Leierskrisis

Die jare 1976 tot 1978 het die NP-bewind in ’n wesenskrisis gedompel. Noord van sy grense het die situasie al hoe erger geword, en die Soweto-opstand het dwarsoor die land versprei. Met die Sharpeville-opstand van 1960 was daar geen televisie in Suid-Afrika nie, maar nou het die beelde op die skerm geen twyfel oor swart mense se haat vir die wit regeringstelsel gelaat nie.

Die NP-elite is in 1978 verder geskok deur die verskyning van twee boeke oor die Afrikaner-Broederbond (AB). Een daarvan het ’n feitlik volledige lys van die geheime organisasie se lede bevat – 13 262 lede in 914 afdelings. Die organisasie se invloed, wat nog altyd deur geleerdes oorskat is, was reeds aan die taan, en die bekendmaking van die lede se name het die aura van geheimhouding weggeruk (sien Die Afrikaner-Broederbond: praathuis of mag agter die troon?).

Die NP het in 1978 nog ’n klap gekry toe die sg. Inligtingskandaal op die lappe kom. Die al groter internasionale verwerping van apartheid het ’n soort vervolgingswaan laat posvat. Vir hulle was die wêreld in ‘‘vriende van Suid-Afrika’’ en vyande verdeel.

Die regering het meestal op konvensionele maniere probeer om menings te beïnvloed, tot die irritasie van Eschel Rhoodie, die ambisieuse hoof van die departement van inligting. Hy het gereken die opkoms van anti-apartheid-drukgroepe in die Weste was die grootste bedreiging vir die staat, want ’n veldtog om beleggings te onttrek het vinnig veld gewen. Suid-Afrika moes ’n onkonvensionele propaganda-oorlog met groot finansiële hulpbronne voer om negatiewe opvattings oor Suid-Afrika te verander.

Hy het uit die staanspoor die steun geniet van Connie Mulder, minister van inligting en Vorster se oënskynlike opvolger, asook van Hendrik van den Bergh, hoof van die Buro vir Staatsveiligheid. Vroeg in 1974 het Vorster en Nic Diederichs, die minister van finansies, geldelike steun en onuitgesproke steun belowe.

In die volgende vyf jaar is talle geheime projekte van stapel gestuur, wat ’n geskiedenis van smerigheid, korrupsie, verbrekings van valutabeheermaatreëls, moord en leuens in die Parlement meegebring het. Die Engelse pers was een van die dorings in die regering se vlees, en een van die projekte was dus om ’n simpatieke koerant te stig.

Die departement van inligting het The Citizen met geheime staatsgeld op die been gebring. Die Afrikaanse kunsmismagnaat Louis Luyt was sy front. Van die begin af is die koerant se sirkulasiesyfers bekook. Op sy beurt het Luyt sonder welslae probeer om een van die twee Engelse koerantgroepe te koop. Voorts het die departement deur middel van ander fronte probeer om The Washington Star, die Franse tydskrif L’Equipe en ’n Britse beleggerstydskrif te koop.

Sake het in 1977 ’n dodelike wending geneem toe Robert Smit, ’n Afrikaanssprekende kandidaat vir die NP in die komende algemene verkiesing, en sy vrou vermoor is in wat na ’n huurmoord gelyk het. Smit, ’n staatsamptenaar, het voorheen vergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds bygewoon. Toe die Inligtingskandaal op die lappe kom, is daar wyd bespiegel dat hy op die punt was om valutabeheer-skendings te onthul. Niemand is ooit weens die moorde in hegtenis geneem nie.

Teen vroeg 1978 was daar allerlei gerugte oor die departement van inligting se projekte. Vorster het afgetrokke gelyk en Mulder is in die Parlement gekonfronteer met die vraag of die regering The Citzen finansier. Hy het ‘‘nee’’ geantwoord, maar ’n kommissie het later bevind dat dit ’n leuen was. Hy is kort daarna uit die party gedwing. Vorster het sy aandeel probeer wegsteek, maar later as eerste minister bedank en staatspresident geword, in die hoop dat sy kollegas by hom sou staan soos hy so dikwels vir hulle gedoen het.

Op 28 September 1978 het Pieter Willem (P.W.) Botha Mulder net-net in ’n koukusstemming verslaan en die volgende eerste minister geword. Elf maande later is Vorster gedwing om as staatspresident te bedank. ’n Kommissie van ondersoek het bevind dat hy van die onreëlmatige bedrywighede geweet het.

Vorster het enkele van die growwer aspekte van apartheid verwyder, maar die tien jare van stabiliteit tussen die middel-1960’s en die middel-1970’s nooit gebruik om ’n nuwe strategiese benadering te ontwikkel wat Suid-Afrika moontlik op die weg na grondliggende maar vreedsame verandering kon geplaas het nie.

Comments are closed.