Daar was ’n stortvloed van politieke bedrywigheid nadat die regering die verbod op die African National Congress (ANC) en ander bevrydings- en buiteparlementêre organisasies op 2 Februarie 1990 opgehef het. Toe Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 vrygelaat is, was daar oral massasaamtrekke om hom te hoor praat. Stakings, straatverset, betogings en ook allerlei soorte geweld het ’n tydperk van groot onsekerheid en potensieel gevaarlike wanorde
ingelui. Tog was die veiligheidsmagte oortuig dat hulle enige onmiddellike uitdaging sou kon baasraak. In November 1992 het die ANC-leiers gesê dat die bewind dalk verswak was, maar dat die ANC hom nie kon omverwerp nie. ‘‘Die bewind beheer nog steeds geweldig baie staats- en militêre hulpbronne,’’ het hulle gesê. Dit was tyd om te begin praat.
Op vergaderings met senior polisie- en militêre offisiere vroeg in 1990 het pres. F.W. de Klerk gesê hulle hoef nie meer bepaalde politieke doelwitte te bevorder of ander te onderdruk nie. Die polisie en weermag moes net misdaad bestry en alle Suid-Afrikaners beskerm. De Klerk het die sterk invloed van militêre en intelligensieraadgewers op die
Botha-regering verwerp en die bevelvoerders van die veiligheidsmagte selde geraadpleeg. Geen reserwemagte sou opgeroep word, of militêre parades gehou of sluipmoorde uitgevoer word nie. Onderhandelaars sou nie driftig uit ’n onderhandelingskamer storm soos die ANC, wat onderhandelings opgeskort en rollende massa-optrede aan die gang
gesit het nie.




