
Jan Rabie in sy studeerkamer, Hy het weinig geduld met die tegnologie gehad - hy het al sy boeke met die hand geskryf en dit dan op 'n rammelkas-tikmasjien oorgetik. Foto: JS Gericke Biblioteek US
Deur MARINA BRINK
Op 2 Maart, by geleentheid van die jaarlikse Woordfees van die Universiteit Stellenbosch (US), word die J.S. Gericke-biblioteek se Dokumentesentrum-lesing oor die lewe en werk van ’n kleurryke kamp-vegter vir Afrikaans, Jan Rabie, aangebied.
Die sentrum is bevoorreg om die hele versameling Rabie- dokumente te kan bevat deurdat dit in Augustus 2000 deur Rabie se vrou, Marjorie (Jorie) Wallace, aan die US geskenk is.
Dit was my en kollega Lynne Fourie se voorreg om, vergesel van John Kannemeyer, na Onrus te ry om Jan se menigte dokumente – waaronder manuskripte van sy boeke, aantekeningboeke, briewe, lesings, toesprake, foto’s en sy belangrike dagboeke – te gaan haal.
Ongelukkig was Jan in daardie stadium reeds baie verswak en opgeneem in Onrus Manor, ’n aftree-oord. Maar sy Jorie was pragtig en sjarmant.
Jan Rabie is op 14 November 1920 op George as een van sewe kinders gebore en het ’n groot deel van sy kinderjare op die plaas Riethuiskraal naby Stilbaai deurgebring, waar sy pa skoolhoof was. Ná die voltooiing van sy skoolloopbaan op Riversdal het Jan na Stellenbosch vertrek, waar hy in 1946, ná ’n onderbreking waartydens hy onderwys gegee het, ’n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands behaal.
Hy het in 1948, nadat hy al ’n vyftal boeke suksesvol gepubliseer het, na Parys vertrek, ’n stad wat byna sewe jaar sy basis in Europa sou bly.
Spoedig het hy die Franse taal onder die knie gekry, die Franse letterkunde van ’n kant af probeer deurlees en met bitter min geld oorleef. Soms het hy gehelp om die vloere van moltreine ná middernag uit te vee. Hy het selfs vir ’n nudistetydskrif vir ’n ietsie ekstra geposeer en omtrent nooit gebad nie, behalwe in munisipale warmbaddens.
Hieroor sê hy in sy outobiografiese skets: “Dit was heerlik om arm te wees en nie om te gee nie omdat jy vry is en in jou toekoms kan glo soos jy wil. Nog meer so vandat ek ’n blakende Skotse skilderessie genaamd Marjorie Wallace ontmoet het en ons ons lief en leed met mekaar kon deel.”
Uys Krige het einde 1952 ’n naweek by hulle aan huis in Parys gaan kuier, en vier maande gebly . . . Luidens Kannemeyer se biografie Jan Rabie bespreek Jan en Uys op ’n dag D.J. Opperman se doktorale proefskrif, en die naam Opperman word in die gesprek dikwels gebruik. Marjorie, wat in dié stadium nog nie Afrikaans geken het nie, brand haar hand op die stoof en skree: “Opperman!” Die twee skrywers kyk haar verbaas aan, waarop Jorie vra: “Isn’t Opperman a terrible swearword in Afrikaans?” Ná Uys se vertrek skilder Marjorie hom soos sy hom onthou. Dié skildery het sy saam met nog ander ook aan die Dokumentesentrum geskenk.
Voor die Rabies se terugkeer na Suid-Afrika het Jan en Jorie op 4 Januarie 1955 voor die Britse konsul in Parys getrou. Vir die geleentheid het Bartho Smit, luidens Kannemeyer, sy ou bruin pak aan Jan geskenk om in te trou. Marjorie moes skoene by Bartho se vrou, Kita, leen omdat sy net sandale besit het. Marjorie wou ’n ring hê sodat sy in Jan se afwesigheid lastige mans met die wys van haar hand kon afskud, maar Jan het vasgestaan: “I’m not giving you a ring; it is the sign of slavery.”
Terug in Kaapstad het hy dadelik agtergekom hoe in sy eie woorde “die afgedwonge blanke meerderwaardigheid se dwase dorings orals uitgesteek het”. Hy skryf talle briewe aan hoofsaaklik Die Burger en lewer betoë om sy misnoeë met die apartheidsbeleid en wat dit besig was om aan die land te doen, uit te spreek. Met sy boek Ons, die Afgod skryf hy die eerste betrokke werk in die eietydse Afrikaanse letterkunde. Dit ontlok meer reaksie as 21, waarmee hy luidens die Kannemeyer-biografie tot “die eksperimentele aanvangsjare van Sestig bydra”. Saam met ander skrywers het hy ’n stryd teen sensuur gevoer.
Elf jaar lank het die Rabies ’n dubbelverdiepinghuis, Cheviot Place 6, Groenpunt, met die skilders Erik Laubscher en sy vrou, Claude Bouscharain, gedeel. Dit was die bymekaarkomplek van menige skrywer en kunstenaar – ook oor die kleurgrens heen – waar heerlik gekuier is.
’n Carnegie-beurs is einde 1965 aan Jan en Marjorie gesamentlik toegeken, wat hulle in staat gestel het om Amerikaanse skrywers en kunstenaars te ontmoet. Hulle het hulle in New York aan die verskriklik hoë geboue en die stampvol Amerikaanse kunsmuseums verkyk.
In sy outobiografie skryf Jan: “My twee onvergeetlikste ondervindinge in dié grootstad: ons stap oor die Brooklynbrug na die oorkant waar Norman Mailer woon; en ek stap deur Harlem, die enigste witman in sig, nie te stadig om voorgekeer te word nie, en nie te vinnig om opgemerk te kan word nie.”
Die Rabies het ook in dié tyd verskillende Amerikaanse universiteite besoek, waar Jan die studente toegespreek het oor rasseprobleme in Suider-Afrika.
Voor hul terugkeer het hulle besluit om Kreta te besoek, maar eers in Athene vertoef om Grieks, veral op straat, te leer. Uiteindelik het hulle 2½ jaar in Eloúnda gebly.
Die roman Klipwieg het Jan tydens hul verbly in Griekeland geskryf, terwyl hy sy “verblyfboek”, ’n Haan vir Eloúnda, terug in Suid-Afrika geskryf het.
Volgens Jan het Griekeland met sy aardse eenvoud hom geleer om die grond raak te sien, lief te hê en te bewerk, om hul eie groente te kweek.
Terug in Kaapstad het hulle besluit om ’n huis te koop, aangesien Cheviot Place intussen in sy geheel deur Laubscher en sy gesin betrek is.
Marjorie het aangedring op ’n huis naby die see, en Jan wou ’n tuin hê. Hulle het so ’n plek op Vermont, naby Onrus, op ’n veiling gekoop. Hier het hulle snags, winter en somer, buite op die stoep geslaap. Jan het geskryf, groentetuin gemaak en geëksperimenteer met seewier en ander kos uit die see, terwyl Jorie in haar ateljee met die wonderlike uitsig geskilder het.
In 1985 is Jan deur die Franse regering met die ridderskap van die Franse Légion d’Honneur (Ere-legioen) vereer vir sy vertalings van Franse boeke na Afrikaans.
Volgens Chris Barnard in Rapport van 7 April 1985 het hy Jan toevallig die oggend van die bekroning gesien, oudergewoonte met sy fiets op pad om onder meer die koerant te gaan koop, maar dié oggend was hy reeds uitgevat in ’n swart kispak, kompleet met ’n das om die nek. Hy het papnat gereën en volgens Barnard “soos ’n Israeliet gelyk wat te laat deur die Rooi See is”.
Daardie aand op die swierige okkasie het Jan “soos ’n kuriositeit gelyk wat sopnat gereën en toe halfhartig drooggeword het”. Boonop het hy sy bruin vellies met rooi veters aangehad!
“Daar sal baie ná hom kom wat hul gebreke met deftigheid en swier sal probeer vergoed. Hý, wat my betref, het daardie aand van die Franse regering iets ontvang wat hoeka al syne was. Jan Rabie is immers ’n ridder gebore,” het Barnard geskryf.
J Die Dokumentesentrum bied sy derde jaarlikse gedenklesing op 2 Maart in die biblioteek se ouditorium aan. Abraham H. de Vries en Dave Pepler gaan oor die merkwaardige figuur Jan Rabie gesels. Ná die lesing sal ’n rondleiding in die Dokumentesentrum volg, waar ’n keur uit die Rabie-versameling besigtig sal word. Dié rondleiding sou deur John Kannemeyer behartig word, maar hy is op Kersdag verlede jaar oorlede.
Van 6 Maart kan dokumente uit die Kannemeyer-versameling in die sentrum daagliks besigtig word om saam te val met die verskillende huldigingsprogramme op die Woordfees ter ere van Kannemeyer.
* Marina Brink is ’n manuskripvakkundige van die Spesiale Versamelings in die Universiteit Stellenbosch se J.S. Gericke-biblioteek.







