In 1977 is ’n witskrif gepubliseer waarin P.W. Botha en die weermag beweer het dat Suid-Afrika op feitlik elke terrein van die samelewing deur ’n ‘‘totale aanslag’’ in die gesig gestaar word. Dié bedreiging kon net met ’n ‘‘totale strategie’’ teen ondermynende elemente afgeweer word. Dié stryd moes aan twee fronte gevoer word. Daar was die uitdaging van bevrydingsorganisasies met Marxistiese neigings wat in die buurstate aan die bewind gekom het; binnelands was daar die griewe van ’n ondergeskikte en arm swart bevolking sonder regte. Die politieke bestel waarin wittes oorheers en die vryemarkstelsel sou net oorleef as die sosiaal-ekonomiese toestande in die townships verbeter word.
Van die middel-1970’s het senior generaals in toesprake gehamer op die tema dat die stryd teen revolusionêre magte 20% militêr en 80% sosiaal-ekonomies was. Een het dit so gestel: ‘‘As Suid-Afrika die sosiaal-ekonomiese stryd verloor, hoef ons die militêre stryd nie eens te veg nie. Gebied is nie meer die doelwit nie, maar eerder die hart en verstand van die mense.’’
Op soek na ’n skikking in Suidwes-Afrika
Die progressiewe parlementêre opposisie




