Britse Wortels Groei Vas

Lord Charles Henry Somerset

Lord Charles Henry Somerset, goewerneur van die Kaapkolonie van 1814 tot 1826, het outokraties regeer, sensuur op die pers toegepas en die Kaap verengels.

Brittanje het die Kaap tussen 1795 en 1803 tydelik beset, en hoewel hy vasbeslote was om dit ná die tweede besetting van 1806 nie weer prys te gee nie, het die Kaap eers in 1814 formeel ’n Britse kolonie geword. In dié jaar het die groot Europese moondhede ’n vredesverdrag aanvaar om ’n einde te maak aan die oorloë wat kort ná die Franse Revolusie van 1789 uitgebreek het. Brittanje moes die welvarende Oos-Indiese en ander kolonies wat hy tydens die Napoleontiese Oorloë van Nederland verower het, aan hom terugbesorg, volgens die verdrag. Net die Kaap, en wat later Brits-Guinee sou word, het Brits gebly. Die Kaap sou tot 1910, toe dit deel van die Unie van Suid-Afrika geword het, ’n Britse kolonie bly.

Die bestuur van die Kaap was tussen 1795 en 1814 ’n hoogs frustrerende gedoente. In Londen het die Europese oorlog alles oorheers. Goewerneurs moes ses maande vir ’n antwoord op hul vrae wag. Daar was onsekerheid oor die onderskeie bevoegdhede van die burgerlike goewerneur en die militêre bevelvoerder. Die kolonie se finansiële administrasie was in ’n warboel. Voormalige Kompanjiesbeamptes het die goewerneurs aangeraai om omsigtig te werk te gaan. Dit het lank geduur voor Engels as die enigste ampstaal afgedwing is, en selfs toe het dit net in Kaapstad posgevat (sien Verskillende gelowe, verskillende tale).

Toe lord Charles Somerset in 1814 goewerneur aan die Kaap word, was daar geen aanduidings dat die samelewing veel sou verander nie. Die koninklike opdrag het verklaar “u moet die administrasie van Geregtigheid en die Vrede van die Nedersetting so veel as wat omstandighede dit toelaat, uitvoer in ooreenstemming met die wette en instellings wat onder die Ou [m.a.w. Nederlandse] Regering bestaan het”. Die Britte het die Kaap regeer, maar aanvanklik was bitter min daarvan Brits.

Lord Charles Somerset was ’n opperste aristokraat, maar ongelukkig vir hom het hy juis regeer toe nuwe maatskaplike kragte, die gevolg van Groot-Brittanje se snelle ny wer heidsomwenteling, die kolonie tref. Nie net is Somerset hierdeur oorweldig nie, maar die hele maatskaplike en ekonomiese orde wat in die Kompanjiestyd geskep is, is ook weg geswiep. Daar was ’n dubbele “ontploffing”: enersyds die vestiging van Britse setlaars in die grensgebied van die kolonie, en andersyds radikale bestuursveranderings. Dit het ver buite die kolonie se grondgebied ’n invloed gehad, en die raamwerk geskep waarbinne die geskiedenis van die volgende vyftig jaar hom sou uitspeel.

Lord Charles en die setlaars

’n Revolusie in staatsinrigting

Comments are closed.