Om die gebrek aan enige swart verteenwoordiging in die Driekamerparlement te vergoed, het die regering in 1982 ’n wet aanvaar wat ’n nuwe soort swart plaaslike owerheid geskep het. Hoewel dié liggame feitlik dieselfde formele magte as wit liggame gehad het, was daar groot tekortkominge. Eerstens het die regering dit as ’n teenprestasie vir die uitsluiting van swart mense van die Driekamerparlement voorgehou. Dit is as skande by skade beskou.
Tweedens het dié owerhede geen lewensvatbare inkomstebasis gehad nie. Min mense van die townships het eiendom besit, en gevolglik kon bitter min geld deur eiendomsbelasting en heffings geïn word. In talle townships is die biersale, ’n groot inkomstebron, tydens die Sowetoopstand van 1976 vernietig. Die regering het selfs van die geld waarmee infrastruktuur in die townships verbeter moes word, vir die ontwikkeling van die tuislande gebruik.
Derdens is die owerhede ná verkiesings met lae stempersentasies ingestel. Talle inwoners het nie meer huurgeld of heffings vir water en krag betaal nie. Desondanks het die nuwe rade huurgeld en elektrisiteitstariewe skerp verhoog.
’n Openlike rebellie het in September 1984 in die township Sebokeng in die Vaaldriehoek suidoos van Johannesburg uitgebreek (sien “Die gruwels was orals om my”), op dieselfde dag dat bruin en Indiërverteenwoordigers in die nuwe Driekamerparlement ingehuldig is. Die skare het die voorsitter en onderburgemeester feitlik heel eerste doodgemaak. Dié opstand het tot die middel van 1986 fel gewoed en na die res van die land versprei.
Die verset het veel wyer voorgekom as in 1976, toe die SB-beweging, die belangrikste bron van inspirasie vir die skoolkinders en studente, nie die organisasievermoë gehad het om die verset aan die gang te hou nie. Nou is geestelikes, studente, onderwysers, dosente, sakelui, vrouegroepe en werkers opgeroep om die apartheidstelsel af te takel. Daar was beter strategiese denke en ’n veel suksesvoller beroep op die internasionale mening.
Omdat die pers vryer as in 1976 was, was daar ook veel beter beriggewing oor die verset in die plaaslike en internasionale media, totdat die staat op dié beriggewing toegeslaan het. ANC-leiers, veral Oliver Tambo (wat reeds 25 jaar lank in ballingskap was) en Mandela, Sisulu en Govan Mbeki (wat elk meer as 20 jaar in die tronk was) het bykans mitiese status geniet onder die mense wat by die stryd betrokke was, en ook onder groot dele van die internasionale gemeenskap.




