
Die Kraal, 'n rondawelkompleks wat in 1907 deur die Joodse argitek Hermann Kallenbach van Litaue ontwerp en laat bou is. Gandhi het van 1908 tot 1910 daar gewoon. Die adres is Pineweg 15, Orchards. Dit is nou die Gandhi- en Indiese huismuseum Satyagraha, wat ook 'n gastehuis is. Die Franse toerisme-organisasie Voyageurs du Monde, is die eienaars wat dit laat restoureer en inrig het.
Kallenbach het ’n stuk grond, wat hy Tolstoy Farm genoem het, aangekoop en tot die beskikking van Gandhi en sy volgelinge gestel vanwaar hulle hul veldtog kon loods. Gandhi het die veldtog satyagraha genoem, ’n Sanskrit-woord wat “waarheidskrag” beteken. In 1914 het Kallenbach die rondawel-kompleks verkoop.
Gandhi, sy vrou, Kasturbai Makhanji, en hul seuns, het ook op verskeie ander plekke in Johannesburg gewoon, onder meer by Albermarlestraat 11, Troyeville, en in Bellevue-Oos in ’n huis op die hoek van Albert- en Sharpstraat. Voor die koms van Kasturbai en kinders uit Indië, het Gandhi in Durban en Pretoria gewoon.
Satyagraha House bestaan uit ’n museumlokaal en nege gastekamers. Daar is ook ’n nuut aangeboude gastekothuis in die tuin, met vier jakarandabome. Die restourasiewerk is deur Rocco Bosman behartig. Die museumkurator is Lauren Segal.

Die hoofingang van die Satyagraha-gastehuis wat ook die Gandhi- en Indiese museum huisves. Foto: Voyageurs du Monde
Gandhi het in 1893 as 25-jarige prokureur na Durban gekom om vir gelyke politieke en menseregte vir Indiërs te stry. Daarvoor het hy die Natal Indian Congress in 1894 gestig. By sy terugkeer na Indië ná sy verblyf van 21 jaar in Suid-Afrika, het hy ’n nasionalistiese veldtog teen Britse oorheersing van stapel gestuur. Hy is op 30 Januarie 1948 deur politieke sluipmoordenaars om die lewe gebring. Hy is indertyd as geestelike leier en “vader” van Indië gehuldig, en sy ere-naam, Mahatma, beteken “groot gees”.
Sy verblyf in Suid-Afrika as prokureur en politieke aktivis was in omstredenheid gehul. As pro-Boer het hy groot simpatie met die Afrikaners van die Boererepublieke gehad wat deur Brittanje bedreig en uiteindelik in die Anglo-Boereoorlog oorrompel is. Indië is op dieselfde wyse deur die Britse Ryk oorrompel en van sy rykdom, status en onafhanklikheid beroof.
Gandhi het wel deeglik besef dat hy nie ver sou kom deur openlik vir die Afrikaners kant te kies en sy vyandskap jeens die Britse Ryk ten toon te stel nie. Hy sou eerder voorgee dat die ryk bewonderingswaardig was en dat hy as onderdaan daarvan lojaal is. Hy sou dit dan van binne af beveg.
Hierdie strategie word deur die historikus C.J. Beyers in sy doktorale proefskrif van 1976, Die Indiërvraagstuk in Natal, 1870-1910, as “opportunisties” getipeer. Hy wys daarop dat hoewel Gandhi die Afrikaners goedgesind was, hy hom aan Britse kant geskaar het omdat hy gehoop het dat die kontrakarbeiders en ander Indiërs in Natal daardeur bevoordeel sou word.
In 1894 is alle Indiërs in Natal deur die Britse wetgewende vergadering van die kieserslys gehaal. Gandhi, toe nog maar 25 jaar oud, het probeer om dit te voorkom, maar was onsuksesvol. Hy het toe die Natal Indian Congress gestig om vir Indiërregte in Natal te stry en terseldertyd die diskriminerende optrede van die Britse koloniale regering aan die lig te bring. Weens sy veldtog is hy in 1897 deur ’n skare Natalse Engelse in die openbaar fisiek aangeval en byna opgehang.

Mohandas Karamchand Gandhi se Indian Ambulance Corps het uit Natalse Indiër-vrywilligers bestaan wat die Britse leër tydens die Anglo-Boereoorlog op die slagveld as noodhulpmanne en baardraers bygestaan het. Gandhi sit in die middelse ry regs van die medikus dr. L.P. Booth (met die baard).
Toe die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 uitbreek, is 2 974 Indiërs deur die Britse militêre uit Indië na Natal gestuur om die militêre by te staan. Hiervan was 285 Indiese soldate en 2 000 waterdraers. Altesaam 1 100 Natalse Indiërs het as noodhulplui opgetree, waarvan 300 vrywilligers was wat Gandhi gewerf het om aan die Britse owerheid te demonstreer hoe lojaal hulle aan die kroon was.
Beyers skryf: “Gandhi se beleid ten opsigte van die Indiërs se aandeel aan die Tweede Vryheidsoorlog was dus opportunisties van aard. Die hulp wat hy verleen het om die siekedraers te organiseer, was nie omdat hy geglo het dat die Britte reg gehad het om die oorlog te voer nie, maar om vir die Britte, veral die Natalse Engelse, meer simpatiek teenoor die Indiërs van Natal te stem.”
In weerwil van Gandhi se planne om die Britte te beïndruk, het Indiërs in Noord-Natal hulle by die Boere geskaar. Van hulle het selfs ná die oorlog verkies om in diens van Afrikaners te tree totdat hul vyf jaar -kontrakte verstryk het.
Die Britse militêre het nie veel van die Indian Ambulance Corps gedink nie. Dié Indiese noodhulpmanne het bitter swaar gekry onder Britse bullebakkery, karige rantsoene, kleding en verblyf. Die Britte wou die stryd teen die Boere eintlik sonder die steun van die Natalse Indiërs voer om te voorkom dat hul aansien as oppergesag in Indië dalk daardeur vertroebel kon word. Vier ambulansmanne is in die openbaar met sambokke geslaan nadat hulle van slagveldplundering by Dundee beskuldig is. Britse soldate het egter dieselfde gedoen sonder dat ’n haan daarna gekraai het.
Na afloop van die oorlog het Gandhi se versoek dat die Indiese ambulanskorps sertifikate vir lojale diens ontvang en sommige lede vir uitsonderlike slagvelddiens met medaljes vereer word. Dit is geweier.

Die Britse leër het 285 Indiese soldate van Indië na Suid-Afrika gebring om in die Anglo-Boereoorlog teen die Boere te veg. Die groep op die foto is lede van die regiment Bengal Lancers. Hul deelname is verswyg omdat die Britte nie die indruk wou wek dat hulle die hulp van anderskleurige soldate in die oorlog teen die Boere benodig het nie.
Toe die Zoeloes in 1906 in die sogenaamde Bambatha-rebellie teen Britse oorheersing in opstand gekom het, wou Gandhi die soldate met ’n noodhulpdiens bystaan. Hy kon hierdie keer slegs 24 vrywilligers vir die ambulansdiens gewerf kry.
In dieselfde jaar het die Transvaalse administrasie onder die Britse vlag alle Indiërs verplig om hulle te laat registreer. Gandhi het dit fel teengestaan omdat hulle as derdeklas-burgers verklaar sou word. Hy het sy volgelinge egter gemaan om nie gewelddadig te betoog nie, maar wel op ’n passiewe wyse, satyagraha.
In 1913 het hy ’n groot staking van Indiërwerkers gelei. Dit het egter gewelddadig geword en die Smuts-regering het dit bloedig onderdruk. Gandhi, wat in die tronk aangehou is, het onsuksevol met genl. J.C. Smuts oor ‘n skikking probeer onderhandel. Toe hy die volgende jaar terug is na Indië, het Smuts gesê: “Die heilige het ons oewers verlaat – ek hoop vir altyd.”
In teenstelling met sy aktivisme teen diskriminasie, was Gandhi self buitengewoon diskriminerend teenoor die swartes. Op 7 Maart 1908 het hy in die Indiese meningstydskrif Indian Opinion oor die swartes van Suid-Afrika geskryf: “Hulle is deurgaans onbeskaafd, agressief, vuil, meestal half kaal en byna dierlik. Die mans se enigste ambisie is om ’n hoeveelheid beeste bymekaar te maak sodat hulle vroue daarmee kan koop. Die res van hul lui-lekker lewe lê hulle dan leeg. In Indië is daar nie sulke mense nie.”
Hy was bitterlik daarteen dat die Indiërs saam met die swartes as derdeklas-burgers geklassifiseer word. “Die Indiërs is sonder twyfel oneindig superieur tot die swartes,” het Gandhi gesê.