
Die Christendom én die Islam het klem op geletterdheid gelê. Godsdiens en onderwys was dus nou verweef. Die prent is van die ou skool in Noordhoek.
Die Christelike kerk het feitlik geen rol gespeel om slawerny aan die Kaap te beëindig nie. Van die 1820’s het vername koloniste egter klem geplaas op die rol wat die kerk kon speel om die oorgang van slawerny na vrye arbeid te vergemaklik. Die gedagte dat dit moeilik is om ’n gedoopte Christen-slaaf te dissiplineer omdat die slaaf hom as ’n gelyke sou beskou, het moeilik gesterf. In die eerste helfte van die 19de eeu het die Christen- en Moslem-geloof vinnig onder die slawe posgevat. Sowel Christen-sendelinge as Moslemimams het na meer as net hul volgelinge se geestelike welsyn omgesien. Hulle het slawe en Khoisanwerkers gehelp om by ’n harde en wrede wêreld aan te pas, en in sommige gevalle om die regstelsel te benut om reg te laat geskied. Sowel die Christendom as die Islam het geletterdheid beklemtoon – nie as ’n doel in eie reg nie, maar om die heilige boodskap te verstaan. Godsdiens en onderwys het tot aan die einde van die 19de eeu nou met mekaar geskakel.
Talle Europeërs in die kolonies het hulle nie te veel aan kerkbywoning gesteur nie, maar vir die meeste het die godsdiens hul wêreld verklaar. Die koloniale staat het aanvaar dat ’n enkele ortodokse waarheid die geheime van die skepping en die lewe blootlê, en het daarom sy bes gedoen om godsdienseenvormigheid, en indien moontlik ’n enkele kerkverband, af te dwing. Die Christelike geloof het ’n Europese kolonis se stand in die wêreld bepaal. In die 17de en 18de eeu was die benaming “Christen” in die Europese kolonies veel meer as net ’n godsdiens-aanduiding. Dit was eerder ’n geval van “ons teen hulle”. Soos Winthrop Jordan, ’n kenner van die Amerikaanse kolonies, skryf: “ ’n Christen was beskaafd, in teenstelling met barbaars, Engels eerder as ’n Afrikaan, en wit eerder as swart.”
Die Kaapse koloniste was selfs meer geneig om hul Christelike geloof as ’n politieke en maatskaplike identiteit in te span – moontlik omdat geen enkele Europese nasie die Kaap gekoloniseer het nie. Burgers het hulself dikwels Christene genoem, en is so genoem deur ander. ’n Grensbewoner wat twee lede van sy gemeenskap in die geselskap van ’n Khoi-Khoi en ’n Engelsman sien aankom het, het opgemerk: “Hier kom twee Christene, ’n [Khoi-Khoi] en ’n Engelsman.”
Verspreiding van die Woord, en geletterdheid
Verskillende gelowe, verskillende tale
Die invloed van buitelandse sendelinge




