Marthinus van Bart

Marthinus (Martiens) van Bart is joernalis, koerantbylae-redakteur en spesialisskrywer oor kultuurerfenis- en eiendomsake. Hy is sedert 1976 verbonde aan Die Burger in Kaapstad.

Hy het sy loopbaan in 1967 as aanbiedingsassistent by die SAUK begin. Ná sy diensplig in die SA Vloot in 1968, het hy akademiese opleiding ontvang aan die Randse Afrikaanse Universiteit (BA Geesteswetenskappe) en die Universiteit Stellenbosch (BA  (Hons.) Filosofie en HOD). Hy is ’n lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Marthinus het as redaksielid van Die Burger wyd ervaring opgedoen as verslaggewer in algemene nuus, die landdroshowe en die Kaapse Hooggeregshof, waarna hy onderskeidelik aangestel is as redakteur van die Overbergse streekbylae Hottentots-Holland-Burger, redakteur van die eiendomsbylae Woongids (later WoonBurger, Kaapse Eiendomme, tans Eiendomme), en van 1992 redakteur van die kultuurbylae KultuurKroniek, in 2002 hernoem tot Erfenis, deel van die naweekbylae By.

Hy het oor die jare verskeie toekennings ontvang vir voortreflike bewaringsjoernalistiek, vir kultuurbevordering en die bewusmaking by die publiek van die belangrikheid van die Suid-Afrikaanse volksboukuns en die kultuurgeskiedenis. Onder die toekennings is die goue medalje van die Stigting Simon van der Stel, die silwer medalje van die Stigting VOC, die ere-penning van die Afrikaanse Volkskultuurvereniging en die ATKV, en die Cape Times Centenary Award.

Hy was persoonlik betrokke by verskeie spesiale bewaringsprojekte, soos die restourasie van Hugenote-Gedenkskool, Dal Josafat; die oprigting van ’n Anglo-Boereoorlog-monument (Kaapse Rebelle-monument) op Laborie in die Paarl; die herdenking in 2006 van die Slag van Blaauwberg, en die omvattende restourasie van die historiese St. Stephens-kerk op Riebeeckplein in Kaapstad. Die gebou was aanvanklik in 1802 die eerste openbare skouburg in Suid-Afrika, African Theatre. Marthinus is voorsitter van die St. Stephen’s Restourasietrust, en die projek gaan nou sy derde (en laaste) fase binne.

Twee boeke het al uit sy pen verskyn, naamlik Vir Vryheid en vir Reg, ’n Anglo-Boereoorlog-gedenkboek, en Songs of the Veld and Other Poems, ’n bundel Engelse gedigte uit die Anglo-Boereoorlog (oorspronklik in 1902 in Londen uitgegee, maar in Suid-Afrika verbied). Hy het ’n skaars kopie in die JS Gericke-Biblioteek, US, gevind en met ’n voorwoord en inleiding in Afrikaans en Engels in Oktober 2008 by Cederberg Publishers in Kaapstad as Africana heruitgereik. Hy rond tans sy manuskrip af oor die Britse slawebedryf vanaf Elizabeth I tot Alfred Milner vir publikasie in hardeband as Kaap van Slawe. Die beoogde verskyningsdatum is op Erfenisdag 24 September 2011.

Kontak Marthinus van Bart by erfenis@dieburger.com

HIERDIE BLAD STAAN ONDER REDAKTEURSKAP VAN MARTHINUS VAN BART.