Die Mandela-presidensie het drie doelwitte probeer nastreef, en elkeen het groot teenstrydighede bevat. Eerstens het pres. Mandela opreg probeer om versoening te bewerkstellig, maar hy het ook die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) ingestel, al het die wit minderheid nie gedink dit sal nasiebou aanhelp nie. Tweedens het sy presidensie hom sterk tot menseregte as grondslag vir buitelandse beleid verbind, maar tuis was Mandela self glad nie gediend met die gedagte van ’n lewenskragtige en selfgeldende opposisie nie. Derdens is ’n markgerigte ekonomiese beleid onder die leierskap van adj.pres. Thabo Mbeki sterk gevestig, as grondslag vir groei én herverspreiding. Terselfdertyd het druk van die regering se kant vir regstellende aksie, saam met betreklike strak arbeidswette, ernstige vaardigheids- en vermoëprobleme asook werkloosheid meegebring.
Die Nasionale Vergadering het Nelson Mandela tot president verkies en F.W. de Klerk en Thabo Mbeki tot adjunkte. Die Nuwe Suid-Afrika het oplaas op 10 Mei 1994 met die inhuldiging van Mandela as president van die Republiek amptelik tot stand gekom. Die ANC het die kabinet met sy 18 minister oorheers. Die NP het ses ministers en twee
adjunkministers in die RNE gehad. Mangosuthu Buthelezi en twee IVP-ministers was ook deel daarvan.




