Ná die eerste vrye verkiesing in April 1994 het Suid-Afrikaners ’n gedeelde nasionaliteit en burgerskap gehad, en ook ’n verbintenis om die toekoms saam tegemoet te gaan. Die aanhef van die hoogaangeskrewe Grondwet het burgers aangespoor om die lyding én prestasies van die verlede te onthou. Die landsvlag en volkslied het historiese simbole en liedere suksesvol saamgevoeg. Die verskillende sportsoorte se nasionale spanne het geleidelik meer gemeng geword en is geesdriftig deur almal gesteun, met uitsondering van enkele bittereinders.
Vroeg in die nuwe eeu het verreweg die meeste swartes én wittes verklaar dat hulle trotse Suid-Afrikaners is. Hulle het hul Suid-Afrikaanse identiteit as ’n belangrike deel van hul maatskaplike identiteit beskou. Dié sentiment is daarop gebou dat swartes uit alle groepe oplaas vry was en dat die wittes nie meer hul verdrukkers was nie. Gepaard hiermee was daar geweldige verligting dat Suid-Afrika sonder hulp van buite ’n grondwet kon beding wat algemeen aanvaar is en dat daar geen bloedbad was nie. As president het Nelson Mandela sy rol as groot versoener met grasie gespeel en die oudpolitikus met die grootste aansien ter wêreld geword.
Die verlede het egter steeds nog op die hede gedruk. Suid-Afrika was steeds ’n verwarrende land. Rykes wat hul rykdom onder almal se neus druk, het gewoon naby talle (en al hoe meer) brandarm mense met min of geen vooruitsigte op ’n vaste werk nie. Enkele staatskole wat vir die bestes ter wêreld kers kon vashou, het voortbestaan in ’n stelsel waarin vier vyfdes van die staatskole ‘‘swak vaar’’. Welgestelde stadsbewoners het steeds die jongste motors gekoop, al het Suid-Afrika een van die hoogste kapingsyfers ter wêreld.
Deur ’n groeiende ekonomie saamgevoeg




