Die Kaapse briewe van Thomas Pringle

Deur MARTHINUS VAN BART
Thomas Pringle (1789-1834), een van die kampvegters vir die opheffing van slawerny in die Britse Ryk, was ook die leier van die enigste Skotse groep Britse Setlaars wat in 1820 na die Oos-Kaap gekom het om ‘n nuwe lewe in Suid-Afrika te begin. Pringle het ‘n taamlik stormagtige ses jaar aan die Oosgrens en in Kaapstad deurgebring voordat hy terug is na Engeland om teen slawernby te veg.
Die meeste van Pringle se eie versameling nagelate manuskripte en briewe het onverklaarbaar verdwyn nadat sy weduwee, Margaret, dit ná sy dood in 1843 aan sy mede-joernalis in Kaapstad, John Fairbairn, vir ’n biografie besorg het. Fairbairn, skoonseun van die omstrede Engelse sendeling dr. John Philip, het dit egter nooit geskryf nie en die Pringle-versameling het soek geraak.
Daarom is die jongste publikasie van die Van Riebeeck-Vereniging, The South African Letters of Thomas Pringle, byeengebring en geredigeer deur Randolph Vigne, van groot waarde. Vigne het die 223 briewe in die Fairbairn-versameling, biblioteke en argiewe opgespoor.
Die korrespondensie van Pringle met Fairbairn, amptenare en individue oor ses jaar maak ’n venster oop op die indertydse Oosgrensgebeure en onthul sake wat sommige historici en politieke skrywers vandag liefs verborge sou laat – soos hoedat ontvoerde Boesman-kinders as geskenke aan Britse Setlaars, soos Pringle, gegee is.
Dit is nie algemeen bekend dat die Skotse Setlaars die plase in die Baviaansriviervallei aan die voet van die Winterberg gekry het wat vyf jaar tevore nog aan die Afrikaanse grensboere behoort het wat in die openbaar by Slagtersnek opgehang is.
Dit was die onteiende grond van Hans Bezuidenhout en Christian Faber, twee van die vyf tereggesteldes wat in 1815 as sogenaamde rebelle ter dood veroordeel is.
Vigne trap op hierdie punt lelik klei deur in voetnota 21, bl. 28, te beweer dat Frederick Bezuidenhout (1873-1815) ’n Koina-werker vermoor het, waarop die Britse regering soldate gestuur het om hom te vang. Hy is doodgeskiet.
Die in detail opgetekende geskiedenis lui egter dat Bezuidenhout en ’n Koina-werker oor ’n lang tyd bloot haaks was en dat dié werker, onder aanmoediging van Britse sendelinge, Bezuidenhout by die landdros verkla het. Bezuidenhout is toe voor die hof gedaag, maar hy het nie opgedaag nie. Dit is toe dat pandoers, Koina-soldate, uitgestuur is om hom te vang. Hy het hom teengesit en is doodgeskiet.
By sy graf het sy familielede hoogs emosioneel besluit om teen die Britse owerheid te rebelleer, maar voordat enigiets daadwerkliks gedoen is, is hulle gevange geneem.
Johannes Bezuidenhout het hom verset en is ook doodgeskiet, terwyl sy vrou en kind gewond is. Vyf ander “rebelle” is op dramatiese wyse in die openbaar aan een galgbalk opgehang. Die rieme het gebreek en die prosedure is herhaal.
Die verhoorlanddros was kol. Jacob Glen Cuyler, ’n Amerikaans-gebore veteraan aan Britse kant in die Slag van Blaauwberg van Januarie 1806.
"'n Boerewoning op 'n Sondagaand," is die titel van hierdie skets van 1885, gemaak deur die Duitse reisiger-kunstenaar Heinrich Egersdörfer. Dit beeld die tipiese Afrikaner-gesin uit. Egersdörfer was daarvoor bekend dat hy realisties en sonder vooroordeel was, en dat sy kunswerke die werklikheid besonder getrou weergegee het. Toe hy 'n tyd lank in die Kaap was, het hy en ander 'n weeklikse koerant, The South African Illustrated News, gestig. Dit het egter nie lank voortbestaan nie.

Dit is welbekend dat toe die Skotse Setlaars in 1820 in Grahamstad en die Baviaansriviervallei aangekom het, hulle baie hartlik deur die plaaslike Afrikaner-veeboere, soos Groot Willem Prinsloo, verwelkom is. En toe Jacobus Uys en sy geselskap op trek gegaan het, het eerw. Thomas Philips van hulle afskeid geneem, en ’n Engelse King James-Bybel aan Uys oorhandig om saam op trek na die noorde te neem.
Desnieteenstaande beskryf Pringle die Afrikaners in ’n brief van 25 November 1820, wat op 23 Mei 1821 in ’n koerant, The Courier, in Dundee, Skotland, gepubliseer is, soos volg:
“The Dutch boors, although necessity obliges us sometimes to accept their hospitality, are out of the question in regard to society. In manners and information, they are scarcely equal to the rudest peasantry of England and far inferior to those of ‘Auld Scotland’. This you will say is partial, but it is true.
“Nevertheless, many of them are possessed of considerable property, 1 000 head of cattle, 4 000 or 5 000 sheep and 100 horses, are a moderate stock. I have visited several who possessed property to this extent, besides a good vineyard, and as much corn as their laziness would allow them to cultivate, who nevertheless, had neither a door nor a table in their homes.
“They drink tea water all day long without sugar or cream, the women sitting with Dutch-stoves under their feet, with their arms crossed or with a whip in one hand to chastise the half naked Hottentot girls, who stand waiting their sovereign orders.
“The woman with a needle in her hand is a wonder; yet they exert a commanding influence over all the establishment, including the husband; and no bargain is concluded without consulting them; they also keep the purse, and in paying for cattle I had always to settle accounts with the Vrow.”
Charles Bell, 'n Britse kunstenaar, het hierdie kwaadwillige karikatuurskets gemaak wat kwansuis 'n Afrikaanse Boeregesin van die 1800's uitbeeld. Die gesigsuitdrukkings is die van swape. Hulle sit binnenshuis met die hoed op die kop. Hoenders loop in die vertrek rond. Die Hollandse onderwyser, regs, lees uit die koerant aan hulle voor, want hulle is ongeletterd. Dit is egter 'n welbekende gewoonte by Afrikaners dat die hoeg afgehaal word voordat 'n huis binnegestap word. En waarom sou 'n vrou binnenshuis 'n kappie teen die son dra? Bell het ook die inheemse mense van die Kaapkolonie as dronkaards en primitiewes uitgebeeld. Wanneer hy egter sketse of skilderye van die Engelse gemeenskap gemaak het, is hulle altyd as hoë lui uitgebeeld. Hy het dus van die Britse klassestelsel gebruik gemaak om ander gemeenskappe verspot te laat lyk in uitvoering van sy "nasionale nyd" jeens almal en alles wat nie Engels van herkoms was nie. Hierdie mentaliteit is ook weerspieël in die anti-Afrikaanse propaganda van Britse sendelinge en amptenare, 'n houding wat vandag weer hoog mode is.

Daarmee eggo Pringle dieselfde lasterlikhede wat John Barrow, goewerneursekretaris van lord Macartney in die Eerste Britse Besetting (1795-1803), die omstrede dr.  John Philip, superintendent van die London Missionary Society en vriend van Pringle, asook verskeie ander Britse sendelinge onverpoos oor baie dekades heen in Brittanje kwytgeraak het. Kommissaris-generaal J.A. de Mist van die Bataafse Republiek het in 1803 ’n uitgebreide toer deur die Kaapkolonie onderneem om Barrow se aantygings teen die Afrikaners, wat onder meer ook van wreedheid jeens die inheemse bevolking beskuldig is, grondig te ondersoek. Barrow het dit ook in Travels into the Interior of South Africa, uitgegee in Londen, geboekstaaf. By De Mist se terugkeer het hy geskryf dat hy dit nooit sou kon dink dat Barrow “uit enkel nasionale nyd soveel lasterlikhede kon kwytraak nie”.
Die Setlaars het, soos die Afrikaanse veeboere, op die Oosgrens voortdurend kwaai deurgeloop onder Boesman- en Xhosa-rowerbendes wat opstalle afgebrand, die inwoners vermoor en hul vee geroof het. Dan het die Setlaars, Afrikaners en bruinmense strafkommando’s op die been gebring om die vee te probeer terugkry en die rowers te straf. Die nomadiese Boesmanvroue en -kinders is gevang en as plaaswerkers ingeboek.
In ’n brief van 18 Junie 1821 bedank Pringle kapt. Andries Stockenström vir ’n Boesman-kind wat hy aan hom (Pringle) gestuur het. Pringle het die seun Dugal genoem, na een van die karakters in die roman A Legend of Montrose, 1819, deur sir Walter Scott. Pringle skryf op 7 Maart 1821 aan Scott: “I detest the Boschman’s dasterdly warfare and scorn to use his poisoned arrows.”
En die Koina van die sendingstasie Bethelsdorp noem hy “notorious for their laziness, filth and poverty”.
In ’n brief van 25 Junie 1823 vermeld Pringle dat hy die skedel van ’n Boesman, geïdentifiseer as “Bushman Robber, 5th February 1824” aan die Phrenological Society van die Edinburgh-universiteit in Skotland gestuur het, en een van ’n Xhosa aan Londen. Die Boesmanskedel word tans saam met nog een by die anatomie-departement van die mediese skool by die Edinburgh-universiteit bewaar.
Thomas Pringle wend hom twee jaar ná sy aankoms tot die joernalistiek en bots met die goewerneur lord Charles Somerset omdat die owerheid na sy sin te min vir die Setlaars doen. Hy keer in 1826 terug na Engeland, waar hy ’n skroeiende verslag publiseer oor die wyse waarop die kolonialers, Setlaars inkluis, hul slawe en die inheemse bevolking behandel.
Hy breek egter daarin ’n lansie vir die Afrikaners deur te sê as hulle ’n simpatieke regering kry wat ook na hul belange omsien, sal hulle waarskynlik baie beter met die inheemse mense oor die weg kom.
Die verslag het tot gevolg gehad dat hy in 1827 genooi is om hom by die Anti-Slavery Society in Londen aan te sluit. Hy is in 1834 oorlede toe hy nog as komiteelid waardevolle werk gedoen het.
'n Portret in olieverf van Thomas Pringle in sy vroeë veertigs, geskilder deur James Struthers Stewart.

'n Portret in olieverf van Thomas Pringle in sy vroeë veertigs, geskilder deur James Struthers Stewart.

Comments are closed.