Ondanks die beroering aan die noordelike grense ná die ineenstorting van die Portugese ryk in 1974 en Swapo se toenemende bedrywighede aan die noordgrens van Suidwes-Afrika het Suid-Afrika se politieke stelsel op die oog af merkwaardig stabiel gelyk. ’n Maand voor die Soweto-opstand van 1976 was die SB-leier Steve Biko in die hof van een ding oortuig: ‘‘Die massa swartes in die land sal al hoe meer uitdagend raak.’’ Die polisie was swak toegerus om groot betogings te beheer, soos genl. Magnus Malan, ’n leiersfiguur in die militêre opset, later sou opmerk. In dié tyd het die kabinet nie eens geweet dat die polisie skerp ammunisie kon gebruik om opstande te onderdruk nie.







