1980’s was selfs die kabinet verward. Op ’n vergadering van ’n kabinetskomitee in Maart 1986 het Botha opgemerk dat hy nie ten gunste van een mens, een stem in ’n unitêre of federale staat is nie. ‘‘Ek het gedink ons het duidelikheid, maar ek dink nie ons het dit meer nie, want julle wil hê ek moet sê ons is ten gunste van ’n unitêre Suid-Afrika. Julle laat my toe om dit te sê, julle skryf dit in my toesprake in en ek aanvaar dit, maar wat bedoel julle daarmee?’’ Chris Heunis, die minister van konstitusionele ontwikkeling, het opgemerk dat die regering nie weet waarheen hy op pad is nie.

Op voetsoolvlak was daar steeds sterk steun vir apartheid. ’n Peiling van 1984 het vasgestel dat meer as 80% van die Afrikaners (en 35-45% van die Engelssprekendes) die sleutelpilare van apartheid steun: die verbod op geslagsverkeer tussen wittes en ander rasse; gesegregeerde woongebiede, skole en openbare geriewe; aparte kieserslyste vir bruines en Indiërs; en tuislande vir swartes.

Besluitnemers en meningsvormers het egter besef dat apartheid uitgedien was as ’n beleid om wit oorheersing te beskerm en dat dinge moes verander. Daar was ’n sterk illustrasie hiervan toe die Konserwatiewe Party, nadat hy in plaaslike verkiesings van 1988 die meeste dorpe in Transvaal verower het, probeer het om aspekte van maatskaplike
apartheid wat reeds verval het, weer in te stel. Swart mense het onmiddellik met verbruikersboikotte gereageer en plaaslike sakeondernemings verlam. Die sentrale regering het die plaaslike owerhede tot orde geroep.

Nog ’n belangrike pilaar van wit mag, naamlik swart politieke verdeeldheid, het in die 1980’s ook begin verval. Die wanorde in die townships het die meeste swart raadslede verwyder. Die ANC, saam met die UDF, het hom as die oorheersende mag in die swart politiek gevestig. Toe die regering in 1986 na ’n nuwe model begin soek waarvolgens swart mense in politieke strukture opgeneem kon word, ontdek hy dat daar nie meer gematigde swart leiers was met wie hy kon onderhandel nie. Buthelezi wou hê die regering moet eers verklaar dat hy bereid is om magsdeling tussen wit en swart te oorweeg en dat hy Nelson Mandela sou vrylaat. Botha het albei eise geweier. Daar was steeds sterk
vyandigheid tussen die ANC in ballingskap en Buthelezi, maar die regering kon die een swart leier nie meer teen die ander afspeel nie.

Hoewel die veiligheidsmagte in die opstand van 1984-1986 steeds sterk wilskrag getoon het, kon hulle swart teenstand nie uitwis nie. Die polisie het dikwels kru metodes gebruik om skares te beheer. Toe die polisie 20 betogers op 21 Maart 1985 in Uitenhage doodgeskiet het, het ’n regter bevind dat hulle die swart skare uitgelok het en net met wapens met skerp ammunisie gewapen was. Die regter se kommentaar was dat ‘‘die gebruik van dodelike wapens nie die antwoord vir ’n gebrek aan getalle is nie’’. In die tweede helfte van die 1980’s het die staat talle kitskonstabels in die veld gestoot wat ná beperkte opleiding na situasies gestuur is waar hulle soms woedende skares in bedwang moes hou.

Omdat hoë offisiere dikwels weggekyk of selfs stilswyend steun verleen het, het elemente in sowel die leër as die polisie verskeie ‘‘geteikende moorde’’ uitgevoer om die ANC se samehang en doeltreffendheid te vernietig. Die berugste was Eenheid C-10, ’n geheime polisie-eenheid, wat die plaas Vlakplaas naby Pretoria gebruik het om ANC-guerrillas in agente vir die veiligheidspolisie te verander deur hulle te ‘‘draai’’ en dan uit te stuur om vyande van die staat dood te maak.

Die ander was ’n militêre eenheid, die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB), wat hoofsaaklik in die buiteland bedrywig was, maar ook ’n binnelandse sel gehad het – meestal voormalige polisielede wat politieke teenstanders doodgemaak of ernstig aangerand het. ’n Staatsburo het navorsing oor chemiese en biologiese wapens gedoen en was waarskynlik vir verskeie sluipmoorde verantwoordelik. Op streeksvlak het enkele lede van die veiligheidspolisie eie reg gebruik en hul manne beveel om aktiviste dood te maak, of Vlakplaas-agente hiervoor ingeroep. Tien jaar later het verskeie lede van die veiligheidspolisie om amnestie aansoek gedoen omdat hulle in die geval van die ‘‘Pebcodrie’’, die ‘‘Guguletu-sewe’’, die ‘‘Cradock-vier’’ en verskeie ander aktivistegroepe ‘‘geteikende moorde’’ uitgevoer het.

Daar was heelwat bespiegeling of die kabinet of die Staatsveiligheidsraad uitdruklik opdrag vir sluipmoorde op teenstanders van die staat gegee het. Daar is geen bewyse dat uitdruklike opdragte gegee is nie, maar die waarheid is kompleks. Adriaan Vlok en Johann van der Merwe, die polisiehoof, het daarop gewys dat politici doelbewus dubbelsinnige taal gebruik het. Vlok onthou dat hy polisiebeamptes by brandpunte opdrag gegee het om ‘‘’n plan te maak’’, met ander woorde om sleutel-aktiviste ‘‘uit te skakel’’ of te ‘‘neutraliseer’’. Na berig word, het Botha ook sulke opdragte gegee. Daar was ook klaarblyklike gevalle waar regeringsleiers onwettige optrede goedgekeur het. Botha het aan die minister van polisie gesê hy is tevrede met die bomaanval op die Khotso-gebou in Johannesburg se middestad waar aktiviste dikwels byeengekom het.

Ondersoeke na onderhandelings

’n Beroerte en die gevolge daarvan

Die Muur val

Comments are closed.