Tussen 1978 en 1984 het die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) sewe groot operasies met kodename in die suide van Angola uitgevoer: Sceptic (Junie 1980), Protea (Augustus 1981), Daisy (November 1981), Super (Maart 1982), Mebos (Julie-Augustus 1982), Phoenix (Februarie-April 1983) en Askari (Desember 1983). Elk het in verskeie opsigte geslaag, maar hulle het gesamentlik misluk omdat hulle die MPLA en Kubane se slaankrag in die lug nie kon stuit nie. Indien dié ingespan was, sou daar baie meer ongevalle onder die SAW se diens pligtiges gewees het. Askari het die grootste aantal SAW-ongevalle van enige operasie geëis, naamlik 21. Die sterftes het tuis kritiek oor ongevalle op verafgeleë slagvelde ontlok.
Tussen 1985 en 1988 het die wittes se ergste nagmerrie – die gelyktydige onderdrukking van ’n volgehoue binnelandse opstand én ’n grensoorlog – waar geword. Daar was meer as 30 000 Kubaanse soldate in Angola, en nuwe Russiese vliegtuie het Suid-Afrika se vyande ’n mate van oorheersing in die lug gegee. Die gevaar was dat die oorlog in lewens én toerusting al hoe duurder vir Suid-Afrika sou word. Daar was baie op die spel. ’n Vernederende terugtog uit Angola sou die regering duur gekos het, want aggressiewe regses sou beweer het hy het die land uitverkoop. Die Sowjetunie en Kuba was vasbeslote om in Angola te seëvier en ’n veldslag in die Koue Oorlog te wen. ’n Oorwinning sou die weg oopmaak vir insypeling deur Swapo in die noorde van die destydse Suidwes-Afrika.
Ondanks ’n groot Suid-Afrikaanse getalleminderheid het hy ’n belangrike en grootliks ongeroemde oorwinning in Angola behaal. Tydens ’n grootskaalse formele slag by Lomba het Suid-Afrikaanse en Unita-troepe ’n klinkende oorwinning oor Kubaanse en Angolese magte, asook hul Russiese raadgewers behaal. Die Kubaanse en Angolese magte het na Cuito Cuanavale teruggeval. Die Suid-Afrikaanse en Unita-magte het die dorp beleër, maar nie probeer inneem nie, want dit sou maar ’n beperkte strategiese waarde hê. Fidel Castro, ’n meesterlike skepper van mites, het die legende bedink dat die hele oorlog om dié slag van Cuito Cuanavale gedraai het en dat Suid-Afrika die verloorder was.
Castro het ook oordrewe bewerings oor die laaste slag net buite SWA se grens gemaak. In werklikheid was die uitslag onbeslis. Suid-Afrika het bewys dat ’n Kubaanse poging om die grens oor te steek, hom veel meer sou kos as wat hy bereid was om te betaal.
Vroeg in 1988 het die Sowjetunie die Reagan-regering ingelig dat hy graag uit Afrika wil onttrek. Sowel Suid-Afrika as Kuba het hulle nou op so ’n onttrekking voorberei. Die oorlog het Suid-Afrika duur gekos: Tussen 1985-1986 en 1988-1989 het militêre besteding teen konstante pryse met 25% gestyg en oplaas 17,7% van die begroting uitgemaak. Die uitkoms was dubbelsinnig. Suid-Afrika het Unita gehelp om ’n baie sterk mag te word en ’n stokkie gesteek voor Swapo se pogings om ’n militêre teenwoordigheid in SWA te skep. Hy het ook seker gemaak dat ’n illusie van Kubaanse sukses nie ongunstige toestande vir ’n skikking in Afrika skep nie. Swapo het egter polities oorleef en sou ’n vrye verkiesing beslis wen.
Voorts het die Suid-Afrikaanse regering een van sy belangrikste instrumente vir oorlewing uitgeput, naamlik militêre oorheersing in die gebied. Hy het op die SAW as militêre instrument staatgemaak om politieke veranderings in SWA te beheer, maar sodoende is die SAW se achilleshiel oplaas ontbloot, naamlik al hoe meer gesneuwelde wit dienspligtiges. Polities kon die regering dit nie meer bekostig nie. Angola het ook ’n baie duur prys betaal. Baie van sy infrastruktuur is vernietig, talle dorpe is platgevee en honderde soldate van die Angolese leër (en talle Kubaanse bondgenote) het gesneuwel. Daarby is talle burgerlikes dood, vermink of ontheem.
Die weg vir die onafhanklikheid van SWA was nou oop sonder dat dit lyk asof Suid-Afrika se regering dié gebied uitverkoop. P.W. Botha het moontlik tot op die laaste gedink dat Swapo as die oorheersende politieke mag uitgeskakel kon word, maar die meeste militêre bevelvoerders het gereken die hoofdoel is bereik, naamlik die verwydering van die Kubaanse teenwoordigheid en die skepping van toestande vir ’n vreedsame verkiesing. Die verkiesing van ’n grondwetlike vergadering vir SWA het vreedsaam in 1989 plaasgevind. Die gebied het Namibië geword. In die algemeen het Suid-Afrikaanse kiesers positief op dié voorbeeld gereageer.




