Walter Whall Battiss het by Boesmans geleer skilder

 
 
 

 

n Selfportret in waterverf van Walter Whall Battiss. Dit word in die Tatham-kunsmuseum bewaar.

n Selfportret in waterverf van Walter Whall Battiss. Dit word in die Tatham-kunsmuseum bewaar.

Deur MARTHINUS VAN BART
Dit is vanjaar 30 jaar sedert Walter Whall Battiss, een van Suid-Afrika se gerekende moderne kunstenaars, op 20 Augustus 1982 in die ouderdom van 76 jaar in Port Shepstone oorlede is. Hy is op 6 Januarie 1906 op Somerset-Oos in die Oos-Kaap gebore.
Om hulde aan Battiss en sy nalatenskap  te bring, word ‘n spesiale tentoonstelling van sy kunswerke, ‘n keur uit die kunsversameling in die Water Battiss-museum in Somerset-Oos, by die Suidoosterfees in Kaapstad, wat van 14 tot 19 Februarie 2012 by die Kunstekaap  in Kaapstad duur, aangebied.
Die Walter Battiss-kunsmu­seum is ingerig in die historiese offisiersmenasie van omstreeks 1815, later verander in die Temperance Hotel, op die ruim hoekerf begrens deur Beaufort- en Paulettestraat. Dit is ’n verklaarde nasionale gedenkwaardigheid.
Die gebou is in April 1994 deur die indertydse Kaaplandse Provinsiale Administrasie vir R64 000 gekoop en as ’n dorpsmuseum laat inrig. In 1981 het dit die Walter Battiss-kunsmuseum geword, wat op 24 Oktober ingewy is. Dit bevat die grootste versameling in die land van Battiss se kuns, naamlik 58 werke, waarvan agt waterverfskilderye is. Die werke verteenwoordig die ontplooiing van sy loopbaanwerk as kunstenaar en strek van die 1940’s tot die laat 1970’s. Battiss het die kunswerke aan die museum geskenk, of, soos hy indertyd gesê het, “aan Somerset-Oos, aan Suid-Afrika en aan die wêreld”.
Volgens mnr. Stefan Hundt, kurator van die Sanlam-kunsversameling wat by die Suidoosterfees se Battiss-uitstalling betrokke is, is daar, naas Battiss se werke, 17 deur genooide kunstenaars, soos Maud Sumner, vier werke van kunstenaars wat op Somerset-Oos woon, asook ’n portefeulje van 20 afdrukke deur verskeie kunstenaars, die sogenaamde Michaelis Print Portfolio.
Dié Battiss-skilderye en ander kunswerke wissel van onvoltooide sketse, olieverfskilderye, akwarelle, potloodsketse, kwaswerk, tapisserieë, houtblok- en sysifdrukwerk tot dié in verskeie ander kunsmediums.
In 2000 is die gebou teen R270 000 gerestoureer en verbeter. Die geld is deur die Oos-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur bewillig.
Battiss se oupagrootjie was John Hartley Battiss, ’n Britse militêre ingenieur wat in die tyd van lord Charles Somerset forte aan die Oosgrens ontwerp en laat bou het. Die kunstenaar is in die woning van sy oupa, ook John Battiss, in Bathurststraat op Somerset-Oos in ’n Engelse Metodiste-familie gebore.
In 1917, toe Walter 11 jaar oud was, is die gesin na die Vrystaat, waar hulle op Koffiefontein en later op Fauresmith gewoon het. Sy maats was die Engelssprekende seuns van die mynwerkers en die Afrikaanse boerseuns van die distrik. Hy het in 1923 daar gematrikuleer, en is toe na Rustenburg, Transvaal, om as klerk in die landdroshof te gaan werk. Daar het hy die kunstenaar Erich Mayer ontmoet en begin skilder. Van sy vroegste werk toon duidelik dat hy deur Mayer beïnvloed is.
In 1927 hou hy sy eerste uitstalling in die Vrymesselaarsaal op die dorp, en in Desember van daardie jaar ontvang hy sy eerste formele kunslesse aan die Johannesburgse Kunsskool.
In 1929 skryf hy hom by die kunsskool van die Witwatersrandse Tegniese Kollege, ook in Johannesburg, in om sy teken- en skildertegnieke te verbeter. Daarna studeer hy vir ’n onderwysdiploma aan die Johannesburgse onderwyserskollege, loop hy klas in BA-vakke aan die Universiteit van die Witwatersrand en ontvang hy onderrig in etswerk. Terwyl hy studeer, werk hy as ’n klerk in die Johannesburgse hooggeregshof.
Op 17 Januarie 1933 begin hy sy nuwe loopbaan as kunsonderwyser by Park School in Turffontein. In 1936 gaan hy na die Pretoria Boys High School en onderneem hy ’n navorsingstudie in Lesotho na die Boesman-rotskuns en -werktuie – wat hy as skoolseun leer ken het op veldekskursies saam met ’n plaaslike geoloog en myningenieur, Alfred Fowler, aan die oewer van die Rietrivier in die distrik Fauresmith. In 1939 skryf Battiss ’n boek oor die Boesmans en hul rotskuns, The Amazing Bushmen.
Walter Battiss se Cattle and Egrets, olie op doek, word in die Pretoria-kunsmuseum bewaar.

Walter Battiss se Cattle and Egrets, olie op doek, word in die Pretoria-kunsmuseum bewaar.

In 1940 trou hy met Grace Anderson, gaan woon in Menlopark, Pretoria, en voltooi sy studie vir die graad BA in die skone kunste aan Unisa. Grace het hom in 1975 ontval.
In 1948 verskyn sy volgende boeke oor rotskuns, South African Paint Pot en The Artists of the Rocks, wat hy opvolg met ’n besoek aan die Namib om ’n tyd lank saam met die Boesmans daar te leef en te jag. In 1951 verskyn sy vierde publikasie in dié reeks, Fragments of Africa, en doen hy verder navorsing oor rotskuns in die Limpopo-vallei en Namibië.
In 1958 hervat Battiss sy onderwyspos by Pretoria Boys High, voordat hy die volgende jaar as professor in skone kunste aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad aangestel word.
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ken in 1964 ’n eremedalje vir kuns aan hom toe, en hy word tot 1971 kunsprofessor aan Unisa. Dié universiteit ken in 1973 ’n eredoktorsgraad aan hom toe.
Battiss se eerstehandse kennismaking met die rotskuns van die voorhistoriese Boesmans van die Vrystaat het so ’n diep indruk op sy jong kunstenaarsgemoed gemaak dat hy in sy latere kunsontwikkeling steeds sy grootste inspirasie daaruit geput het. Van 1936, toe hy kunsonderwyser geword het, het sy belangstelling daarin toenemend gegroei.
Figures and Rocks is een van Battiss se Boesman-rotskuns-geïnspireerde olieverfskilderye wat in die Walter Battiss-kunsmuseum in Somerset-Oos bewaar word, Die skildery sal op die Suidoosterfees te sien wees.

Figures and Rocks is een van Battiss se Boesman-rotskuns-geïnspireerde olieverfskilderye wat in die Walter Battiss-kunsmuseum in Somerset-Oos bewaar word, Die skildery sal op die Suidoosterfees te sien wees.

Prof. A.L. Meiring skryf in Ons Kuns, uitgegee deur die SA Vereniging vir die Bevordering van Kennis en Kultuur, Pretoria, 1961, soos volg oor die invloed van die Boesmankuns op die werk van Battiss: “Dit het hom geleer hoe om die bande wat die akademiese skildertradisie hom opgelê het, af te skud, maar daarna het hy met sy nuutgevonde vernuf om vryelik met vorm, kleur en tekstuur te werk op so ’n ryk ontdekkingstog gegaan, dat hy van alle Suid-Afrikaanse kunstenaars die grootste verskeidenheid kunswerke voortgebring het.
“Hy praat graag van die skat van materiaal wat in die volkskunde en legendes van die nasies van Afrika opgesluit lê. Hulle is die mense wat die simbool al soveel jare as kunsvorm gebruik dat selfs abstrakte kuns lank reeds deur hulle beoefen is en waarskynlik sy oorsprong op ons vasteland gehad het.
“In sy rondtasting na ’n ontsnappingsweg (uit die akademiese skildertradisie) het hy sy eerste groot les van die voorhistoriese kunstenaars geleer: Hulle het nooit natuurtonele of vooropgestelde komposisies geskilder nie, maar wel items. Verder het die voorhistoriese kunstenaar nie van perspektief of van die skaduval gebruik gemaak nie.
“Die abstrakte kuns waarmee Battiss hom besig hou, noem hy prentskrif (picture writing), waarin ’n verwantskap met Afrika se oudste prentskrif, die hiërogliewe van Egipte, te bespeur is.”
Die uitstalling van 33 Battiss-werke op die Suidoosterfees in Kaapstad heet Van die Ooste Ingewaai. Die bekendstelling in die Kunstekaap-operaportaal is op 14 Februarie 2012 om 18:00 deur prof. Jakes Gerwel, feesvoorsitter. Gerwel, wat ook op Somerset-Oos gebore en getoë is, is voorsitter van die Walter Battiss-kunsmuseum.
Die Walter Battiss-kunsmuseum by Paulettestraat 45 op Somerset-Oos. Die grootste versameling Battiss-kunswerke is hier byeen. Hy het dit kort voor sy dood aan die museum geskenk. Die kunsmuseum is in 1981 geopen.

Die Walter Battiss-kunsmuseum by Paulettestraat 45 op Somerset-Oos. Die grootste versameling Battiss-kunswerke is hier byeen. Hy het dit kort voor sy dood aan die museum geskenk. Die kunsmuseum is in 1981 geopen.

 

 

Comments are closed.