Deur PROF. A.W.G. (Andries) RAATH
Die pas verskene boek Niklaas van Rensburg –
die Siener is die verhaal van ’n uitsonderlike persoonlikheid in die geskiedenis van die Afrikaner.
Die intense geloofstoewyding van die gereformeerde Siener van Rensburg was die bron van waaruit hierdie Afrikaner belangrike gebeurtenisse wat sy mense sou raak, buitesintuiglik waargeneem en deur sy tydige mededelings daarvan hulle geestelik én fisiek op toekoms- tige gebeure voorberei het.
Niklaas van Rensburg se vermoë tot heldersiendheid het sy vriend en vertroueling, die Boere-held genl. Koos de la Rey, telkens in staat gestel om gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) beslissende oorwinnings oor die Britse militêre magte te behaal.
Kort nadat De la Rey in Oktober 1899 die Britte by Kraaipan in die Noordweste aangeval en ’n gepantserde trein, Mosquito, gebuit het, beleef Niklaas van Rensburg sy eerste visioen. Daarin speel die hele verloop van die oorlog, wat nog sou plaasvind, voor sy geestesoog af: In beelde sien hy hoe Boerevroue en -kinders na die Britse konsentrasiekampe aangejaag word, hoe die Britse oormag die Boere uit Pretoria noordwaarts dwing, hoe De la Rey na Wes-Transvaal terugkeer en die Boere-kommando’s weer moed laat skep. Maar ook sien Van Rensburg hoedat die Boere die stryd gewonne gee.
De la Rey besef opeens die Siener se heldersiendheid kan die Boere tot groot voordeel wees, en hy doen belangrike krygsbeplanning na aanleiding daarvan. Die visioene oor die veldslae te Ysterspruit en Tweebosch in Noordwes-Transvaal lei tot klinkende oorwinnings vir De la Rey. Merkwaardig is die feit dat Siener haarfyn voorspel het hoedat die Britse aanvoerder, lt.genl. Paul Sanford, lord Methuen, wat van Vryburg na Barberspan onderweg was, ernstig verwond sou word en dat sy magte die slag verloor. De la Rey se kommando’s het die Britte teen die Hartsrivier ’n groot nederlaag toegedien – en daarmee het die soveelste visioen van Siener van Rensburg in vervulling gegaan.
Sy merkwaardige lewe en uitsonderlike gawe was in vele opsigte ongewoon. En hy het nie daarmee te koop geloop nie, maar was beskeie tot nederig, goedhartig en diep gelowig. Hy het sy gawe as ’n Godgegewe vermoë beskou, wat in diens van sy mense, die Afrikaners, aangewend moes word.
Die erenaam wat hy in die oorlog onder sy kamerade verwerf het, het ná die oorlog daartoe gelei dat hy vir die verarmde Afrikaners ’n bron van inspirasie en geestelike krag geword het.
Die verarming weens die Britte se verskroeide-aarde- beleid gedurende die oorlog, die swaarkry van die heropbou van hul lewe en land, en die moeitevolle stryd om die Afrikaanse taal, kultuur en politieke aspirasies tot sy reg te laat kom, het die Siener eerstehands meegemaak. En in laasgenoemde het ook De la Rey ’n leiersrol gespeel.
Van Rensburg het De la Rey as voorste leier van die Afrikaners beskou wat hulle moes help om hul vryheid te herwin. Op sy beurt het De la Rey sterk op Van Rensburg se geestelike advies en heldersiendheid staat gemaak ten einde belangrike besluite oor die toekoms te neem.
Ná Uniewording in 1910 het die politieke vooruitsigte vir die Afrikaners al hoe ongunstiger geword deurdat genls. Louis Botha en Jan Smuts hulle by die Britse Ryk geskaar het. Die Afrikaners se ambisie om hul vryheid terug te kry, het gekwyn namate die Britse oorheersing al hoe sterker geword het.
Siener van Rensburg voorspel reeds tien jaar vooruit dat ’n wêreldoorlog aan die kom was, dat die druk op die Afrikaner sou toeneem en dat ’n volks- opstand, ’n rebellie, voor die deur was. Maar ook sien hy hoedat De la Rey op ’n vreemde wyse sou sterf.
Ongeveer ’n maand voordat die generaal een nag deur ’n polisieman by ’n padblokkade doodgeskiet word, sien die Siener in verbasende besonderhede hoedat De la Rey in Johannesburg se strate onderweg na Wes-Transvaal in “deurmekaar” omstandighede “verdwyn”. Hy sien ook hoe sy doodskis die Hervormde kerk op Lichtenburg binnegedra word, hoe ’n sluier van sy gelaat gelig word: De la Rey, die Leeu van Wes-Transvaal, lê in staatsie.
Op 15 September 1914 is De la Rey, wat per motor saam met genl. C.F. Beyers onderweg was na Wes-Transvaal, in ’n padblokkade deur ’n koeël getref. Hy sterf in die arms van sy eertydse oorlogskameraad.
In 1914 breek die voorspelde volksopstand, die Rebellie, uit. Siener van Rensburg bevind hom in die geledere van ’n kommando onder aanvoering van genl. Jan Kemp wat via Schweizer-Reneke na die grens met Duitswes-Afrika (nou Namibië) beweeg.
Militêre kenners beskryf die merkwaardige tog, van 28 Oktober 1914 tot 21 Januarie 1915, as een van die merkwaardigste epiese togte wat in Suid-Afrika te perd en te voet afgelê is. Die Rebelle was verstommend vasberade om deur die hart van die woestyn te trek, en Van Rensburg se heldersiendheid het hulle betyds teen gevaar gewaarsku sodat hulle in staat was om gevaarpunte te vermy.
Hy lei die sowat 600 burgers veilig na hul bestemming, in weerwil daarvan dat hulle deur meer as 16 000 regeringstroepe agtervolg word. Talle van die oud-rebelle het later vertel dat die Siener “wonderdade deur Gods hand” verrig het.
Met die verhoor van die Rebelle is Siener van Rensburg gevangenisstraf van 18 maande opgelê. Tydens sy aanhouding in die Johannesburgse fort was hy ’n bron van geestelike bemoediging vir die mede-Rebelle-gevangenes. Hy het selfs toe voorspel wanneer en hoe hulle vrygelaat sou word. Só het sy beeld as geeste-like leidsman al hoe sterker geword.
Hy voorspel nog gebeurtenisse van belang vir die Afrikaner: die dood van Louis Botha, toe premier; die Randse stakings van 1922; die dood van genl. Christiaan de Wet, en sy begrafnis aan die voet van die Vrouemonument; die val van die Smuts-regering in 1924; en Siener se eie dood in 1926.
Gebeurtenisse verder in die toekoms het hy ook voorspel: die Ossewa-gedenktrek van 1938, die opkoms van die weerstandsbeweging Ossewabrandwag, die opkoms van die Nasionale Party en verdeeldheid in Afrikaner- geledere, Republiekwording van 1961, en die latere dramatiese regeringsomwenteling.
In sy eie leeftyd het hy sterk beswaar gemaak teen pogings om sy vermoë tot heldersiendheid as blote waarsêery af te maak. Hy het dit beskou as ’n Godgegewe gawe om sy mense in tye van moedeloosheid, verslaentheid en terneergedruktheid te bemoedig en te verseker dat solank as die Afrikaners ’n gelowige volk bly, daar vir hulle ’n toekoms in Suid-Afrika is.
Hy het groot wysheid uit die Bybel geput: Verootmoediging – die kruisiging van die eie-ek; om nie op menslike vermoëns te vertrou en op mense alleen te steun nie, en om nie hoop op mensgemaakte organisasies te bou nie.
Vandag steeds – byna 80 jaar ná sy dood – lees Siener van Rensburg se visioene en mede-delings soos ’n geestelike padkaart vir mense wat onder moeilike omstandighede moet oorleef; vir mense wat weens omstandighede moedeloos en verslae is, en ook vir sommige van daardie Afrikaners wat ervaar dat hulle op alle vlakke en terreine van die samelewing opsygeskuif en toenemend gemarginaliseer word.
Prof. Raath tree op 5 Maart om 11:00 saam met Martiens van Bart op in die Boeketent op die Woordfees van die US in ’n bespreking van die boek Niklaas van Rensburg – die Siener.

Siener Van Rensburg het geglo dat Boere wat op die hulp van God staatmaak, sal seëvier, terwyl diegene, soos genl. Piet Cronjé wat met 4 000 man by Paardeberg oorgegee het, het net op eie vernuf probeer staatmaak. Let op die burgers in die agterste ry wat elk 'n Bybel in die hand hou. Daar was dan ook 'n slagspreuk onder die Boere wat gelui het: "Met God en die Mauser sal ons Suid-Afrika van die Britse juk bevry."
Niklaas van Rensburg – die Siener is deur LAPA-uitgewers uitgegee nadat daar meer as 25 jaar lank aan die manuskrip gewerk is. Die sagtebandboek van 431 bladsye glanspapier bevat byna 700 visioene van die Siener, betroubaar geboekstaaf as die volledigse werk wat nog daaroor saamgestel is. Meer as 250 foto’s, waarvan heelparty nog nie tevore gepubliseer is nie, lig die vertellinge toe.
* Prof. A.W.G. (Andries) Raath is senior hoogleraar in regsgeleerdheid aan die Vrystaatse Universiteit. Van sy bekendste gepubliseerde werke oor die Anglo-Boereoorlog is die biografie van Koos de la Rey en die konsentrasiekamp-gedenkreeks oor die lyding van die Boerevroue.
Foto-byskrifte:
Boere wat diep gelowig was en op die hulp van God staatgemaak het, het op die slagveld geseëvier, terwyl Boere soos genl. Piet Cronjé, wat met 4 000 man by Paardeberg oorgegee het, net op menslike vernuf staatgemaak het, het Van Rensburg gesê. Let op die Bybels in die hande van die agterste ry burgers.
In die publikasie Die Dappere Boodskapper het Boy Mussmann, susterskind van genl. Koos de la Rey, sommige van Siener van Rensburg se visioene uiteengesit. Die blad het tydens die tweede Wêreldoorlog verskyn.












