In 1966, die jaar van Hendrik Verwoerd se dood, het dit gelyk of die politieke stelsel onder wit oorheersing rotsvas staan. ’n ‘‘Stille revolusie’’ was egter aan die gang wat die vastigheid van apartheid geleidelik sou ondermyn. In die 1950’s het ’n demografiese verandering van groot belang duidelik begin word. Voorheen het wittes ’n vyfde van die totale bevolking van die land uitgemaak, en daarom kon hulle al die middel- en topposte in die openbare en private
sektor vul. Die getalsverhouding van wittes tot die totale bevolking het egter vinnig begin daal. In 1969 het groot opskrifte in Beeld op ’n “nuwe faktor’’ in Suid-Afrika se politiek gewys: ‘‘Verwoerd se syfers verkeerd: Suid-Afrika word veel swarter.’’ Die swart bevolking het baie vinniger gegroei as wat verwag is. Volgens projeksies sou die wittes, wat tussen 1910 en 1950 ongeveer 20% van die totale bevolking uitgemaak het, teen 1985 tot 15% afneem en vroeg in die volgende eeu tot minder as 10%.
Die ekonomie was verby die vroeë nywerheidsfase waarin die mynwese en landbou oorheers het. Dié bedrywe het swaar gesteun op ongeskoolde en swak opgeleide werkers, van wie baie trekarbeiders was. Werkgewers kon groot getalle ongeskoolde of halfgeskoolde swart en bruin arbeid kwistig inspan sonder om oor produktiwiteit bekommerd te wees. Die paswette en die beperkings op swart politieke en arbeidsorganisasies het seker gemaak dat werkers nie hoër lone kon beding nie. Van die 1960’s af het die vervaardigings-, bouen dienstesektor egter al hoe meer oorheers. Dié sektore het ’n geskoolde en produktiewe werkmag vereis wat met hul gesinne in die stede gewoon het.
Teen die 1970’s was daar ’n nypende tekort aan geskoolde arbeiders. Wittes kon nie meer op hul eie aan dié vraag voldoen nie. Aan die begin van die 1960’s het hulle steeds tot 82% van die middelvlak-arbeidskrag uitgemaak. In 1981 was dit 65%. Werkgewers het al hoe meer bruines, Indiërs en swartes in senior poste opgelei.
Die staat kon swart mense eenvoudig nie meer soos voorheen beheer nie. Die massiewe departement van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling kon die swart vloei na die stede nie meer stuit nie.
Die regering het swart onderwys begin uitbrei om in die toenemend groter vraag na geskoolde arbeid te voorsien. Die tabel toon die drastiese toename in swart leerders op die senior skoolvlak baie duidelik.
Terselfdertyd was daar ’n geleidelike toename in die ‘‘oortollige’’ arbeidspoel wat nie vir die moderne ekonomie van nut was nie. Swart kinders het skoolstanderds bereik waarvan hul ouers maar net kon droom, maar die moontlikheid om formele werk te kry, was kleiner. In die 1960’s het 97% van die skoolverlaters werk gekry, maar in die 1970’s het die syfer tot 72% gedaal. Tydens die Soweto-opstand in 1976 was die meeste oproeriges skoolkinders en werkloses – marginale groepe wat die stelsel kon verlaat sonder om ’n inkomste in te boet.
Die stede het as gevolg van die vinnige swart bevolkingsaanwas al hoe swarter geword. Teen 1970 het 5 miljoen swart mense in die gemeenskaplike gebied van Suid-Afrika in stede en dorpe gewoon (vergeleke met 2 miljoen in 1946). Die stedelike en plattelandse wit bevolking was laer as 4 miljoen. Sakeondernemings het hul bemarkingstrategieë verander om swart verbruikers in ag te neem, en swart arbeiders het kleurskeidslyne in nywerhede afgebreek.
Teen die einde van die 1970’s het yslike informele nedersettings buite-om die stede ontstaan: ’n Halfmiljoen mense het in groter Inanda langs Durban gewoon, 250 000 in Edenvale-Zwartkops naby Pietermaritzburg, 300 000 in Winterveld naby Pretoria, 100 000 in Mdantsane naby Oos-Londen en bykans ewe veel in Kruispad naby Kaapstad se lughawe. Meer as die helfte van die swart bevolking was jonger as 16, en hulle het al hoe meer onder beheer van die regering of hul familie uitbeweeg.
| Swart inskrywing in hoër onderwys sedert 1960 | |||
| Jaar |
Sekondêre skool |
Hoogste skool-standerds |
Universiteitstudente |
| 1960 |
54 598 | 717 | 1 871 |
| 1965 |
66 568 | 1 606 | 1 880 |
| 1970 |
122 489 | 2 938 | 4 578 |
| 1975 |
318 568 | 9 009 | 7 845 |
| 1980 |
577 584 | 31 071 | 10 564 |
| 1985 |
1 192 932 | 34 733 | 49 164 |
| Totale bevolking per statutêre groep, 1951–1987 | ||||
| 1951 |
1970 |
1980 |
1987 |
|
| Swart |
8 560 083 | 15 057 952 | 21 307 749 | 26 313 898 |
| Wit |
2 641 689 | 3 752 528 | 4 453 273 | 4 911 000 |
| Bruin |
1 103 016 | 2 018 453 | 2 554 039 | 3 069 000 |
| Indiër |
336 664 | 620 436 | 794 639 | 913 000 |
| Totaal |
12 641 452 | 21 449 369 | 29 109 700 | 35 206 898 |
‘‘’n Sterk staat en swak onderdane’’




