Deur MARTHINUS VAN BART
Die departement kuns en kultuur sleep sy voete om sy jaarlikse subsidie aan die Voortrekkermonument by Monumentkoppie in Pretoria ten volle uit te betaal. Hy het vir die 2011-’12-boekjaar, wat einde vandeesmaand afsluit, R1,9 miljoen vir die instandhouding en bedryf van die Voortrekkermonument begroot, maar R900 000 is nog uitstaande.
Die hele subsidie verteenwoordig slegs 15% van die monument se bedryfsbegroting, waarvan nog net die helfte, R1 miljoen – 8% van die bedryfsbegroting – tot dusver uitbetaal is. Onderhandelinge vir die uitstaande R0,9 miljoen van die huidige boekjaar het tot dusver niks gerealiseer nie.
Daar word egter steeds rondom ’n verhoogde basislyn vir voortgesette subsidiëring onderhandel, aangesien die monument in Julie verlede jaar tot nasionale graad 1-erfenisterrein verklaar is.
Me. Sonja Lombard, besturende direkteur van die Voortrekkermonumentmaatskappy, het aan Erfenis gesê ’n opvatting dat die direksie van die Voortrekkermonument dit sou oorweeg om die monument in staatsbesit te plaas as ’n oplossing vir finansiële volhoubaarheid, is nie juis nie. So iets word glad nie deur die direksie oorweeg nie.
“Die laat uitbetaling van die subsidie werk egter uiters negatief op die maatskappy se kontantvloei. Die monument bly gevolglik sterk afhanklik van skenkings uit die private sektor.”
Die Bloedrivier-monument buite Dundee in KwaZulu-Natal val onder die regstreekse beheer en bestuur van die Monumentmaatskappy en kan dus ook teen dieselfde agtergrond beskou word, het sy gesê.
Die Monumentmaatskappy, voog van die Voortrekkermonument en -natuurreservaat, is ’n maatskappy sonder winsoogmerk. Dus was dit nog nooit vir hom moontlik om met die private sektor en die staat mee te ding met vergoeding vir sy personeel nie. Ten spyte daarvan word die monument deur uiters bekwame en toegewyde personellede met ’n passie vir bewaring bedien.
Oud-genl.maj. Gert Opperman, besturende direkteur van die Erfenisstigting, het aan Erfenis gesê sy samesprekings met die departement kuns en kultuur om die uitstaande subsidiegeld te bekom, het tot dusver niks opgelewer nie. Om alles te vererger is die reeds skamele subsidie verlede jaar onverwags met die helfte besnoei.
“Die besnoeiing het meegebring dat werknemers van die Erfenisstigting en die Voortrekkermonumentmaatskappy vanjaar gemiddeld slegs 30% tot 60% van die vergoeding ontvang wat staatsdienswerkers in soortgelyke poste kry.”
Die Erfenisstigting, wat nog nooit ’n staatsubsidie ontvang het sedert dit in 2002 gestig is nie, en sy Erfenisssentrum, in 2008 opgerig met skenkings van altesaam R13,8 miljoen wat uit die private sektor verkry is, het in die afgelope boekjaar R800 000 van die Dagbreek Trust, R150 000 van Naspers, R150 000 van Absa, R100 000 van kleiner skenkers en nagenoeg R1 miljoen uit eie fondse geïn. Daar is nog ’n tekort van sowat R500 000 om te vergoed vir die verlies van die besnoeide staatsubsidie.
Opperman sê dit is verder betreurenswaardig dat daardie sektor van die gemeenskap wat in ’n landswye opname voorgegee het dat hy die belange van die Voortrekkermonument en die gepaardgaande kultuurerfenis hoog op die hart dra, versuim om beloftes vir skenkings van nagenoeg R800 000 vir die bedryf en instandhouding van die Voortrekkermonument gestand te doen.
Hoewel die Erfenisstigting deurlopend samesprekings met amptenare van die departement kuns en kultuur gevoer het om die subsidie minstens tot op die vlak van die jare voor die besnoeiing terug te bring, is nog geen konkrete besluite aan staatskant geneem om die stigting en die monument uit sy finansiële penarie te help nie. Hul houding is eerder dat die stigting en die monument aan die staat afgestaan word alvorens die subsidie vergroot sal word, het Opperman gesê.
“Indien dit sou gebeur, sal die minister van kuns en kultuur die reg verkry om onder meer ’n demografies verteenwoordigende beheerraad vir albei organisasies in te stel. Daarmee kan die staat op die lang termyn nie vertrou word nie.
“Die grootste kommernis van die Erfenisstigting se direksie is hoe die beherende liggaam daarvan in die toekoms saamgestel sal word indien die stigting ingevolge die Wet op Kulturele Instellings van 1999 in staatsbeheer sou kom.
“Die kernvraag is hoe die langtermynbelange van die lede van die stigting, die stigting self én alles wat hy oor die afgelope agt jaar bereik het, teen die potensieel vyandige beheer deur ’n toekomstige minister en amptenare van die departement van kuns en kultuur beskerm kan word.”
Opperman het voorts bekend gemaak die Erfenisstigting se Navorsingstrust (IT 4878/05), wat in 2005 opgerig is, staan tans R2 miljoen sterk en is in staat om verdienstelike navorsingsprojekte oor Afrikaanse kultuur te finansier.
Die Navorsingstrust is as ’n onafhanklike regsentiteit geregistreer, met ’n eie trusteeraad waarop geen direkteur van die Erfenistrust of die Voortrekkermonumentmaatskappy mag dien nie.
Die omskrewe doel met die trust is om sonder winsbejag, en met die samewerking van ander belanghebbende instansies, navorsing rakende enige Afrikaner- en Afrikaansverwante aangeleentheid, in die breedste sin van die woord en in die breër Suid-Afrikaanse konteks, te inisieer, uit te voer, te finansier en te koördineer, ten einde te verseker dat die geld wat vir die doel bekom word, optimaal bestuur en benut word.
Studiebeurse vir gevorderde studie oor Afrikaner- en Afrikaansverwante onderwerpe is jaarliks beskikbaar. Aansoeke vir die finansiering van fiksie, familiegeskiedenis, kongresbywoning, universiteitsregistrasiegeld en kapitale projekte sal nie oorweeg word nie. Navorsing oor genealogie as ’n wetenskap kwalifiseer wel.
Die oorwegende faktor is dat navorsing aan streng akademiese vereistes voldoen. Die navorsingsresultate hoef nie noodwendig in Afrikaans te wees nie, maar die aansoek moet in Afrikaans op die voorgeskrewe vorm gedoen word.
Die trusteeraad word deur ’n adviesraad van navorsingskundiges in ’n raadgewende hoedanigheid bygestaan by die identifisering van navorsingsleemtes, -behoeftes en -prioriteite, asook die verkryging en kanalisering van geld, gehaltebeheer, publikasies, en outeursreg.
) Kandidate wat om ’n navorsingsbeurs aansoek wil doen, kan die nodige vorms van me. Estelle Pretorius by 0 012 325 7885 of navorsing@erfenisstigting.org.za aanvra. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 27 April.
) Kandidate wat om ’n navorsingsbeurs aansoek wil doen, kan die nodige vorms van me. Estelle Pretorius by 0 012 325 7885 of navorsing@erfenisstigting.org.za aanvra. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 27 April.
’n Merkwaardige onderhandeling met die SA Erfenishulpbronagentskap wat onlangs op die inisiatief van die Erfenisstigting suksesvol verloop het, het meegebring dat die stigting voortaan die instandhouding van alle konsentrasiekampbegraafplase uit die Anglo-Boereoorlog by die Saeha oorneem.
’n Bedrag van R750 000 vir die huidige boekjaar is aan die Erfenisstigting oorbetaal. ’n Soortgelyke bedrag sal jaarliks vir dié doel aan die stigting beskikbaar gestel word.
Verskeie bedreigde Afrikaanse erfenisterreine is ook reeds deur die Erfenisstigting oorgeneem, of hy is by die instandhouding daarvan betrokke. Dit sluit die Winburgse Voortrekkermonument en -museum in, waarvoor die Vrystaatse provinsiale regering ’n eenmalige toekenning van R2,5 miljoen aan die stigting gedoen het.
Voorts is die Erfenisstigting ook betrokke by onderhandelings met die departement van kuns en kultuur oor die instandhouding van die Bloedrivier-monument en -natuurreservaat in KwaZulu-Natal, die Vegkop-monument en -museum naby Heilbron, die Hugenote-monument in Franschhoek, en die Louis Tregardt-gedenktuin in Maputo.
Die Erfenisstigting het pas ook vir tien jaar beheer verkry oor die instandhouding en bedryf van die historiese O’Neil se Huis naby die berg Majuba in die distrik Volksrust wat verband hou met die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-’81. Hy kon egter nie eienaarskap verkry nie – dit is in private besit – en die jaarlikse instandhoudingsgeld moet nog van die departement van kuns en kultuur verkry word.
Die Erfenisstigting is in ’n tydelike bystandhoedanigheid ook betrokke by die Doornbult-konsentrasiekampterrein naby Hopetown, Noord-Kaap.
Volgens die Erfenisstigting se amptelike syfers besoek meer as 200 000 betalende toeriste die Voortrekkermonument en aanliggende Erfenissentrum jaarliks. Die monument is die gewildste bestemming.
By die Geloftefeesviering op 16 Desember verlede jaar het minstens 3 000 mense op ’n reënerige dag by die monument opgedaag – teenoor die vorige jaar se 5 000 op ’n sonskyndag. In November 2010 het Afriforum se Monumentfees meer as 30 000 mense getrek.
As elkeen van hierdie begeesterde mense jaarliks net R100 aan die monument en/of die Erfenissentrum skenk, sal dit straks nie nodig wees dat hul eie kultuurerfenis aan die staat boedel oorgee nie.
Die poste van al die personeellede daar wat teen onderbetaling veel meer as hul plig doen, is ook in die gedrang.
’n Grootse gebaar van welwillendheid is nou nodig om hierdie belangrike en kosbare erfenis én die bewakers daarvan tegemoet te kom.
* Opperman het ’n dringende beroep op die publiek en private organisasies gedoen om skenkings aan die Erfenisstigting en/of die Voortrekkermonument te doen. Die Erfenisstigting se lopende rekeningnommer by Absa, takkode 632 005, is 4056 209 535. Die Voortrekkermonument en -natuurreservaat se rekeningnommer, ook by Absa, is 1500 168 990.






