Vir die oorgrote deel van sy 30 jaar of wat in ballingskap het die ANC ’n sterk wil gehad om die apartheidstaat te konfronteer, maar ’n swak strategie. ANC-uitgewekenes het die eerste tweede dekades belemmerende veronderstellings gehuldig oor watter middele genoeg sou wees om hul doelwitte in die stryd te bereik. In dié tyd het hulle geheime operasies uitgevoer met as uitgangspunt dat gewapende stryd noodsaaklik was om verandering in Suid-Afrika teweeg te bring en dit op sy eie sou regkry. Hiermee is ’n hoeksteen van ’n insurgensie-strategie geïgnoreer. Insurgente wat ’n gewapende stryd aanpak, probeer gewoonlik die wanbalans tussen hul eie militêre swakheid en die vyandelike staat se mag uit die weg ruim.
Twee dekades lank het ANC-uitgewekenes dit agterweë gelaat om politieke steun binne Suid-Afrika te mobiliseer en só ’n mate van gelykheid met die vyand te verkry. Hulle het geen politieke basis geskep wat guerrilla-operasies kon volhou nie. Wettige en halfwettige middele in die land is ook nie benut om politieke organisasies met populêre steun op te bou nie.
Weens die bepaalde strategie wat gevolg is, was die jare in ballingskap vir lede van die verskillende bevrydingsorganisasie ’n veel langer en moeiliker leerervaring as wat werklik nodig was. In die sowat 15 jaar tot 1976, en daarna, het vasberadenheid en breë buitelandse steun hulle grootliks aan die gang gehou. Danksy ’n oorvleuelende verhouding met die SAKP het die ANC militêre opleiding en toerusting van die Sowjetunie en dié se bondgenote gekry. Die Organisasie van Afrika-eenheid (OAE) en dié organisasie se bevrydingskomitee het al die steun wat hulle van jong, arm en dikwels swak bestuurde lidstate kon kry, gemobiliseer.
Anti-apartheidsbewegings in Westerse lande wat deur sowel liberale as kommuniste gesteun is, het druk uitgeoefen op hul onderskeie regerings en sakeondernemings met belange in Suid-Afrika. Later is die ANC geldelik ruim ondersteun deur sommige Westerse regerings, veral dié van Swede.
’n Mislukte militêre strategie







