Deur MARTHINUS VAN BART
Die SA Erfenishulpbronagentskap (Saeha), statutêre erfenis-waghond van die departement kuns en kultuur, word die Ouditeur-Generaal gestriem vir die onreëlmatige besteding van R13, 086 miljoen, waarvan R598 000 ’n vrugtelose geldverkwisting, gedurende die finansiële jaar 2010/2011.
Van R344 889 kon nie ouditbaar rekenskap gegee word - wat sou kon weerlê dat die geld verkwis is nie.
Die verslag is vervat in die Saeha/Sahra Jaarverslag wat nou beskikbaar gestel is.
Die Ouditeur-Generaal sê Saeha kon geen voldoende en toepaslike oudit-getuienis aan hom voorlê vir handelsware ter waarde van R419 351 wat volgens Saeha “verouder” het nie.
’n Tekort aan kontantvloei van R2 848 000, wat van die regering en ander bronne verkry is, is teen 31 Maart 2011 deur die Saeha ondervind sodat voorsieners en werknemers nie betaal kon word nie.
In die vorige finansiële jaar van 2009/2010 was daar ’n tekort van R8,468 miljoen, vermeld die Ouditeur-Generaal.
Die Ouditeur-Generaal sê voorts bevredigende verduidelikings vir groot afwykings tussen beplande en werklike doelwitte is nie volgens die vereiste wetgewing aan hom voorgelê nie. Altesame 44% van die SA Erfenishulpbronagentskap se mislukte doelwitte kon nie aan hom verklaar word nie.
Van die beplande en gerapporteerde doelwitte was 38% nie helder en duidelik omskryf en die vereiste prestasievlakke uitgelig nie. Hiervan was 31% nie meetbaar sodat die vereiste werkverrigting vasgestel kon word nie.
Die boekhouding wat die Saeha vir ouditering voorgelê het, was nie in alle opsigte in ooreenstemming met die algemeen aanvaarbare boekhoupraktyk of ondersteun deur volledige en behoorlik opgestelde verslae nie. Vooraf uitgewyste wanvoorstellings is nie in die finale finansiële state reggestel nie, wat gevolglik ’n verbreking van die toepaslike wetgewing is.
Ook is die finansiële state nie binne twee maande na afloop van die finansiële jaar voorgelê, soos deur die wet vereis nie. Dit is eers op 14 Junie 2011 voorgelê.
Saeha se oudit-komitee het nie volgens die vereistes van die wet gefunksioneer nie, aangesien dit nie korrek saamgestel is nie. Die helfte van die komitee het uit uitvoerende lede bestaan.
Goedere, dienste en werke met ’n transaksiewaarde van meer as R30 000 is nie op ’n billike, regverdige, deursigtige, mededingende en koste-doeltreffende wyse verkry soos deur die wet vereis nie.
Vir goedere en transaksies ter waarde van tussen R30 000 en R500 000 kon geen aanvaarbare, toepaslike en ouditeerbare verantwoording gedoen word nie.
Ook kon daar op geen aanvaarbare wyse verantwoording gedoen word vir twee boukontrakte ter waarde van tussen R30 000 en R500 000 nie. Hierdie kontrakte is boonop toegeken aan aannemers wat nie geregistreer of gekwalifiseerd was om die kontrakte na behore uit te voer, soos voorgeskryf deur die Bounywerheidsraad nie.
Vir goedere en dienste met ’n transaksiewaarde van meer as R0,5 miljoen kon geen belastingklaringsertifikate voorgelê word nie.
Die ouditeur-generaal sê die Saeha het geen doeltreffende stappe geneem om onreëlmatige uitgawes van R13,086 miljoen te voorkom nie. Ook het hy niks doeltreffends gedoen om te voorkom dat R598 000 nutteloos verkwis word nie.
Die bestuur van die Saeha het nie op verantwoordelike wyse toesig gehou om hierdie verkwisting te voorkom en toe te sien dat volgens wetsvoorskrifte opgetree word nie.
Dieselfde tekortkoming het gegeld vir prestasieverslae, voldoening aan wetsvereistes en aanverwante beheer. Die leierskap het nie verantwoordelik opgetree om te verseker dat die Saeha in ooreenstemming met toepaslike wetgewing funksioneer nie. Gereelde, akkurate en voltooide finansiële en prestasieverslae is nie gerugsteun en verantwoord deur betroubare inligting nie. Dit het ook talle foute bevat.
Die Saeha se ouditkomitee het versuim om verantwoordbaarheid en dienslewering in die organisasie te bevorder. Hy het tekortgeskiet in die evaluering en monitering van die werkverrigting om risiko’s te vermy, om na behore toesig te hou oor doeltreffendheid, met inbegrip van finansiële en prestasie-rapportering, asook om volgens voorskrifte van die betrokke wetgewing en die vereistes van ’n behoorlik saamgestelde ouditkomitee te handel, lui die Ouditeur-Generaal se verslag.
(20 Februarie 2012)








