’n Nuwe Grondwet

Amptelike grondwetlike onderhandelings het byna twee jaar ná pres. F.W. de Klerk se epogmakende toespraak op 2 Februarie 1990 eers by die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) begin. In dié tyd is struikelblokke voor onderhandelings uit die weg geruim. Die eerste, naamlik apartheidswette, is op 1 Februarie 1991 verwyder met De Klerk se aankondiging dat sy regering voornemens is om almal te skrap.

Van die ander struikelblokke is net met moeite ontslae geraak. Met verskeie ooreenkomste (die Groote Schuur-minuut van Mei 1990, die Pretoria-minuut van Augustus 1990 en die D.F. Malan-ooreenkoms van Februarie 1991) het die regering en ANC op ’n onderhandelde politieke skikking besluit. Die ANC het ingestem om die gewapende stryd op te skort, maar wou nie sy gewapende vleuel, MK, ontbind nie.

Kodesa het op 20 Desember 1991 in die World Trade Centre in Kempton Park met sy werksaamhede begin. Die twee grootste partye, die NP en die ANC, het verskillende idees oor die doel daarmee gehad. Die ANC het gesê net ’n verkose grondwetlike vergadering kan ’n grondwet opstel, maar die NP en die IVP was daarteen gekant omdat hulle bang was dat ’n verkose liggaam waarin die ANC waarskynlik die meerderheid sou hê, ’n grondwet sou opstel wat sy eie politieke behoeftes bevredig.

Nogtans het 19 uit die 20 afvaardigings – Bophuthatswana se regering het dit nie onderteken nie – oor ’n verklaring van voorneme ooreengekom wat hulle verbind tot ’n ‘‘verenigde, demokratiese, nierassige en nieseksistiese staat waarin soewereine gesag oor sy hele gebied uitgeoefen word’’. Die begrip ‘‘voldoende konsensus’’ is gebruik, wat beteken het dat die proses net kon vorder wanneer die NP en die ANC saamstem.

Kodesa het vroeg in 1992 weer aan die gang gekom. Aparte take is aan elke van vyf werkgroepe toegeken, maar daar was nog ’n bedreiging vir die proses, naamlik die opkoms van die verregses. ’n Oorwinning deur die Konserwatiewe Party (KP) in ’n tussenverkiesing in die voorheen veilige NP-setel Potchefstroom op 19 Februarie was ’n teken hiervan. Dit was die klimaks van verskeie tussenverkiesings waar die KP die NP verslaan of sy meerderhede erg laat krimp het.

De Klerk moes seker maak dat sy inisiatiewe steeds die wit kiesers se steun geniet, dus het hy ’n referendum vir 17 Maart uitgeroep waarin kiesers moes sê of die hervormingsproses en onderhandelings oor ’n nuwe grondwet moet voortgaan. Meer as 68% het ‘‘ja’’ gestem, en die verregses, wat tot die geweld bygedra het, was in wanorde. Die NP se leiers het ná dié oorwinning stilswyend aanvaar dat hulle groot grondwetwysigings nie nog ’n keer na die kiesers hoef te verwys nie, al het De Klerk belowe dat hy ná afloop van die onderhandelings kiesers se goedkeuring vir die grondwetbeginsels sou kry.

Kodesa verbrokkel

Die ANC kry die oorhand

Die laaste hekkies

Die eerste demokratiese verkiesing

Die finale Grondwet

Die grootste kwellings word verdoesel

Comments are closed.