
The South African Commercial Advertiser wat deur lord Charle Somerset verbied is om te voorkom dat hy inligting oor hom publiseer wat in 'n hofsaak na vore gekom het. Somerset is kort daarna na Londen herroep.John Fairbairn, Skotse opvoedkundige wat saam met die (ook) Skotse joernalis en aktivis vir menseregte, Thomas Pringle, en die drukker George Graig aan die stuur van The South African Journal uitgegee het. Greig was ook verantwoordelik vir die South African Chronicle and Merchantile Advertiser en die South African Commercial Advertiser.
Deur MARTHINUS VAN BART
Vir die soveelste keer in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verkeer mediavryheid tans onder beleg deurdat die ANC-oorheersde regering dreig om ‘n mediatribunaal in te stel wat veral die pers sal straf indien hy inligting publiseer wat die regeringslui nie aanstaan nie.
Die eerste regeerder wat die pers gemuilband het om te voorkom dat sy magsvergrype aan die groot klok gehang word, was lord Charles Henry Somerset, Britse goewerneur aan die Kaap die Goeie Hoop van 1814 tot 1826.
“So, meneer, jy is een van diegene wat dit durf waag om my te beledig en my regering teen te staan!” het lord Charles Somerset in Mei 1824 gebulder voordat met ’n tirade van beledigings op die redakteur van The South African Journal, Thomas Pringle, losgetrek het.
Aan sy regterhand het die hoofregter, sir John Truter, gesit, en op die tafel voor hulle was die tweede uitgawe van dié publikasie waarin ’n kritiese artikel oor die swak behandeling van die 1820-Setlaars in die Oos-Kaap onder die loep geneem word.
Dié uitbarsting het gevolg op Somerset se afkondiging pas tevore dat die oggendkoerant The South African Commercial Advertiser van die uitgewer en drukker George Greig van Langmarkstraat, Kaapstad, voortaan eers deur die fiskaal gesensureer moes word alvorens dit gedruk en versprei mag word. Aan die redaksionele stuur van die onafhanklike blad was pringle en ’n mede-Skot en opvoedkundige John Fairbairn.
Hul tussentydse uitgawe, die skyn-amptelike South African Chronicle and Merchantile Advertiser, het in sy vyfde uitgawe in Maart 1824 breedvoerig berig oor ’n lastersaak teen ’n Kaapse prokureur, William Edwards, wat die goewerneur in ’n vlugskrif daarvan beskuldig het dat hy sy amp misbruik. Die verdere publikasie van Edwards se aantygings, wat uiteraard in die hof ter sprake was, het die outokratiese Somerset se woede op die hals gehaal. Hy het summier gelas dat Greig geen verdere blad mag uitgee alvorens dit deur die fiskaal gesensureer is nie. Ook moes hy 10 000 riksdaalders as sekuriteit aan die fiskaal oorbetaal vir geval Greig voortaan nogtans iets onaanvaarbaars (vir die goewerneur) sou publiseer.

Thomas Pringle, joernalis en aktivis vir menseregte. Hy het lord Charles Somerset se outokratiese regeringstyl met alle mag teengestaan. Later het hy sekretaris van die Anti-Slavery Society in Londen geword.John Fairbairn, Skotse opvoedkundige en joernalis
Op Woensdag 5 Mei het die 18de uitgawe van The Commercial Advertiser op straat verskyn. Onder die mashoof was ’n aanhaling van die dramaturg en digter dr. Ben Johnson: “Waar daar geen drukwerk bestaan nie, moet die menigte van elke sodanige nasie barbaars wees.”En die hoofberig op die voorblad lui dat daardie uitgawe van die koerant onder toestande gedruk is wat neerkom op sensuur, alhoewel niks aan die inhoud verander is nie.
Dan volg die berig dat “Sy majesteit se fiskaal” in die uitvoering van ’n amptelike bevel die koerant kort voor publikasie aan sensuur onderwerp het. Die kennisgewing van sensuurskap is in die laataand kort voor die drukwerk gedoen sou word, deur ’n amptelike boodskapper aan die drukkery bestel. Die kennisgewing het die proefblaaie opgeëis en die druk van die koerant verbied alvorens verdere amptelike instruksies ontvang word.
Die berig lui voorts: “Dit is ons plig as Britse onderdane om onder hierdie omstandighede die voortsetting van die publikasie van die koerant vireers in hierdie kolonie te staak totdat ons aansoek gedoen het vir ’n regstelling en toestemming deur sy eksellensie die goewerneur en die Britse regering.”
Greig het toe voortgegaan en ’n spesiale uitgawe met die opskrif “Feite in verband met die staking van South African Commercial Advertiser” uitgegee. Daarin is al die korrespondensie tussen hom, Pringle en Fairbairn, enersyds, en die goewerneuer en sy amptenary, andersyds, blootgelê.
Somerset het dadelik opdrag gegee dat die balju op Greig se druktoerusting beslag lê, en hy is gelas om die Kaapkolonie binne een maand te verlaat.
Dit is toe dat Somerset met ’n soortgelyke sensuuroptrede ook op Pringle en Fairbairn en hul tydskrif, The South African Journal, toegeslaan het.

The South African Commercial Advertiser van John Fairbairn, Thomas Pringle en George Greig.
In reaksie op die hardhandige en outokratiese optrede van Somerset, is petisies in Kaapstad en Grahamstad (indertyd die nedersetting Albany genoem) omgestuur vir ondertekening en die uiteindelike voorlegging aan die koning-in-rade in Londen.
Eers in Mei 1828 het die Britse parlement besluit dat persvryheid van grondwetlike belang is en voortaan deur die hele Britse Ryk sou geld.
In Julie van daardie jaar het John Fairbairn, wat in Londen was om deel te neem aan die onderhandelings vir persvryheid, in Kaapstad aan wal gestap met die wetgewing wat ook hier aan die suidpunt van Afrika persvryheid ingevolge die Britse reg gebring het.
Fairbairn het daarop voortgegaan met die publikasie van die South African Commercial Advertiser. Hy maak onder meer daarin voorspraak vir die instelling van die juriestelsel in die geregshowe, die invoer van merinoskape, die bou van paaie, brûe en bergpasse, asook die verbetering van die onderwys. Ook beveel hy selfregering vir die Kaapkolonie en Natal sonder inmenging van Brittanje aan en bevorder dit persoonlik in 1850 in Brittanje.
In 1845 was hy ’n stigterslid en voorsitter van die direksie van die versekeringsmaatskappy wat mettertyd as die Ou Mutual bekend geword het. Hy was ook Swellendamse parlementslid in die Kaapse parlement. Een van sy bekendste uitsprake was: “Dit was my bedoeling om van hierdie land ’n plek van vry mense te maak.”
In 1859 het hy as politikus daarin geslaag om die Kaapse parlement daarvan te oortuig om wetgewing te aanvaar dat uitgewers voortaan nie langer ’n bedrag aan sekuriteit vir potensiële lasteraksies aan die owerheid moes oorbetaal nie. Hy is op 5 Oktober 1864 in Kaapstad oorlede.
Thomas Pringle het in 1826 na Brittanje teruggekeer en hom op sy digkuns en skryfwerk toegespits. Ook het hy hom vir die opheffing van slawerny wêreldwyd beywer en sekretaris van die Anti-Slavery Society geword. Daardie doel is in 1834 bereik met die algemene vrystelling van slawe. Hy is op 5 Desember 1834 op 46 jaar in Londen oorlede. Sy oorskot is in 1970 na die Oos-Kaap gebring en in ’n familie-plaaskapel in die distrik Bedford begrawe.
In ’n demokratiese bestel is persvryheid, en in die breëre beskou, mediavryheid, een van die steunpilare van die grondwet. Luidens die uiteensetting van die regsgeleerdes prof. S.A. Strauss, prof. J.C. van der Walt en adv. M.J. Strydom in hul publikasie Die Suid-Afrikaanse Persreg, Van Schaik Beperk, Pretoria, 1968, is ’n vrye en verantwoordelike pers een van die grootste bates van enige gemeenskap.

John Fairbairn, Skotse opvoedkundige en joernalis
“In die regstaat is die pers die slagaar waardeur die lewensbloed van die demokrasie vloei. Die pers is die medium waardeur inligting oor sake van die dag verskaf word; waardeur geleentheid tot meningsuiting aan alle burgers – vanaf die hoogste tot die nederigste – gegee word; waardeur nimmereindigende debat gevoer word wat vir gesonde openbare meningsvorming noodsaaklik is; waardeur die owerheid aan voortdurende kritiek onderwerp en tot verantwoording geroep word; waardeur die volksgees en -gewete aangewakker word; waardeur die traes tot aksie aangespoor en die voortvarendes tot versigtigheid gemaan word. In die masjien van die demokrasie is die pers een van die belangrikste veiligheidskleppe.” (Hoofstuk IV, “Persvryheid en die Reg”, bl. 57.)
Die skrywers maan egter dat persvryheid nie beteken dat ’n medium na willekeur enigiets openbaar kan maak nie. Elke besondere gemeenskap stel sekere perke aan dit wat hy as toelaatbaar beskou om te openbaar. En daardie perke en beperkinge vind neerslag in die reg, dus in wetgewing.
“Maar die minimum vereiste vir persvryheid is dat die pers minstens in beginsel vry is om te publiseer sonder voorafgaande magtiging, dus sensuur,” skryf die geleerdes.
Die eerste Afrikaanse perswet was dié van 1858 van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Dit het onder meer gelui: “Vryheid van drukpers is toegestaan, mits de drukker en uitgever verantwoordelijk blijven voor al de stukken die eerschennis, beleediging of aanranding van iemands karakter bevatten.”
Omdat die geskiedenis van persvryheid in Suid-Afrika gelyklopend verweef is met die ontstaan van die moderne demokrasie, is dit dus belangrik om kennis te neem van die pionierstryd van Fairbairn en Pringle teen die hegemonie van outokratiese regering.
* Hierdie artikel het op 28 Augustus 2010 in die rubriek Erfenis van Die Burger se naweekpublikasie BY verskyn.
Aanvullende leesstof: Kaap van Slawe: Die Britse slawebedryf van 1562 tot 1910 – Met spesiale verwysing na die Kaap die Goeie Hoop vanaf 1680 deur Marthinus van Bart, Historical Media, Tokai 2012.
Songs of the Veld and Other Poems: Engelse gedigte oor die Anglo-Boereoorlog, ingelei deur Marthinus van Bart, Cederberg, Kaapstad, 2008.