In die middel-1970’s het wit heerskappy ’n groot tree agteruit gegee. Ná ’n staatsgreep in Portugal in April 1974 is die mag in dié land se kolonies in Suider-Afrika gou aan swart bevrydingsbewegings oorgedra. Op 24 November 1974 het R.F. (Pik) Botha, later minister van buitelandse sake, die VN se Veiligheidsraad ingelig dat Suid-Afrika met alle middele tot sy beskikking wegbeweeg van diskriminasie. Sulke ontwikkelings het die hoop onder Suid-Afrika se ondergeskikte bevolking kortstondig laat opvlam dat apartheid aansienlik verander sou word. Daar was egter ’n reuse-verskil tussen wat swartes as redelike eise beskou het en wat wittes bereid sou wees om prys te gee. Die hoekstene van apartheid het nog stewig gestaan.







